Kerkooms (en -tannies) se beheptheid met sinodale beheer

NG-kerk-logo

Foto: Ngkerk.org.za

Oral waar ek kom, wil mense weet wat ek dink van die algemene sinode van die NG Kerk se beslissing dat gemeentes en dominees nou self mag besluit oor gays.

Ek is bly.

Sinodes moet ophou om namens ons almal te wil besluit wat reg en verkeerd is, minder behep wees met beheer. Die kerkreg moet kleiner. Goeie genugtig, ons het die Bybel, die Heilige Gees, mekaar, ’n lang kerkgeskiedenis en ’n enorme klomp teologiese boeke. Het ons nou regtig nog ’n sinode ook nodig?

Alles dui daarop dat die NG Kerk se sinodes minder voorskriftelik gaan wees in die toekoms, en ek dink dis goed. “Control is good, but trust is better!” sê die Engelse spreekwoord.

Sinodes het voorheen te veel te kere gegaan asof hulle God se regsafdeling is.

Daar was ’n tyd toe daar ure lank op sinodesittings namens God se mense besluit moes word oor of die kelkie of die beker by Nagmaal gebruik moet word. Iemand vertel my nou die dag dat hy die groot debat onthou by ’n sinodesitting van die NG Kerk of dans sonde is of nie. Een van die meer liberale ouderlinge het voorgestel dat hulle ten minste moet aandring dat die ligte moet aan wees, want ’n mens dans nie in die donker nie.

Die groot besprekingspunt op ’n sinodesitting in 1987 was of dominees en kerkraadslede nog swart pakke en wit dasse moes dra (om meer soos Jesus te lyk?). ’n Ander keer was dit die toga(?).

Is daar sinodes waar hulle nog stry of vroue vandag hoede kerk toe moet dra, of is dit nou oral uitgeklaar? Ek het nog altyd gewonder hoekom hulle sê “hoede”. Vroue in die antieke tyd het nie hoede gedra nie, hulle het kopdoeke gedra! (Of gee die Here nie regtig om nie, solank Hy tog net nie die vroue se hare kan sien nie?)

Die Gereformeerdes beraadslaag vandag nog elke nou en dan of vroue nie tog maar in die kerk mag praat nie. Die Hervormers het ’n tyd gelede ná lang sinodesittings uiteindelik tot die besluit gekom dat dit verkeerd is om jou broers en susters van ander kulture te verbied om saam met jou te aanbid. Die NG Kerk moes al besluite namens die volk neem oor kwessies soos honderesies en perderesies, bonus-obligasies, Sondagsport . . .

En dit in ’n wêreld wat soos ons s’n lyk. Praat van muggies vang en kamele insluk!

Waar kom die kerk se groot behoefte om te regeer vandaan? Die kerk was nog nooit goed met mag nie.

Belangrike besluite moet in eenheid geneem word, hoor ek nou al een van die sinode-ooms sê (soos die kelkie of beker?). Die probleem is dat die kollektiewe ego by sinodesittings dikwels ongemaklik groot is. Die teologie word maklik net nog ’n magspel – en dit kan maak dat ’n mens sukkel “om dié dinge te onderskei waarop dit werklik neerkom”.

Die Reformasie was ’n reaksie op ’n kerk waar die kerklike tradisie te veel mag gehad het. Ons is weer daar.

Om bogenoemde redes is ek dan bly oor die afgelope algemene sinode se besluit – en omdat ek hou van gays. Al waaroor ek spyt is, is dat hulle nie sommer nog ’n paar wette geskrap het nie. As ons dit een-een gaan doen, kan dit ’n ewigheid duur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Charl Coetzee ·

Sjoe, Jaco. Moontlik mis jy die punt. Reformasie was nie ‘n vraag oor die kerk se mag nie maar hul toepassing van die Woord. Daardeur was die strukture wel bevraagteken maar dit was nie die hoof doel nie. Dit was om te reformeer terug na die ware woord van God toe. Juis hierin lê die teenstrydigheid van jou siening oor “gays”. Die vraag is nie of jy omgee vir jou medemens nie. Die vraag is wat sê God. Adam is geskape en Eva vir Adam. Dit was Adam en Eva, nie Adam en Stephan nie.
Verder vergelyk God die verhouding tussen man en vrou met die verhouding tussen Christus en kerk.
Deel van die reformasie waarvan jy praat is die vraag waaraan herken jy ‘n ware kerk?
1. Suiwer woord verkondiging.
2. Suiwer gebruik van sakramente.
3. Suiwer toepassing van die tug.

