Jag saam vir ’n goeie doel

 help-jag-01.jpeg

Adam Tas, Bakkies Botha en Appel (foto verskaf)

Bakkies Botha, Adam Tas en Appel nooi jagters uit om weer vir ’n goeie doel te jag en deur #HelpJag te sorg dat behoeftige kinders en gesinne hierdie winter met lekker wildsvleis bederf kan word.

Margolé Riekert, Solidariteit Helpende Hand se projekorganiseerder, sê met die aanbreek van vanjaar se jagseisoen vier #HelpJag ook sy vierde bestaansjaar. #HelpJag is in 2018 van stapel gestuur weens ’n tekort aan ʼn goeie, goedkoop bron van proteïene vir Helpende Hand se #StopHonger- en Kosblikkie-voedingskema. Meer as 70 ton vleis, ten spyte van moeilike finansiële tye, is tot dusver ontvang en versprei.

“#HelpJag is ’n inisiatief van Helpende Hand wat poog om aan meer as 8 000 behoeftige kleuters en hul gesinne landswyd daagliks ’n voedsame bord kos te voorsien. Vleis is vir die gesinne ’n luuksheid, daarom poog ons om met wildsvleis te sorg dat hulle hierdie broodnodige bron van proteïene op hul borde het,” sê Riekert.

Riekert sê dit is hartverskeurend hoeveel kleuters afhanklik is van ’n ete by die skool as hul primêre ete vir die dag. “Dit is die harde waarheid dat klein liggaampies nie normaal ontwikkel sonder ’n gebalanseerde dieet nie. Dis moeilik om te konsentreer wanneer jy honger is; dis onmoontlik om te presteer terwyl jou magie grom.”

#HelpJag, met die hulp van Wild & Jag/Game & Hunt en sy drie ambassadeurs, Bakkies Botha, Adam Tas en Appel, moedig alle jagters aan om ’n bok of twee aan Helpende Hand te skenk wanneer hulle gaan jag. Helpende Hand betaal vir die verwerking van die vleis voor dit na die behoeftige gesinne versprei word.

Een van die kleuterskole wat in 2020 by #HelpJag gebaat het, is Lekkergoedland in Booysens in die weste van Pretoria.

Engela Potgieter, Lekkergoedland die eienaar en stigter, het daagliks met armoede te doen.

“Ons koop onder meer maandeliks die kos aan met die hulp van Helpende Hand se Kosblikkie-projek. Ons het verlede jaar ook heerlike wildsvleis van Helpende Hand se #HelpJag-projek ontvang. Ek het al die vleis met lekker speserye in ’n stoompot gegooi en gekook tot die vleis van die been afval. Met die vleis het ons frikkadelle en groot wildpasteie gemaak. Die kinders het dit regtig geniet want hulle het teruggekom vir tweede porsies. So dit sê vir my hulle is mal oor die lekker wildsvleis en dié bederf laat hulle bietjie van die swaarkry vergeet,” sê Potgieter dankbaar.

Elkeen van ons kan ’n rol speel in toekomshoop vir die kinders; of dit nou deur ʼn vleisskenking, donasie of Helpende Hand-lidmaatskap is.

Gaan besoek #HelpJag se webtuiste vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.