Kanselleer só jou vastetermynkontrak

kontrak

Foto: Unsplash/Pixabay.com

Verbruikers word goed beskerm teen maatskappye wat vastetermynkontrakte met hulle wil sluit, maar baie verbruikers kla steeds dat hulle nie vastetermynkontrakte, soos dié vir selfoondienste, satellietopsporing vir hul motors en sekuriteitsdienste by hul huise kan kanselleer nie, selfs al het die kontrakte na 24 maande verval.

Verbruikers wat selfoonkontrakte wil kanselleer, loop hulle dikwels in ʼn muur vas. Selfs al verhuis jy na die buiteland waar jy nie die selfoondiens kan gebruik nie, weier selfoondiensverskaffers dikwels om jou kontrak te kanselleer.

Ander verbruikers kla weer veiligheidsmaatskappye weier om hul kontrakte te kanselleer weens swak diens of wanneer hulle verhuis. Nog mense kla dat gimnasiums vereis dat hulle kontrakte teken vir drie jaar om vir ʼn spesiale aanbod te kwalifiseer, al stipuleer die wet dat die kontrak net vir 24 maande mag duur.

Só beskerm die Wet op Verbruikersbeskerming jou

Artikel 14 and regulasie 5 van die Wet beheer die gebruik van vastetermynkontrakte in Suid-Afrika, deur aan te dui hoe lank die kontrak mag wees en hoe ʼn mens te werk moet gaan om dit kanselleer.

Lengte van vastetermynkontrakte

Regulasie 5 van die Wet dui aan dat vastetermynkontrakte net 24 maande lank mag loop, tensy jy instem tot ʼn langer tydperk omdat die verskaffer kan bewys dat dit tot jou finansiële voordeel sal wees om so ʼn kontrak te teken.

Kansellasie van vastetermynkontrakte

Volgens Artikel 14 kan jy ʼn vastetermynkontrak kanselleer wanneer dit verval, sonder om ekstra te betaal, behalwe vir die laaste bedrag verskuldig aan die einde van die kontrak.

Diensverskaffers moet jou binne 40 tot 80 kantoordae voordat jou kontrak verval, op skrif in kennis stel dat die kontrak gaan verval en dit ook duidelik maak of die prys wat jy maandeliks betaal, dieselfde gaan bly indien jy die kontrak hernu. Jy moet ook die opsie kry om met die kontrak voort te gaan op ʼn maand-tot-maand grondslag, onderhewig aan belangrike veranderinge soos prys, tensy jy dit duidelik maak dat jy die kontrak wil kanselleer op die datum waarop dit verval, of instem om die kontrak te hernu vir nog ʼn termyn.

Kansellasie voor die vervaldatum

Die Wet maak daarvoor voorsiening dat jy ʼn vastermynkontrak kan kanselleer voordat dit verval deur die verskaffer 20 dae skriftelik kennis te gee. Die verskaffer kan egter ʼn kansellasiefooi hef vir goedere wat verskaf is, soos ʼn selfoon, dienste verskaf of afslag wat toegeken is tot op die datum van kansellasie. Dit beteken dat, indien jy vooraf betaal het soos vir ʼn gimnasiumkontrak, die verskaffer jou moet terugbetaal vir die dienste en goedere wat jy nog nie ontvang het nie.

Indien jy egter ʼn vastetermynkontrak uitgeneem het toe iemand jou gebel en die kontrak aangebied het en jy nie eers self gebel het om navraag te doen nie, kan jy die kontrak binne vyf dae skriftelik kanselleer sonder enige kansellasieheffing, aangesien die Wet voorsiening maak vir ʼn afkoelperiode van vyf dae vir direkte bemarking.

Kansellasiefooie

Volgens die Wet moet die kansellasiefooi bereken word deur die bedrag wat jy nog skuld in gedagte te hou, sowel as die waarde van die transaksie tot die datum van die kansellasie en die waarde van die goedere, soos ʼn selfoon wat jy ontvang het, die waarde van die goedere wat jy dalk teruggee, soos die gebruikte selfoon, die lengte van die kontrak, jou voordele en nadele, die aard van die goedere of dienste, die lengte van die kennistydperk, die moontlikheid om iemand anders te kry om binne die kennistyd die kontrak oor te neem en die algemene praktyk in die betrokke bedryf.

Die diensverskaffer mag egter nie ʼn kansellasiefooi hef wat dit vir jou onmoontlik sal maak om jou reg tot kansellasie uit te oefen nie. Wanneer jy ʼn vastetermynkontrak sluit, moet die diensverskaffer dit ook duidelik maak dat ʼn kansellasiefooi gehef sal word indien jy kanselleer voordat die kontrak verval.

Die diensverskaffer kan die kontrak kanselleer binne 20 dae nadat hy jou kennis gegee het dat indien jy nie die vasgestelde bedrag betaal of hou by ander terme van die kontrak nie, dit gekanselleer sal word.

Diensverskaffers mag nie kansellasieterme in fynskrif onderaan ʼn kontrak wegsteek nie, aangesien die Wet ook fynskrif en onbillike kontrakterme, veral dié wat vereis dat jy jou regte in terme van die Wet opgee, verbied.

Wanneer is hierdie Wet nie van toepassing nie?

Hierdie artikel in die Wet is nie van toepassing op ooreenkomste tussen maatskappye, tussen individue en banke en konsessies nie en vastetermynbeleggings is ook uitgesluit.

Die Wet op Verbruikersbeskerming verseker dat verbruikers se regte beskerm word, maar dit is verbruikers se plig om toe te sien dat dit wel gebeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JWM ·

Dankie vir die insiggewende berig. Ek het onlangs geleer dat al sluit ek n nuwe selfoonkontrak ipv die een wat na 24 mnde verstryk het, moet die vorige een gekanselleer word anders gaan die maandelikse debietorder steeds voort.

Asjas ·

Kan iemand my asseblief help met inligting? Wat staan my te doen as die Verhuurder kontrak breek en my nou sumier wil uitsmyt omdat ek “dare” vra vir die voordeur se sleutel wat nog nie aan ons oorhandig is nie?
Kontrak geteken op 1 Maart en ons word al klaar gedreig omdat ons graag ‘n deur wil gebruik. Jy betaal mos huur vir die hele perseel en alles wat daarmee saam gaan. Ek is vandag gemaak verstaan dat ek nie die voordeur nodig het nie en maar sonder dit moet klaarkom en toe ek weier word ek sommer gedreig met uitsmyt. Ek kry ook nie my Deposito of Huur terug nie want ek word mos uitgesmyt …
Iemand met regskennis help asseblief?

Francis Linstrom ·

Wat van al hierdie vakansie skemas soos RCI wat nimmereindige konrakte met oningigte mense aangaan. Hoe kan dit beeindig word.

Antoinette ·

Goeie vraag, as jy die antwoord kry laat weet asseblief.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.