Jou rommel – mý brood

Volition

Elaine Dippenaar en Sharaine Steenberg. Foto: Mia Slabbert

Ek is op pad Sunnyside toe in my kar en raak gefrustreerd oor die reën wat teen my windskerm slaan. Ek sukkel om die pad te sien en die verkeer is rof. Toe ek by die rooi verkeerslig stilhou, sien ek ʼn man wat met ʼn groot vrag rommel verby my loop. Die water stroom oor sy gesig en ek kan sien hy trek swaar. Ek is sommer skaam oor my houding, want ek is warm en gemaklik, maar ek kla steeds.

Mense soos dié man is die hele Pretoria vol – informele herwinners wat kilometers loop om rommel bymekaar te maak en dan te verkoop vir ʼn geldjie. ʼn Liefdadigheidsorganisasie, PEN (wat reeds 24 jaar in die middestad van Pretoria werk), het ʼn geleentheid gesien om hierdie herwinners te bemagtig.

Sharaine Steenberg (31) en Elaine Dippenaar (27) (wat albei eintlik predikante is) het sowat ses maande gelede ʼn projek genaamd Volition begin. Volgens dié jong dames is daar ongeveer 8 000 informele herwinners in Pretoria, en daarom het hulle dit goedgedink om ʼn “Buy back”-sentrum in Sunnyside te begin. Hulle koop rommel by hierdie informele herwinners, herwin die rommel en verkoop dit weer aan groot maatskappye. “Hierdie mense werk ongelooflik hard – party van hulle loop so ver soos die ooste van Pretoria, en hulle trollies is swaar. Ons het laas week ʼn kliënt gehad wie se trollie 280 kg geweeg het.”

Elaine meen dat hierdie mense entrepreneurs uit eie reg is en dat hulle ʼn regverdige kans verdien. “Ons het besef baie van dié mense word verskriklik misbruik – hulle kry nie regverdige pryse nie omdat baie van die “Buy back”-sentrums net op wins fokus. Van ons kliënte maak goeie geld en herwin tot R200 se rommel per dag.” Wit papier en aluminium-blikkies is tans die rommel wat die meeste geld inbring. Op die perseel self skep dié sentrum heeltydse werk vir vyf mense, asook geleentheid vir deeltydse werkers.

Sharaine sê dat die wonderlikste dinge besig is om te gebeur. “Mense wat nooit herwin het nie, is nou besig om rommel bymekaar te maak – hierdie sentrum is besig om ʼn kultuur van herwinning onder hierdie mense te skep.” Elaine en Sharaine sal graag hande met die stadsraad wil vat om hierdie projek te bevorder, maar hulle meen dat dit moeilik is om dié bal aan die rol te kry.

Sy sê ook dat hulle graag mense se houding teenoor dié herwinners wil verander, want daar kleef ʼn lelike stigma aan dié mense. “Mense is dadelik op hul hoede wanneer hulle ʼn persoon sien wat in ʼn asblik krap. Jy dink dadelik hierdie persoon wil jou beroof, maar eintlik is hy besig om jou rommel te herwin. Hierdie ouens begin al 03:00 rommel bymekaar maak en doen dit tot laatmiddag – hulle werk.”

Hoe kan jy help? Doen moeite om rommel soos glas, plastiek en papier apart te hou, maar gooi dit steeds weg. “Hou jou rommel apart deur dit in verskillende sakke te gooi. Deur ʼn bietjie moeite is jy besig om iemand se werk ʼn klein bietjie makliker te maak.”

Besoek gerus PEN se webwerf vir meer inligting oor dié en ander projekte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Theresa B ·

So verarm en vergaan ons land en ons mense terwyl die regering lekker lewe, korrupsie pleeg en vir hul vriende gunsies bewys. Hulle geen nie ‘n vlenter om vir ander nie………………..

m ·

Hierdie regering voel niks vir hulle eie mense wat by die dag verarm nie. Solank hulle net in hoe poste kan sit en duur karre kan ry is die gewone mens op straat nie belangrik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.