Jessie die skaaphond ‘vang graad’ by NWU

Esté Matthew en Jessie die skaaphond Foto: Verskaf

Esté Matthew en Jessie die skaaphond Foto: Verskaf

Jessie die skaaphond, Suid-Afrika se eerste en enigste hond wat ooit deel was van ʼn meestersgraadprojek, het saam met haar eienaar graad gevang by die Noordwes-Universiteit.

Esté Matthew, Jessie se eienaar, het haar opgelei as ʼn snuffelhond om padda-reuke ondergronds op te spoor vir navorsing- en bewaringsdoeleindes. Esté het pas haar meestersgraad (MSc) ontvang vir haar tesis, “The use of a sniffer dog for amphibian conservation ecology”.

Johan van Zyl, kommunikasiebeampte van die Noordwes-Universiteit, het gesê Jessie se opleiding het reeds begin toe sy ses maande oud was. “Sy is geleer om die reuk van die grootbrulpadda onder die grond uit te ken. Dié padda is ʼn beskermde spesie in Gauteng, aangesien sy habitat geleidelik weens verstedeliking begin krimp,” het hy verduidelik. “Haar opleiding het in 2014 begin en sy het haar eerste wilde brulpadda in Desember 2014 bo die grond opgespoor. Sy het sowat ses maande later die eerste een ondergronds opgespoor.”

Die brulpadda hiberneer vir tot elf maande van die jaar ondergronds en is slegs vir sowat ʼn maand, gedurende November en Desember, bo die grond om te broei en eiers te lê. “Daarom is dit uiters moeilik om die brulpadda vir die res van die jaar op te spoor en dit is veral ʼn probleem met nuwe ontwikkeling langs gunstige broei-gebiede van die brulpadda,” het Esté verduidelik.

Sy het haar sukses toegeskryf aan die groot rol wat haar haar studieleier, prof. Ché Weldon, in die beplanning en opleiding van Jessie gespeel het. “Jessie se opleiding is op ʼn wetenskaplike, betroubare wyse gedoen en dieselfde toets is tot veertig keer vir ʼn betroubare resultaat,” het van Zyl bygevoeg.

Jessie se ouers is werkhonde op ʼn skaapplaas naby Bloemfontein. Sy moes gedurende Esté se studie by ʼn vriendin van Esté woon, aangesien Esté in die koshuis was en Jessie nie by haar kon bly nie.

Esté is onlangs deur die Endangered Wildlife Trust (EWT) aangestel, waar sy sal help met die bewaringsprogram vir die krities bedreigde oewerkonyn (Bunolagus monticularis). Sy neem vir Jessie saam en sal haar moontlik gebruik om te help met die navorsing en bewaring van die konyne.

Esté sê die EWT het ook ʼn program vir bedreigde Amphibia, waarvoor Jessie se neus ook ingespan gaan word.

eNuus het in April 2014 dié video op YouTube gelaai. Kyk eNuus elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Leonie ·

Baie geluk Este en Jessie! Welgedaan!
So lekker om “goedvoel” stories te lees. Dankie Maroela!

johann cb ·

Ek glo nie sy was die eerste hond wat grand gevang het nie. Daar was onlangs in Port Elizabeth ook ‘n man en sy hond wat dieselfde vermag het.

Anie ·

Veels geluk Jessie, ons hoop jou kleinkinders is eendag trots op jou!

Sonja ·

Ag maar dis nou oulik! Net nog ‘n rede hoekom ek trots is om op die Puk te wees!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.