Jy kan in die donker sit óf… jy kan krag in jou dag sit by Solidariteit KragDag!

alternatiewe-energie

Alternatiewe energie is net een van die aspekte van vanjaar se Solidariteit KragDag ekspo. Foto: Hybridsunshine.com

KragDag bydrae

Inwoners van Suid-Afrika ervaar die huidige kragfiasko baie visueel met ligte, rekenaars, ensovoorts, wat eensklaps ophou werk. Daar is egter ook probleme met soortgelyke omvang ten opsigte van veiligheid, onderwys, gesondheidsdienste, voedselproduksie en talle ander bedrywe. Die Solidariteit KragDag ekspo wat op 26 en 27 Junie 2015 net buite Pretoria plaasvind, bied aan mense die geleentheid om ʼn slag te slaan teen hierdie kwesbaarheid. Die ekspo, wat vanjaar vir die sewende keer plaasvind, inspireer jaarliks duisende besoekers met talle selfstandigheidsoplossings.

KragDag maak vanjaar ook geskiedenis deur die eerste ekspo te wees wat sonder die gebruik van enige Eskomkrag aangebied word.

Vanjaar se KragDag ekspo het met 40% gegroei in uitstalomvang vergeleke met verlede jaar. Uitstallings beslaan ʼn oppervlakte van twee hektaar (so groot soos 4 rugbyvelde) met meer as 200 uitstallers en ʼn uitstalwinkelvenster van meer as 1,1 kilometer. Daar is genoeg oplossings vir enige besoeker om te bekyk en met die huidige Eskom fiasco, kan verwag word dat besoekers vanjaar in hulle duisende na die ekspo sal stroom.

KragDag se leuse is “Doen jou eie ding!” en fokus op idees en oplossings om self- en onderlinge versorging in ʼn gemeenskap moontlik te maak op ʼn manier wat wegdoen met afhanklikheid van staatsondersteunde verspreidingsnetwerke, terwyl veral aandag gegee word aan hernubare energie en aanverwante aangeleenthede. Besoekers kan verwag om enigiets hier te vind om ʼn stap te gee in die rigting van selfstandige en vrye voorsiening van energie – van die aanskaf van ʼn LED gloeilamp tot groot geïntegreerde stelsels wat jou totaal onafhanklik van die netwerk maak. Daar word egter ook voorsiening gemaak vir ander aspekte wat ʼn lewe van selfbehoud moontlik maak.

KragDag verskaf ʼn platform vir produkbekendstellings en opvoedkundige inligting oor alternatiewe lewenstyloplossings. Klem word veral gelê op volhoubaarheid, energievriendelike konstruksiemetodes, waterontginning en -hantering, veiligheid, voedselproduksie, nuwe tegnologie wat jou lewe kan verander, doen-dit-self oplossings en ekonomiese en finansiële vryheidsmodelle. Verder dien dit ook as ʼn teelaarde vir entrepreneurs en is daar boonop ʼn opvoedkunde sub-ekspo wat in samewerking met die Vereniging vir Tuisonderwys gehou word.

Met toeligting en demonstrasies sal besoekers die geleentheid hê om inligting te bekom en beter toegerus te word om die regte besluite te neem. Tydens die Ekspo, op beide dae, word ʼn seminaar teen ʼn nominale fooi aangebied om die publiek toe te rus met die nodige kennis om ingeligte besluite oor die implementering van energieselfstandige oplossings te maak.

By die Ekspo heers ʼn gees van opgewondenheid oor die moontlikhede wat die nuwe tegnologie bied en is daar ook verskeie kompetisies ten opsigte van innoverende idees, vaardigheid en entrepreneurskap. Die feestelikheid van die dag bly egter nie agterweë nie en besoekers kan uitsien na ʼn karnaval atmosfeer met ʼn pretpark, helikopter vlugte, perderitte, ʼn bier- en kuiertuin, ʼn amfiteater en ʼn reuse verskeidenheid eet- en drinkgoed. ʼn Gelukkige besoeker kan selfs ʼn draagbare sonpaneelstel wen.

Hoogtepunte sluit in die bekendstelling van Solidariteit se energieselfstandigheidshandleiding by Vrydag se seminaar, Dr Dirk Hermann se optrede as gasspreker, die bekendstelling van ʼn kragnoodplan en selfs ʼn band-omdop wêreldrekord poging. Besoekers sal ook die geleentheid kry om die petisie te teken wat gerig is aan die minister van energie wat dit duidelik maak dat mense die Vryheid moet hê om krag op te wek, te versprei en te verkoop sodat elkeen wat wil, sy buurman en die land kan help met energieverskaffing. As demonstrasie van burgerlike verset teen die huidige statutêre raamwerk, verkoop Kragdag dan ook krag wat by die ekspo opgewek word aan uitstallers wat krag benodig.

Die ekspo poog om ʼn baie waardevolle en praktiese bydrae te lewer en jy kan gerus jou elektrisiteitsrekening saambring en by die Inligtingstent gaan raad vra oor ʼn stelsel vir jou behoeftes en die koste daarvan.

Besoekers wat vooraf registreer kry gratis toegang tot die ekspo.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Winston ·

Al jare op sonkrag. Kamp ook met sonkrag waar niks is nie. Geen ongerief nie. Kyk gerus die KragDag. Jy gaan nooit spyt wees nie. Dis minder ingewikkeld as wat baie mense dink.

Peet Schabort ·

Ek verneem die nuutjie nou is om sonpanele te steel.
Ai, Afrika darem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.