Jy sterk verslaafdes in hul kwaad, wys dokumentêr

Bedelaars

Foto: Adéle Changuion

Solidariteit Helpende Hand het Donderdag ʼn film bekendgestel wat die skokkende verhaal van dwelmverslaafdes vertel as deel van die geeReg-veldtog, ʼn nasionale bewusmakings-poging van Helpende Hand oor hoe die publiek ʼn beter belegging in die verligting van armoede kan maak deur “reg te gee”.

In “Bedwelmd” word met verslaafdes en gerehabiliteerde verslaafdes gesels om te hoor hoe hulle in dié web beland het. Elkeen vertel dat hulle hul verslawing aan die gang gehou het met die geld wat hulle van mense gekry het. “Ek het elke dag by die verkeerslig gestaan en bedel vir geld om dwelms mee te koop,” sê Nico, ʼn gerehabiliteerde verslaafde.

In ’n onlangse kwalitatiewe navorsingstudie deur Solidariteit Helpende Hand, het respondente gemeld dat 90% van blanke bedelaars op straat die geld wat hulle van die publiek ontvang, gebruik om hul dwelmgewoontes te onderhou. “Mense wat by verkeersligte staan en bedel is baie slim – hulle weet hoe om mense te manipuleer. Jy voel jy moet iets vir hulle gee, anders voel jy skuldig. Mense moet besef jy is besig om daardie mens vinniger graf toe te stuur,” sê De Wet Potgieter, ondersoekende joernalis wat betrokke was by die produksie van die film.

Dié film wys ook die gevolge van verslawing op gesinne en hoe dit ʼn familie uitmekaar kan skeur. “Ek en my vrou het nie meer ʼn lewe nie, want ons bekommer ons die heeltyd oor ons seun,” sê Gideon, ʼn pa wat sy hart oopgemaak het oor sy seun se verslawing. In ʼn onderhoud met Maroela Media het dié ouers vertel hul seun is nou vier maande skoon, wat mens hoop gee dat verslawing oorkom kan word.

Dr. Danie Brink, hoof uitvoerende direkteur van Helpende Hand, sê mense moet eerder geld gee aan organisasies wat verslaafdes help. Hy meen plekke soos kerke of organisasies met ʼn bewese rekord om lewens te verander, is ʼn goeie keuse. “Ons oproep aan die publiek is om REG te gee. Moenie ophou gee nie, maar gee reg.”

“Bedwelmd” is beskikbaar by geereg.co.za. Besoek ook Helpende Hand se webtuiste vir meer besonderhede oor die geeReg-veldtog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Paul ·

“Volgens Helpende Hand se navorsing is 90% van die bedelaars in Suid-Afrika dwelmverslaafdes.” ???

Dis eenvoudig nie waar nie. Helpende Hand se navorsingsverslag word slegs een persoon (wat by ‘n dwelmrehabilitasiesentrum is) aangehaal wat sommer so uit die vuis (sonder enige navorsing daaragter) sê dat tot 90% van die wit bedelaars aan dwelms verslaaf is.

Om te spring van een mens wat aanvoer dat “tot 90%” van “wit bedelaars” aan dwelms verslaaf is tot by ‘n stelling dat Helpende Hand “bewys” het dat 90% van alle bedelaars in Suid-Afrika aan dwelms verslaaf is, is absoluut onverantwoordelik en onverdedigbaar!

Dit sou dieselfde wees as om vir ‘n kroegman te gaan vra en dat sê hy “tot 90% van die mense by die kroeg bestel drank” en dan sê jy dat jy bewys het dat 90% van alle mense in Suid-Afrika alkohol drink.

Adéle Changuion ·

Dagsê Paul,

Baie dankie vir jou kommentaar – ons het die artikel gewysig.
Sien asb Helpende Hand se beskrywing op hul webtuiste:
“In ’n onlangse kwalitatiewe navorsingstudie deur Solidariteit Helpende Hand se het respondente gemeld dat 90% van blanke bedelaars op straat die geld wat hulle van die publiek ontvang, gebruik om hul dwelmgewoontes te onderhou.”

Ons vra om verskoning vir die oorsig.

Groetnis,
Adéle Changuion nms Maroela Media

Help Maar ·

Fine goed en wel dis seker waar. MAAR ek ken `n persoon wat op straat bly – wat nie drugs gebruik nie. Sy het daar beland agv ander se bedrag en nou is haar 2 dogerters (wat bo-nop in pta noord bly) te sleg om vir hulle eie ma te sê “ma kom bly by ons… ek wens so ek kan vir tannie help maar ek help waar ek kan. sy was by ons was haar wasgoed by ons en ek vat gereeld vir haar ietsie te ete en `n warm koffie te drinke. En sy gebruik nie drugs nie – maar dan moet ek ook sê sy het my nog nooit gevra vir hulp of geld nie. Die Here het vir my gesê ek moet haar help…. Dis mense wat die geld misbruik wat die lewe vir ander op staat baie moeilik maak.

joyce ·

‘nMens moet nie so maklik familie van mense wat op straat bly of wat bedel of dwelms gebruik oordeel nie. E k het self so familie lid wat ons al soveel keer probeer help het en ons elke keer net weer en weer onder die bas skop omdat ons te streng is met ons huishouding reels etc etc etc.Sy verkies die soort lewe wat sy tans het maar bly ons blameer vir al haar foute…daar is so baie dinge wat ek nog kan opnoem…sy maak my lewe baie onaangenaam en speel op my gevoelens om haar sin te kry, al verdien ek slegs ‘n minimale sassa pensioen

Jef ·

Ek het n tyd gelede n braaivleis gehou met vriende en familie maar na die tyd het ek baie kos oorgehad en dit in die koelkas gesit.
Die volgende oggend het ek dit verdeel in plastic bakke met deksel op en daarmee na die dorp gegaan om die mense te help wat honger het, tot my verbasing het hulle die kosbakke uit my hande geruk en op die grond gegooi toe word daar gese …..gee ons geld, ons soek nie julle rubbish nie,
Dit was die eerste maar ook die laaste keer wat ek sulke mense help,

Sann ·

Ek dink nie daar hoef te veel oor statistieke geredekawel te word om die punt te verstaan wat Helpende Hand probeer maak nie. Dis ‘n onbetwisbare feit dat daar meer bereik word wanneer barmhartigheidsdiens op ‘n deeglik beplande en gekoördineerde manier gedoen word. Dit verhoed, in ‘n groot mate, dat welwillendes uitgebuit word en veral, dat “hulp” eerder in die afgrond in help. Kerke word gereeld gekritiseer wanneer hulle nie ooglopend, en links en regs haweloses en afvlerkvoëltjies optel nie, maar dis ongelukkig waar omdat daar te veel mense is wat nie meer skaam is om te weier om ‘n eerlike dag se werk te doen wanneer hulle wil eet nie. Dis baie maklik dat enige een van ons op die genade van ander mense aangewese kan raak, en daarom sal ek nooit op so persoon neersien nie. ‘n Mens moet darem ook ‘n tweede kans kan aangryp wanneer jy dit kry,want tweede kanse is bitter skraal. Dink dus liewer mooi voordat jy volgende keer jou beursie oopmaak vir iemand op straat. Ek maak eerder die hande sterk van my kerk se barmhartigheidsorg, Helpende Hand en ook Orania. Ek kyk graag daar hoe mense bemagtig kan word om weer self op die been te kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.