James Small – vreesloos verby

James Small. Argieffoto.

Deur Pierre Massyn

Dit was sy plig om Jonah Lomu in toom te hou – daardie gevreesde kolos van 128 kilogram wat verwoesting gesaai het tydens die Wêreldbeker in Suid-Afrika. Maar James Small het nie ’n bang haar op sy kop gehad nie. Hy het die skaal op ’n skamele 88 kilogram getrap, maar daardie dag op Ellispark wyk hierdie gebore Kapenaar nie ’n duim voor die aanstormende All Black-kolos nie… en sy heldhaftige verdediging help die Bokke om die William Webb Ellis-trofee in Suid-Afrika te kom staanmaak. Lomu kon in sy toetsloopbaan nie ’n enkele drie teen Suid-Afrika aanteken nie en Small het deurentyd volhard dat om die All Black-monster daardie dag drieloos te hou, sy grootste prestasie was. En hy wat James is, het darem 20 drieë in sy 47 toetse gedruk.

En nou het James Small op die ouderdom van skaars 50 weggeval – soos vyf ander hooffigure van daardie dramatiese dag op 24 Junie 1995: Joost van der Westhuizen, Ruben Kruger, Jonah Lomu self en Nelson Mandela.

Mandela het ’n spesiale plekkie in sy hart vir Small gehad en dis geen geheim dat hy Small help motiveer het om Lomu te tem nie. “Bushy” (kort vir Bushbuck, die bynaam wat sy ma hom gegee het) was nie bang vir pyn nie, nie eens om sy eie bloed te aanskou nie.

In 1995 woon die uwe die Bokke se oefening by Megawatpark by voor hul halfeindstryd teen Frankryk – die reëntoets in Durban. Small kla steen en been oor sy seer dyspier wat hom las gee. Maar ingee? Aikona!

Small het nie altyd die krediet gekry wat hy verdien het nie, want Suid-Afrika kon netsowel daardie toets verloor het: die Franse bul-voorspeler Abdelatif Benazzi duik in die doodsnikke vir die Bok-lyn, maar James Small stuit die vlieeënde Fransman letterlik op die doellyn en Suid-Afrika wen die toets en bespreek hul plek in die eindstryd teen Nieu-Seeland.

In elke toets waarin hy speel, gee hy alles. Hy was moontlik een van die passievolste spelers in ’n groen-en-goud-trui wat ooit ’n rugbyveld betree het. Ek het hom die eerste keer sien speel op Ellispark in 1992 teen ons aartsvyand, Nieu-Seeland – ons eerste toets sedert ons hertoetrede tot die internasionale arena. Dié toets toe “Koning Louis” (Luyt), grootbaas van Ellispark en Transvaal-rugby, die skare “Die Stem” laat sing het en die ANC byna die piep daaroor gekry het. Die trane het daardie dag geloop soos ons gesing het… En vlak voor my laat val James Small ’n bal met die spreekwoordelike doellyn oop voor hom. Dit was die enigste fout wat ek hom ooit op ’n rugbyveld sien maak het.

Ja, daar was ander foute ook, soos toe hy sarkasties vir die Engelse skeidsregter Ed Morrison hande geklap het ná die soveelste blaps teen die Bokke in Australië in 1993 en waarop Morrison hom summier van die veld gejaag en Small die eerste speler in ons roemryke geskiedenis word wat afgestuur word. Ja, dis dieselfde Morrison wat geweier het om ’n skoon drie deur Ruben Kruger teen die All Blacks in die 1995-eindstryd toe te ken.

James Small speel sy laaste toets teen Skotland in 1997, en druk twee drieë toe die Springbokke Skotland op Murrayfield met 68-10 lóóp. Hy was ewe tuis op heelagter en op 10 Augustus 1996 dra hy die nommer 15-trui teen Nieu-Seeland op Nuweland.

Behalwe vir sy optredes op internasionale vlak, verteenwoordig hy ook Transvaal, Natal en Westelike Provinsie.

James Terence Small word nie om dowe neute die “stout seun” van Suid-Afrikaanse rugby genoem nie. Die Afrikaanse woord “hardegat” pas hom soos ’n handskoen. Hy het sy afrigters grys hare gegee en breiers soos Kitch Christie moes mooi met hom werk om hom te dissiplineer. Op ’n kol word hy selfs uit die nasionale rugbyspan gelaat. Wêreldbeker-wenafriger Christie het nie geskroom om Small met die Vrystater Chris Badenhorst* te vervang vir die tweede toets teen Argentinië op Ellispark op 15 Oktober 1994, ná Small se eskapades in ’n nagklub in Port Elizabeth ná die Boksege in die vorige toets op 8 Oktober nie.[1]

Wild en rebels was hy wel. Louis Luyt skryf in sy outobiografie hoe hy Small en afrigter Ian Macintosh op die 1994-toer deur Nieu-Seeland op heterdaad betrap het toe hulle ’n bottel whiskey in die spankamer probeer kafdraf het.

As Engelssprekende in ’n sport wat deur Afrikaanssprekendes oorheers was, het hy dit soms hotagter gekry, en is hy dermate só geborsel dat sy pa ’n aanrandingsaak teen sy medespelers wou maak. Maar aan sy toegewydheid kon nie die gehardste Transvaal- en Springbok-ondersteuner nooit twyfel nie.

