Video: Kaapstad open park vir blindes

Die park vir blindes (Foto: Twitter)

Die park vir blindes (Foto: Twitter)

Kaapstad het Woensdag sy eerste park vir blindes in Bellville geopen. Dié park spog met ʼn unieke ontwerp en spesiale funksies, soos ʼn geurige tuin en ʼn stelsel wat klank eggo om blindes rond te lei.

Die park, tussen Berolstraat en Beromalaan, is binne loopafstand van die Athlone Skool vir Blindes in Bellville.

Vervoer vir Kaapstad (TCT) het die afgelope vyf maande ongeveer R1,1 miljoen van sy begroting gebruik om dié eens sanderige gebied in ʼn park te omskep.

Brett Herron, die stad se burgemeesterskomiteelid vir vervoer, het gesê die park het reeds wyd positiewe reaksie uitgelok. “Leerders van die skool het die park oor die afgelope paar dae besoek om te kyk hoe die toerusting werk. Ander inwoners het net gekom om te sê hoe beindruk hulle is met die ontwikkeling,” het hy gesê.

Die mosaïekmure (Foto: Twitter)

Die mosaïekmure vertel stories wat blindes met hul hande kan lees (Foto: Twitter)

Toegang tot die park is ook vergemaklik, met onder meer ʼn oop ingang, laer randstene en tasbare plaveisel.

“Alle kinders kan in die park kom speel. Die park verskil van ander omdat ons al die elemente van ʼn gewone park geïmplementeer het sodat kinders of blindes die pad na die speelareas kan vind. Die doel hiervan is ook om interaksie met die kinders, wat nie gesiggestremd is nie, te verhoog met dié wat is.”

Die park is onder meer verdeel in meer, maar kleiner, speelareas. ʼn Geurige tuin, met plante soos laventel, wilde knoffel en roosmaryn gaan onder meer help met navigasie. Lae mure is ook aangebring, wat die klanke van stemme of voetstappe gaan ‘eggo’ om blindes te help om te bepaal waar hulle is.

Die mosaïekmure vertel ook stories wat blindes met behulp van hul hande kan lees. Een van die stories is byvoorbeeld hoe bye hul korwe bou en vir die koninginby sorg.

“Ons het ʼn verskeidenheid materiale gebruik om die kinders te lei na ʼn ander speelplek. Daar is ʼn plek met houtspeelgoed, swaaie op ʼn rubbermat om balans te stimuleer en verskeie ander speelgoed waarmee hulle hulself kan besig hou.”

“Ons hoop die park maak ʼn verskil in die lewe van diegene sonder sig en ons is vol vertroue dat hulle dit sal geniet,” het Herron bygevoeg.

Die SAUK het die volgende video-insetsel vervaardig:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

E.K. ·

ABSOLUUT fantasties. Ek was jare gelede by die Botaniese tuine in Durban en het hul toe al ‘n klein stukkie tuin vir blindes gehad en was dit so interessant. Plante met verskillende teksture ens – mens kon dit nie glo. O fditnog bestaan weet ek nie maar dit was vir my ‘n wonderlike idee

CK ·

Dis ‘n wonderlike gebaar. Dankie aan almal wat betrokke was hierby. Dis ‘n pluimpie vir Kaapstad. Klein gebaar wat groot vreugde gaan uitlok.

Lee ·

Dis nou ‘n wonderlike inisitief, en geld konstruktief spandeer en belê.
Dankie aan DA – en stad Kaapstad !
Fantastiese voorbeeld vir AL die res..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.