Jy kan hierdie feesseisoen die lig in ’n kind se wêreld wees

liggies-geskenk-skenk

Foto: Chris Moore/Unsplash.com

Alle kinders het die potensiaal om te kan skyn… soms vat dit net ’n bietjie hoop om dit aan te skakel.

Daar gebeur ook so dikwels ingrypende dinge in Suid Afrika en die res van die wêreld – onluste by plaaslike universiteite, brande, ernstige droogtes in die Kaap en oorstromings of aardbewings op ander plekke.

Die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Noord – met sy 16 onderlinge Sentrums van Hoop – het ook genoeg aan elke dag se krisisse en hande-in-die-hare-oomblikke en… Dan kom daar mense en maak van ’n doodgewone Kerspartytjie vir behoeftige kinders ’n uithalerdag!

“Die CMR Noord se jaarlikse Kersprojek, Laat Daar Lig Wees, is in 2013 gestig en gee aan die publiek ’n geleentheid om lig in kinders se donker omstandighede te laat skyn”’ sê Anja Le Cornu, bemarkingsbestuurder van die organisasie.

“Die idee het by my ontstaan om die tradisionele CMR-Kersgeskenk-inisiatief, meer toeganklik vir almal te maak en veral op ’n digitale of elektroniese platform. Met behulp van ons baie vernuftige span by die mediamaatskappy GoApps, is daar ’n webwerf ontwikkel. Mense kan daar die kinders se werklike hartswense vir Kersfees sien en kies om dit aan te koop, toe te draai en af te lewer by ons. Dit het die gee van geskenke soveel meer persoonlik gemaak en werklik mense se harte geroer om te sien hierdie kinders wens net vir die basiese dinge, soos toiletware of klere. Daar is ook ’n opsie om geld by te dra vir geskenke, partytjies of die lewenslange geskenk van terapie”, sê Anja.

So het dit gebeur dat daar teen 2017 meer as 1 000 kinders se Kerswenslyste vervul is! Dit kon slegs gebeur met behulp van mense daar buite se oop harte en liefdevolle gee-gesindhede.

Hierdie jaar poog die CMR Noord weer om meer as 1 000 kinders se geskenke of hul broodnodige terapiesessies op hierdie manier in te samel. Die feit is dat die organisasie jaarliks sowat R1 miljoen benodig om terapie aan meer as 1 000 getraumatiseerde kinders te bied en hulle ’n kans op ’n gesonde, normale en gelukkige toekoms te bied. Hierdie opsie is ’n geskenk wat lewenslank aanhou.

Een van die CMR Warmbad se maatskaplike werksters (Karin du Toit) skryf hierdie mooi storie na aanleiding van verlede jaar se groot sukses met hul Kersprojek en Kerspartytjie:

Rondom die Kersboom lê pragtig toegedraaide geskenke. Ja, oorgenoeg sodat ons so baie kinders se harte kon bly maak. Ná die ete en die Kerssangdiens, het Kersvader opgedaag – natuurlik met sy helper, die klein elf.

Een vir een is die kinders se name uitgeroep. Die afwagting op die gesiggies was duidelik leesbaar. Een dogtertjie uit ’n baie arm gesin het gou haar geskenk gekry. Sy was in ekstase, maar niemand was toegelaat om haar babapop uit die boks los te wikkel nie – sy wou dit net eers teen haar rietskraal lyfie vashou, só in die verpakking. Die boetie en ander sussies en hul pa (reggemaak vir die geleentheid, met ’n swierig gejelde kuif) het skoon laer getrek sommer digby Kersvader, sodat hulle mooi kon hoor as hul name uitgeroep word.

ʼn Mooi, donkerkopmeisie hardloop na die maatskaplike werker toe, “Tannie, ek is skatryk!” Sy hou die smuktassie triomfantlik bokant haar kop en gee so paar danspassies. Dít is mos vreugde!

Terwyl Kersvader geskenke uitdeel, sien jy oral in die saal seuntjies (met boudjies omhoog) hul “grote trokke” stoot.

Die elfjarige dogter met die verstandsvermoë van ’n vyfjarige, kom aangestap met haar arm uitgestrek – om tog net haar mooi horlosie te wys.

Die jong verwaarloosde vroutjie lag breed, met so ’n tandjie of twee kwyt, oor wat Kersvader vir haar baby gebring het.

En later, heelwat later, as alles opgeruim is en sommige mense weer afgelaai is, gaan staan ons (die personeel van die CMR Warmbad) ’n oomblik stil en dink… Ons dink hoe geseënd ons is. Ons dink aan u en die vers waar ons Vader sê: “In hoeverre jy dit aan die geringstes doen, het jy dit aan My gedoen”.

  • Besoek gerus die webwerf www.givehope.co.za om ’n kind(ers) se wens(e) te kies en só saam met die CMR Noord lig te bring in die Kersfeestyd wat voorlê.
  • Elke jaar word meer as 1 000 kinders se wense só bewaarheid en partytjies word vir onderlinge sentrums gereël waar die geskenke oorhandig word. As jy of jou maatskappy belangstel om só ʼn partytjie te borg, bel Anja by 012 460 9272 x2

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.