Die rugbybroederskap is in rou gedompel. Die huldeblyke stroom in. En daar ís so ’n ding soos broederskap in rugby. Kort voor sy afsterwe op 18 November 2015 kom groet Jonah Lomu spesiaal vir Joost van der Westhuizen, een van die groot helde van die Bok-klas van 1995 wat sy pale vir hom gelig het. Dit is ʼn goeie voorbeeld van die respek wat rugby meebring.

Maar stellig die mees beskrywende kompliment vir hierdie dapper regtervleuel met sy een toets as heelagter, kom uit die mond van daardie grootste van rugbykommentators, Bill McLaren. McLaren het Small beskryf as “ ’n speler wat oor doringdraad vir daardie Springboktrui sal loop”.

Tot siens, ou Grote.

  • Pierre Francois Massyn is die skrywer van Springbok-rugbyvasvra.

 Voetnoot:

  • [1] Small het inderdaad ’n voorliefde vir nagklubs, motorfietse en mooi vrouens gehad. Die paparazzi het baljaar oor sy verhouding met die model Christina Storm. Volgens Jonathan Kaplan (een van ons beste skeidsregters en [soos Max Baise] ’n Jood [sien Maroela Media, 19 Oktober 2018] was hy bitter moeilik op die veld, maar een van die aangenaamste van die veld af. Iemand soos Morné du Plessis, waarskynlik ons suksesvolste kaptein met 13 oorwinnings uit 15 toetse, was soos ’n vaderfiguur vir James en die ander Bokke in 1995, en het geweet hoe om die beste uit hierdie borselkop met sy groot glimlag te kry.
  • *Badenhorst, van die destydse Suidwes-Afrika, het sy insluiting deeglik regverdig en twee drieë in die toets gedruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Martie ·

James was ;n bad boy. Almal het dit geweet. Hoekom was dit nodig om dit op lamppale uit te basuin waar hy dood is??? Maroela die berig is nice dankie vir julle.

Deloris ·

Tipies media moet altyd iets negatief se of uoitbasuin. Wonder hoekom het die media nie vroeer uitgebasuin hy kuier in nagklubs nie, altyd die lelikste goed te se waneer iemand klaar dood is.

Meester ·

James, rus in vrede, ons is lief vir jou, jy het ons gewys wat dit is om nie bang te wees nie. En Rapport, julle gaan sekerlik lesers verloor. Dit was nie die tyd of plek om sensasie te soek nie. Cheers James ons gas jou mis!

Ida Kriel ·

Baie dankie vir hierdie artikel van James Small. As “bad boy” het jul meer gekonsentreer op sy beter eienskappe en meer menslikheid betoon met die afsterwe van James. Ek koop nie Rapport nie, want ek kan blatante sensasie nie hanteer nie. Daar moet tog gedink word aan die geliefdes soos sy dogter wat juis op hierdie oomblik nie nodig het om afbrekende dinge oor haar Pa te lees of te hoor nie. Gun sy geliefdes die nodige respek om te rou sonder negatiewe gevoelens wat seer maak. RIV James. Ek sal jou gutsy persoonlikheid en jou lus vir die lewe onthou.

Susan ·

Baie dankie vir die mooi skrywe oor James.
Hy was nou eenmaal ‘n legend & ongeag wie watter kwyt raak van hom SAL hy nog steeds ‘n legend bly !!!

Die uurglas loop eventually vir almal uit… Sterkte aan Ruby & James se familie. ????

MCS ·

Hoe snaaks dat God ‘n mense se sondes vergeet en vergewe en dit nooit ooit weer voor jou deur sal kom lê nie maar nietige sondige mense is so ongenaakbaar en haal ‘n persoon se foute keer op keer op. Nee wat Rapport, Sensasie tenkoste van sy familie is werklik in swak smaak.

Mands ·

Absoluut, dat Joernaliste genot daaruit put vir sensasie om hul koerant te verkoop deur net die sleg van mense te skryf. Regtig?? Daar kom dalk ‘n dag wat ‘n ander Joernalis van JOU ook sulke onsmaaklikhede gaan skryf en sal die bordjies verhang word. Dankie Pierre Massyn dat JY James Small se naam in ere herstel omdat jy weet wie en wat hy was. RIV JS.

VanAfrika ·

Hy was nie eintlik n favourite by my nie, veral met sy dinge met Christina maar hey ek het altyd respek vir iemand wat uit dit uit opstaan en dan op die ou einde van die dag vir ons laat weet dat “I am not the bad boy anymore” sy woorde in 2009. Mag jy nou in vrede rus James, jy het jou stryd gestry en op die einde van die dag het jy ook iets goeds daaruit gewen. Jy sal vir baie lank goed onthou word vir die held en sportsman wat jy was. Jou goeie sal die kritiesie op hul neuse laat kyk want die slegte oorwin nooit die goeie nie. Jy het reg gekry wat hulle nooit kon of sal regkry nie, jy het die wêreld beker gewen.

DewaldS ·

Dankie MM vir ‘n mooi berig oor ‘n legende (wat in elk geval meer vermag het n sy lewe as die nuttelose hoernaliste wat in die ander Afrikaanse media probeer ndag trek deur oor sy stoutighede te skryf asof dit al is wat daar oor James te sê is).

Sonia ·

Baie dankie vir die positiewe berig. Dis wat ons nodig het – nie om net nog sleg op sleg te laat ophoop nie.

Kokkie ·

Te oordeel na die lofliedere wat nou aangehef word vir James Small, is ek geneig om vir al ons skool- en jong rugbyspelers te sê : ‘ hy was die volmaakte rolmodel vir jong spelers, op en van die veld af. Volg sy voorbeeld en julle sal eendag daar oor geloof word.’

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.