Jou wip maak (ander!) seer

sambreel-donker-help-hulp

Foto: @emotional_discord/Unsplash.com

“My liefie, jy moet nét glo. En nét bid. Geen depressie kan die krag van gebed weerstaan nie. Dis nie die Here se wil dat jy só moet voel nie. Dit is die sonde wat jou só laat voel en jy kan kíés om hierdie depressie te oorwin.”

Ek stry nie met dié tannie wat in haar wyse grysheid probeer om my moed in te praat nie. Sy het toevallig gehoor ek was in daardie hospitaal en toe sy my in die apteek gewaar, keer sy my sommer voor. Ek is verleë, want ek het juis my pille kom haal. Dis seker ʼn bewys van my kleingelowigheid. Sy kry dus, soos baie mense met goeie bedoelings, presies die teenoorgestelde reg as wat sy bedoel.

Om bipolêr of ʼn ander gemoedsteuring te hê, daag ʼn mens se geloofslewe uit, maar die oorsaak van dié toestand het weinig met die grootte van jou geloof uit te waai en amper alles met jou lyf te doen. Jou brein, om presies te wees. Maar, jy is reg tannie, daar is baie dinge wat jy steeds elke dag moet kies.

Is daar oorweldigende emosies op die Wipplank? Ja! Is daar oorweldigende angs? Ja! Kan jy dit sommer net afskakel? Nee. Dit is alles waar. Maar wat óók waar is, is dat die Wipplank nie jou praatwerk doen nie. Dit doen nie jou skreeuwerk nie. Dit hap en knou nie jou huismense nie. Dit is jý. Jy kies nie noodwendig jou gevoelens nie. Of hoe intens dit is nie. Jy kies wel jou woorde en jou dade. Die Wipplank kan ongelukkig nooit ʼn verskoning daarvoor wees nie.

Die stryd van ʼn Wipplankryer is ʼn stryd van vlees én gees en die slagveld is in jou kop. Vir baie lank was Sersant Skaamte en Skuldgevoel (Sersant SS) ʼn groot opponent teen wie ek bly stry en verloor het. Hy was ʼn permanente inwoner in my kop. Om hom te ignoreer, het nie gewerk nie en ek kon nie teen hom stry nie.

“Wat as jy hom aan jou kant kry?” vra my sielkundige eendag. “Jy sien hom as jou vyand. Een wat jou sleg laat voel oor jouself. Wat jou soos ʼn mislukking laat voel. Wat as jy vir hom ʼn ander naam en funksie in jou kop gee?”

En só word Sersant SS toe herdoop na Generaal Godgegewe Gewete (oftewel Generaal GG). En hy veg deesdae aan mý kant.

Sersant SS sou my aankla wanneer ek hiper, oorhaastig en ongeduldig is in die opwipfase van bipolêr wees. Generaal GG herinner my nou om eers ʼn oomblik te dink voordat ek my impulsief in ʼn ding begewe of te veel van iemand verwag. Sersant SS sou my ry wanneer ek in my afwipfase se angstigheid begin hap na almal om my. Generaal GG herinner my om op my tande te byt, jammer te sê en nie verskonings te maak vir onaanvaarbare gedrag nie. Hy herinner my om harder te probeer om die geveg binne in my kop nie op my mense te laat oorspoel nie. Sersant SS sou my probeer oortuig ek verdien om te verdwyn. Die wêreld sal beter daaraan toe wees. Generaal GG herinner my dat alleen voel nie dieselfde as alleen wees nie. En dat ek steeds verdien om ondersteun te word. Dat dit minder skadelik is om eerlik te praat oor die irrasionele emosies wat ek ervaar, as om dit met dade los te laat op die mense naaste aan my.

As jy ook die Wipplank ry soos ek, moet jy jouself dalk vandag vra wie die bevelvoerder is wat in jou kop woon? Voel jy meer gereeld dat jy vir alles jammer moet sê? Want dan is Sersant SS waarskynlik in bevel. Of voel jy ʼn stem in jou kop wat ferm, dog ondersteunend help dink voor jy doen?

Paulus, die dinamiese Christenvervolger, later apostel en kerkplanter het ʼn sagte plek in my hart. Teoloë wat verskil, moet maar verskoon, maar ék is oortuig dat hy ʼn kranige Wipplankryer was.

Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ʼn doring in die vlees gegee, ʼn boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. (2 Kor. 12:7 – 9)

Paulus verwys na hoogmoed (die euforie van manie?), ʼn gemoedsgeveg (die Satan wat met sy vuiste slaan) en swakheid (depressie?).

Paulus het nóg ʼn simptoom. Malende gedagtes wat jou met jouself laat worstel. Kyk in Romeine 7.

“Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek…” bely hy.

