Jou liefdesverhaal kan ʼn fliek word

Foto: Pixabay

Ná die groot sukses van die Afrikaanse fliek Vir die voëls gaan Huisgenoot en kykNET weer kragte saamsnoer om nóg ʼn ware liefdesverhaal op die grootskerm te vertel – en dié keer kan dit jou verhaal wees.

Vir die voëls, wat die rekords behoorlik laat spat het, het die ware liefdesverhaal van Irma Humpel (vertolk deur Simoné Nortmann) en Sampie de Klerk (deur Francois Jacobs) vertel.

“Huisgenoot en kykNET het besluit om weer saam ʼn fliek te maak – en ʼn leser se ware liefdesverhaal gaan weer as inspirasie daarvoor dien. As dit gekies word, kan jy die ongelooflike ervaring hê om jou eie verhaal op die silwerdoek te sien afspeel,” lui ʼn verklaring van Huisgenoot.

Karen Meiring, direkteur van kykNET-kanale, sê dié kanaal sien daarna uit om nóg ʼn unieke liefdesverhaal na die grootskerm te bring. “kykNET sien baie uit om die inskrywings van lesers te ontvang en weer ʼn ware storie na die silwerskerm te bring. Die vennootskap tussen kykNET en Huisgenoot met Vir die Voëls was ʼn besondere vreugdevolle ervaring,” het sy gesê.

Só werk dit

Die verhaal wat jy inskryf moes werklik met jou gebeur het. Aan die einde van die verhaal moet die held en heldin mekaar vind – maar daar moet tog maar soos in alle verhoudings konflik tussen die twee partye wees. Dit sal ʼn bonus wees as daar komiese dele in die liefdesverhaal is en die verhaal móét ʼn gelukkige einde hê.

Indien jou liefdesverhaal deur die paneel gekies word, word dit deur ʼn opgeleide draaiboekskrywer in ʼn draaiboek omskep.

Om in te skryf, stuur jou unieke verhaal van 3 000 woorde of minder aan [email protected]. Die sluitingsdatum is 15 Januarie 2018.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.