Jakaranda-koor het haar lewe verander

Koor

Koala Hüsselmann in ‘n opvoering van “Les Misérables” in 2013. Foto: Verskaf

Koala Hüsselmann (13) ʼn lid van die Jakaranda-kinderkoor, wil met haar hele hart saam met haar koormaats vanjaar na Europa reis.

Dié bekende koor gaan aan die Alta Pusteria Internasionale koorfees in Italië deelneem, maar Koala se ma, Runhild Meyberg-Hüsselmann, sê sy kan dié toer nie met haar salaris alleen bekostig nie. “Baie maatskappye in Suid-Afrika maak vrygewige skenkings, maar nie vir ʼn Afrikaans-Duits-Engelse meisie nie en nie vir ʼn kulturele doel nie.”

Runhild sê dit gaan raap-en-skraap op die oomblik en sy doen alles in haar vermoë om Koala se drome te bewaarheid. “Ek sing by geleenthede om geld in te samel en ek is ook betrokke by die koor se fondsinsamelingsaktiwiteite.” Sy het reeds R12 500 ingesamel en kort nog R24 000.

Dié ma is vasberade om haar kind oorsee te stuur, want sy meen haar dogter se lewe het ten goede verander vandat sy by die koor aangesluit het.

Koala het eers vir ʼn paar jaar tuisonderrig ontvang omdat haar skoolloopbaan moeilik begin het. Runhild het gevoel haar kind het sosiale interaksie met ander kinders nodig en koor het na ʼn goeie opsie gelyk. “Aan die einde van graad drie was haar selfbeeld so swak, maar vandat sy lid van die koor geword het, het sy net begin blom. Skielik het sy agterkom sy is iets werd en sy kan tog iets goed doen.”

Die koor se invloed op Koala is duidelik, want sy praat met soveel passie oor haar ondervinding as koorlid. “Daar is baie kinders wat saam met jou sing en die musiek is wonderlik. Ons is soos ʼn groot familie!”

Koala is nou in graad sewe en is na slegs ʼn jaar en ʼn half in haar nuwe skool, Laerskool Queenwood in Pretoria, as onderhoofmeisie verkies. “Haar deelname aan die koor het ʼn groot impak op haar hele lewe en ontwikkeling gehad,” sê Runhild.

Dit is Koala se laaste jaar as lid van die Jakaranda-koor omdat sy volgende jaar hoërskool toe gaan. Sy sê sy wil so graag haar laaste jaar saam met haar vriende op ʼn hoë noot afsluit. “Ons oefen baie hard, maar ek geniet dit om nuwe musiek te leer en saam met almal te sing.”

Stuur gerus vir Runhild ʼn e-pos by [email protected] as jy Koala wil ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.