Hy wonder waar sy slegte dade vandaan kom. Heen en weer. Probeer en misluk. Op en af. Hy probeer uitpluis wat dit is wat hy kan beheer en wat dit is wat buite sy beheer is. Gedagtes só bekend, dit voel asof dit myne kan wees.

Wanneer jy op die Wipplank ry, is die gevaarlikste plek waar jy kán wees, in jou eie kop. Wanneer jy die gedagtes daarbinne ongetem laat rondvlieg. Dit is dán wat die Satan jou met die vuiste bykom deur sý bevelvoerder, Sersant SS. Hy krap jou gedagtes verder deurmekaar. Plant die sade van waardeloosheid en nutteloosheid. En sy doel is om jou te oortuig dat jy nié ʼn keuse het oor jou reaksies nie. Dat jy geregtig is om te doen en sê net wat jy wil.

Maar, liewe Wipplankryer, één ding moet jy onthou. Daar is mense in jou lewe wat jou pyn sien en hartseer is daaroor. Maar jy maak hulle seer. Hulle klou aan jou vas as die opwip met jou wegvlieg. Hulle trek jou op as jy in die gat verdwyn. En heelpad doen hulle kneusplekke op. En dit is jy wat daardie houe uitdeel. Hou op om jouself te probeer bluf dat die Wipplankstryd so eenvoudig is dat jy jouself kan reg dink of reg bid of regruk. Soos met Paulus, verwyder die Here nie altyd die doring nie.

En moet nooit so verwaand wees om te dink dat jou geliefdes jou maar net moet verstaan en laat begaan as jy hulle sleg behandel nie. Maak erns met jou terapie. Kyk na jou liggaam en neem jou medikasie elke dag (Generaal GG kort dalk bietjie steroïde!) Jy is dit aan jouself en jou geliefdes (en ja, ook jou geloofslewe) verskuldig.

My liefste,

Vandag skryf ek vir jou ʼn brief. Want ek sien jy is moeg. En moedeloos.

Want, so hard soos jy ook al probeer, jy kan nie my wippe keer nie. As my man, is jou grootste behoefte om my te beskerm. Dit is jou eerste instink. Moenie so sleg voel nie. Jy is so baie dae die enigste een wat my oortuig kry dat die ek wat ek graag wil wees, steeds iewers hier in my kop is.

Jy het nog altyd my hande styf vasgehou. Getroos. Ondersteun. Jy is altyd daar. My ridder wat my altyd weer kom haal in die donker. Wanneer ek huil vir geen rede nie.
En wanneer ek in woede uitbars sonder dat jy iets gedoen het om dit te verdien.

Ek sien die merke in jou oë. Merke wat ék daar gesit het. Met woordswepe. Afskeepswepe. Onttrekswepe. Dit maak my bekommerd. Begin ek jou dalk saam aftrek na my donker?
Hoe gaan ons die pad kry as jyself in hierdie gat val en nie meer die lig vashou nie?

Ek is jammer dat jy hierdie pad saam met my moet stap. Maar oneindig dankbaar dat jy bereid is
om dit steeds te doen. Elke dag. Dankie dat jy my nie net laat begaan nie, maar my elke dag verantwoordelik hou. Selfs al wil ek nie hoor ek is verkeerd nie. Selfs al kry jy seer.
Dankie dat jy raaksien as ek die donker nie die oorhand laat kry nie. Selfs al is dit net vir ʼn oomblik;
ʼn klein oorwinninkie, sien jy dit raak.

Bowenal dankie dat jy my elke dag daaraan herinner dat daar steeds iemand binne my is
vir wie jy baie lief is. Dat jy haar selfs in my donker raaksien. Al voel ek dikwels ek het haar verloor.

My gemoed mag altyd skommel. Maar dié één ding is vas en seker…

Ek is baie lief vir jou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Magdalena ·

Liewe “Maroela Media” uit my ♥uit DANKIE Vir die deel van saadjies soos hierdie artikel…. Dit Val op die regte grond……?

Nakkie ·

Sjoe, hoe diep tref hierdie woorde. Om te kies hoe jy voel….ek is nie in jou bootjie nie maar ek hoor jou hart. ‘n Mens kan kies.

Lorinda Gerber ·

Ek werk by die grootste, private psigiatriese kliniek in die land. Dankie vir hierdie stuk wat jy geskryf het. Dis pragtig. Ek wens al my pasiënte kon dit lees! Sterkte vir jou. Dit klink vir my jy is op `n goeie wenpad. Dis `n daaglikse stryd en ondersteuningsisteme is uiters belangrik.

Anna ·

Dankie Moira, dat jy verwoord wat so baie beleef maar nie verstaan nie. Die diagnose en die werklikheid is soms werelde van mekaar, veral vir buitestaanders. Ek leef ook saam met my Wipplankie. Hy is my Godsgawe, ons lag saam, bid saam en huil saam. Dankie vir jou liefdesbrief aan jou geliefde, dit laat my weer moed skep vir ons toekoms :;

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.