Reformasie sê: As jy wil rugby speel doen dit met rugby reëls en nie met sokker reëls nie. Gaan speel dan liewers sokker. Met ander woorde, jy hoef nie ‘n Christen te wees nie, maar as jy is doen dit dan volgens God se woord. Leer die regte reëls, ken die regte reëls, hou by die regte reëls. Dit is wat reformasie is….

Broeder groete

neelsie ·

Dankie Charl,
Dit gaan oor die drie-enige God.
Dit gaan deesdae net oor ” I , me and myself”

Johannes Meintjes ·

Jip, ten opsigte van Bybellees, van voor tot agter, sonder lense wat distories veroorsaak, faal ons sleg – van Sinodevlak tot by kerkbankevlak.

Dawie ·

Goed gestel Jaco. Stem saam. Jy kan maar begin koes ek sien hulle is klaar besig om stapels klippe bymekaar te maak. :-)

korporatiewe sonde ·

moet asb. nie mislei word deur “elke gemeente kan vir hulle self besluit nie”
as die gesag sonde doen – of mede gemeente huwelike bevestig wat nie volgens die
Bybel as maatstaf heilig is nie – deel almal in daardie sonde! mens noem dit korporatiewe sonde
dus is dit valse berusting as jy dink jou gemeente het teen die senode se besluit ‘n besluit
geneem om nie sulke huwelike of erkenning te gee nie- jy is nog steeds deel van en ondergeskik
aan die gesag oor jou!
wees wakker vir hierdie sonde slenter waarmee gemeentes gevang word!
gemeentes moet dit besef en bid en vrag wat die gemeente se pad vorente met of sonder
die gesag oor hulle gaan wees- daarin lê gehoorsaamheid –
Die opdrag wat die Here landswyd vir sy volgelinge gee is – gaan uit –
dit was reeds in sommige gevalle ‘n maand voor die tyd gegee deur Here en is daar gewaarsku
om die ds’e te waarsku – blaas die ramshoring gaan uit!

burger ·

Jaco ,ons het godsdienstigheid ( religion ) geruil vir God . Die voorbeelde waarna jy verwys, getuig van n vae of geen begrip van God , maar getrouheid aan n aardse outoriteit, dit wat God verafsku … Nie moeilik om uit te figure waar dit heen lei nie.

Ons kan die tempels opdress net soos ons wil en dit kan soms baie lyk soos waarheid , maar as mense nie die boodskap van bekering / werdergeborenheid en heiligmaking gaan hoor nie , gaan Calvyn se Roomse wortels ons mense nog lank skade berokken. Om die sonde van die verlede te belei gaan die grootste uitdaging wees , maar net 100% eerlikheid kan hierdie pad verander. Die kerk as instelling moet plek moet plek maak vir Jesus.

anetta ·

Ek is baie bly ek hoord nie meer aan ‘n kerk…1) ek is nie die kerk se eiendom nie. 2) vandag se dominees/pastore….praat net geld…gooi julle Tiendes in die offerbord… Geld was nog nooit n offer nie…(Dit word gebruik om die kerk organasie te verryk…dit word nie bestee aan die arme, die wedewee of die wees nie….) Hulle preek teen die verbond van God. Ek lees my Skrif tuis, hou die sewendag Sabbat soos beveel in die 4de gebod, en nie op die sondag nie….kom sondaars kom, gooi julle, munte, in die bord….bely jou sondes…en word vergewe….maar niemand vertel hulle….van die OU TESTAMENTIESE GOD nie, net van die sogenoemde ‘seun van God.’ Nou ja julle moet lekker Kerk hou.

Jaco Putter ·

Die enigste beginsel wat geld is wat die Here in sy Woord leer en gehoorsaamheid daaraan uit liefde vir Hom en die naaste. Dit gaan nie oor waarvan ek hou of nie. Die kerk moet by die waarheid bly.

Said Boss ·

Met die reformasie het ons verskil met ander opvattings en magte van die kerk, nou verskil ons van onsself, lyk my nou gaan ons deur transformasie en intussen bid ons maar vir vergifnes vir al ons vekeerde interpretasies, heng wanneer gaan ons begin om christene te wees soos GOD ons versoek om te wees.
Los al die politieke korrektheid en konsentreer net op God en sy woord en los al die goeie bybedoelings want dit is weereens die menslike bedoelings en nie God sin nie.
Mag die liefde van God met jul wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.