Jesus se hande

hande-uitreik

Foto: Cristian Martinez Nieto/Pexels.com

Phillip Yancey vertel in sy boek, Where is God when it hurts, die verhaal van ’n merkwaardige preek voor ’n besondere gemeente.

Die prediker was die briljante handchirurg dr. Paul Brand wat sy lewe gewy het aan die mediese versorging van armes in Indië en Louisiana, VSA. Die gemeente was ’n groep melaatses in ’n hospitaal in Indië.

Een aand het dr. Brand sy pasiënte in die vierkant van die hospitaal aangetref waar hulle gedemp sit en gesels het. By die meeste van hulle was melaatsheid al ver gevorder. Hulle gesigte was verwronge, die vel weggevreet en by baie het vingers en tone makeer. Dr. Brand het hulle stil staan en bekyk, veral hulle hande, waarvan die meeste kromgetrek was in die berugte melaatse klou.

Toe die melaatses daarvan bewus word dat dr. Brand na hulle hande staar, het hulle skaam geword. Sommige het hulle hande agter los klere probeer versteek. Ander het op hulle hande probeer sit of dit agter hulle rug gehou sodat die dokter nie daarna kan kyk nie.

Moenie julle hande vir my wegsteek nie, het dr. Brand gevra. Ek hou van hande. Ek hou daarvan om met hande te werk. Wanneer ek mense die eerste keer ontmoet, bekyk ek hulle hande goed, want daaruit kan ek baie van ’n persoon aflei. Die hardheid, die naels, die eelte gee vir my ’n goeie aanduiding van ’n persoon se karakter en beroep.

Die melaatse gemeente het stil gesit en luister. Ek wens ek kon die hande van die opgestane Christus sien. Verwonde hande. Verminkte hande. Steeds die hande van ’n man vol van liefde en genade. Genesende hande vol teerheid.

Het julle al daaraan gedink, vra dr. Brand, dat Jesus eens ook klein en lomp handjies gehad het. Die klein en lomp handjies van ’n baba wat sy vuisies kou, met sy handjies in die lug speel en sy ma se vinger vasgryp.

Toe hy groter word, was hy saam met sy pa ’n skrynwerker en timmerman van die dorp. Hoe sou Jesus se hande toe gelyk het? Dalk vol splinters? Dalk met ’n bloedblaas of ’n gebreekte nael? Geharde werkershande wat ’n saag stewig kon vashou en ’n hamer sekuur kon kap.

Hierdie hande het hy later saggies op siekes gelê, melaatses aangeraak sonder om Hom te steur aan die wet wat sê dit maak hom onrein. Hy het sy vingers in die oor van ’n dowe man gesteek en gesê: Gaan oop! Hy het spoeg en modder in sy handpalm gemeng en aan die oë van ’n blinde man gesmeer. Hy het die hande van kreupeles vasgegryp en hulle opgetrek om te loop. Hy het sy hande op klein kindertjies gelê en gesê die koninkryk van God behoort aan hulle.

Op ’n dag, gaan dr. Brand voort, terwyl elke melaatse vasgenael na hom luister, is daardie hande geboei en hulle het Hom weggelei om ter dood veroordeel te word. Op Golgota is daardie wonderlike hande oopgesper en spykers daardeur geslaan.

Baie kundiges vermoed dat die spykers deur Jesus se polse geslaan is, maar dr. Brand verduidelik aan die gemeente dat hy oortuig was dat die spykers deur die handpalm geslaan is. Die middel van die hand is die sentrum van senuwees en bloedvate wat die breinsentrum van die hand laat funksioneer. Wanneer ’n skerp voorwerp deur die handpalm gedryf word, is die hand kreupel, vermink en sonder gespesialiseerde mediese aandag sal dit inmekaar trek tot ’n klou.

Die melaatses was geskok toe hulle besef Jesus se hande was vermink en soos hulle hande inmekaar getrek. Daaraan het hulle nooit gedink nie.

Dr. Brand het sy preek voortgesit. Julle steek julle hande en wonde vir mense weg omdat julle skaam is vir julle letsels, maar is dit nie besonders dat Jesus met sy wonde uit die graf opgestaan het nie? Hoekom sou die wonder van die opstanding nie sy wonde weggeneem het nie?

Die melaatses het gedink, maar kon nie antwoord nie. Ek dink, antwoord dr. Brand na ’n tydjie, dat Jesus iets van sy aardse lewe saam met Hom na die hemel wou neem, om Hom te herinner aan ons gebrokenheid. Die wonde aan sy hande en voete is die tekens van menslike pyn en lyding. Elke keer as jy seer het, pyn beleef, eensaam is, skaam voel, wil wegkruip, onthou Jesus verstaan. Onthou dat HY in die hemel verwonde en verminkte hande het. Deur Sy wonde het daar genesing vir ons wonde gekom.

Terwyl hy praat, sien dr. Brand hoe die melaatses een vir een hulle hande te voorskyn bring. Toe hy Amen sê, is daar ’n see van hande voor hom. Hande van verwonde en verminkte mense. Stompies hande. Hande sonder vingers. Kloue met kort vingertjies, maar by almal die palms teen mekaar gedruk. ’n Gebaar van uiterste respek in Indië.

Toe Jesus na Sy opstanding skielik aan Sy dissipels verskyn waar hulle in die bovertrek wegkruip, was hulle verward en verskrik. Die dissipels het gedink hulle sien ’n spook en het bang geword. Thomas het getwyfel. Waarom is julle so verskrik? vra Jesus in Lukas 24:37. Dan die troosvolle evangelie vir hulle en vir ons in vers 40: “Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande …”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

mariaan ·

Dankie ,dat Lukas 24 so mooi vir ons verduidelik word. Dankie Jesus dat U vir ons lewe en ons eendag uit hierdie wrede wereld vol haat en moord sal kom verlos en ons verseker kan wees om saam met U in vrede sonder sorge kan lewe.

David Fourie ·

Die verhaal gelees, dit is so soos die skrywer daar sê, Jesus het ook gesê julle sal grootter ding dien as dit, moet net glo, jy moet geloof hê soos ‘n mostert saad, daarom kom laat ons saam bid oor die aangeleentheid dat ons ook die krag sal ontvang om siekes te genees. Almagtige Heilige God ek vra nederig in die naam van U seun Jesus Christus, dat U ons ook die gawe sal skenk om siekes te genees. Amen

Lourene ·

Ons het die gawe reeds ontvang, het Jesus nie gese gaan le jul hande op siekes nie? Soos jy glo so sal dit vir jou wees se die Woord! Amen. Pragtige stuk, wow wow wow, die hande van Jesus! Wow! Deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons het dit reeds ontvang, 2000 jaar gelede. Wat ons daarmee maak hang van ons af…vat ons dit in Jesus Naam of hardloop ons Dr toe.. Gee ons dit vir ander mense deur hande op te le en dankie te se, te glo en vertrou, of los ons dit?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.