Japie die kantoorbrak gee tien blawwe vir honde-restaurant

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Om ʼn kantoorbrak te wees sit nie sommer in enige hond se pels nie. Dit is hárde werk:

Jy moet gereeld stappies saam met kollegas onderneem, want hierdie mense hou vreeslik baie van buite wees – geen hond sal verstaan hoekom nie, die kantoor is mos heerlik koel.

Moenie dink jy kan vir ʼn uur of drie oog toemaak nie; nee, pel, hier moet hond gereeld agter ʼn bal aanhardloop of nes jy insluimer, word jy wakker geskud deur ʼn vryf. Sug.

Ek wil nou nie saggies blaf nie, maar hierdie klomp is nogal suinig ook, hoor. Daar word nooit ʼn krummel lekkerte na my kant gegooi nie. Ek sal so nou en dan ʼn stukkie biltong of droëwors kry, maar dit gebeur bitter selde. Wat moet ʼn hond doen om ʼn bak sjokolade en skyfies in hierdie plek te kry?

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Maar ek kan eintlik nie kla nie, ek weet ek is geroep vir dié beroep en ʼn hond doen wat ʼn hond moet doen. Sug.

Nou die dag was darem lekker gewees. Ek en twee van my kollegas was vir ʼn uitstappie na ʼn plek wat ʼn hond se hart verstaan. Ek is nie seker waar dit was nie, maar dié plek het die lekkerste kos gehad! Ek het my eie spyskaart gehad (wat ʼn nuutjie vir my was). Ek wou alles op die spyskaart bestel, maar my kollegas wou van niks weet nie (ek sê mos hulle is suinig).

Vir hoofgereg het ek ʼn bees-hoender-en-varkvleis-quiche bestel saam met ʼn bak heerlike koue water. Moenie julle bekommer nie, ek is seker my kollega sal nog dié resep met julle deel.

Jy weet, as ʼn hond so onder ʼn koelteboom kan lê met ʼn vol maag, het jy eintlik niks meer nodig nie, maar ons was mos eintlik daar vir werk, so die lê het nie vreeslik lank gehou nie. Ek het ʼn dame daar ontmoet wat toevallig ook saam met ʼn kollega daar was, en geen hond loop mos ʼn goeie netwerkgeleentheid mis nie.

Ons het oor werk gesels en bietjie in die tuin gaan stap – sy was vreeslik aangenaam. En ek gaan nie jok nie, sy was pragtig: ʼn blinkswart pels sal mos enige hond se aandag trek? Sy het selfs haar nagereg met my gedeel: Bevrore vark-, bees- en hoendervleis. Heerlik! My kollega sal beslis dié resep ook deel, ek is seker!

Nou ja, ek wil dit nie ʼn uitgerekte storie maak nie, want ʼn hond het dinge om te doen, veral wanneer jy ʼn kantoorbrak is. Ek beveel hierdie plek aan. Gaan ondersteun die plek. Oukei, ek is nou klaar.

Die plek waarna Japie verwys, is die Daily Coffee Café in Menlopark. Dié restaurant is eintlik vir mense, maar jou hond is baie welkom. Besoek gerus die Daily Coffee Café se webwerf vir meer besonderhede.

Meer oor die skrywer: Japie die kantoorbrak

Japie is Maroela Media se kantoorbrak wat wag hou oor die joernaliste. Japie is baie lief vir peuselhappies, maar nie so mal oor katte nie. Hy is 'n Golden Retriever en het 'n sertifikaat om te bevestig hy het ook skoolgegaan.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vertel my ·

Fantastiese idee, wil net weet as ek met my Yorkie daar opdaag of die honde nie gaan veg nie? Hoe beheer mens die pragdiere?

Japie die Kantoorbrak ·

Dagsê Vertel my!
Ons was op ‘n stil weeksdag daar, toe het die mense van die restaurant my kollegas toestemming gegee om my leiband af te haal sodat ek lekker kan rondhol. Normaalweg is daar ‘n reël wat sê ons honde moet aan leibande wees om bakleiery te voorkom. Maar eintlik is ons honde in elk geval meer bek as binnegoed – ons blaf vir mekaar, maar as ons by mekaar uitkom, sal ons eerder speel as om te baklei. Probeer bietjie!
Groetnis
Japie die Kantoorbrak

Jorie ·

Ek het ook n Golden Retriever. Die hond het die mooiste geaardheid. Mal oor mense en honde en veral vir kos. Lief vir almal. Maar ai, hy verloor alle selfbeheersing as hy iemand sien – so bly is hy. Ek wonder altyd hoe kry hulle dit reg om van n Golden n gidshond te maak.

Paul ·

Absolute mors van geld en kos.

‘n Hond is ewe bly oor ‘n bak gewone maalvleis as oor ‘n “quiche”.

Hierdie tipe plek is nie vir honde nie, dis vir die eienaars wat beter oor hulself wil voel.

Celia ·

Hi Maroela! Lekker om julle pragtige kantoorbrak te ontmoet en dankie vir die lekker storie! Ekt n worsie (10) bly in die Kaap en wens ek kon hom na die eetplek vat! Hier is ook plekke waar diere toegelaat word en ek vat my hondekind altyd saam! Nou nie n special menu nie, sommer onder die tafel van my kaaskoek, hoekom nie!Basta met Paul! Los ons uit ons geniet ons dierekinders wat hule lewens vir ons gee!.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.