Jeugpodsendingreeks takel taboe-onderwerpe

Foto ter illustrasie. (Foto: Will Francis/Unsplash)

Jacaranda FM, sy susterstasie, East Coast Radio, en internasionale uitsaaivennoot Deutsche Welle (DW) glo dis tyd dat die Suid-Afrikaanse jeug nie meer terugdeins vir moeilike gesprekke nie.

Daarom het dié mediavennote vandag ʼn splinternuwe podsendingreeks getiteld Don’t Hold Back begin. Dié reeks wil die jeug wil bystaan in hul selfontdekkingsreis deur onderwerpe soos skuld, geslagsgebaseerde misdaad, toksiese verhoudings en geestesgesondheid in ʼn veilige ruimte aan te pak.

Die podsendingreeks word deur die bekende gesondheidsaktivis Nozibele Qamngana-Mayaba aangebied en is gemik op mense 35 en jonger.

Daar sal maandeliks nuwe episodes op alle groot podsendingplatforms beskikbaar wees waarin Qamngana-Mayaba met vooraanstaande Suid-Afrikaanse denkleiers, aktiviste en beïnvloeders oor relevante en kontroversiële onderwerpe gesels. Elke gas wat aan die reeks deelneem het deur sy of haar beroep of deur persoonlike ervarings betrokkenheid by dié onderwerpe.

Die podsendingreeks word deur die bekende gesondheidsaktivis Nozibele Qamngana-Mayaba aangebied. (Foto: Verskaf)

Luidens ʼn verklaring deur Jacaranda FM het Deutsche Welle in meer as 20 uur se diepgaande onderhoude met Suid-Afrikaanse jeug belê om te sorg vir ʼn eg gebruikergesentreerde benadering. Hierdie internasionale samewerking is ook ʼn eerste van sy soort in Suid-Afrika.

“Die data wat ingesamel is om die podsending te vervaardig het werklik beklemtoon dat stedelike Suid-Afrikaanse jeug dikwels geïsoleer voel in hul kwessies. Don’t Hold Back het ten doel om ʼn klankmetgesel vir die jeug te wees en hulle te help om hul eie pad te vind, maar met werklike staaltjies en raad wat hulle elke maand in die praktyk kan toepas,” sê Deirdre King, besturende direkteur by Jacaranda FM oor die nuwe reeks.

“Kagiso Media (Jacaranda FM en East Coast Radio), met sy baie suksesvolle en gesofistikeerde media-aanbiedinge, is ʼn ideale platforms vir ʼn digitale vennootskap. As ʼn jarelange korrespondent het Suid-Afrika vir my ʼn tweede tuiste geword, so ek is veral bly om die eerste gesamentlike podsending hier in Afrika te begin, waar die pols klop,” voeg Claus Stäcker, direkteur van Deutsche Welle se Afrika-programme by.

Luister na die eerste episode hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.