Kersfees deur ’n ander bril

jesus-is-gebore-02

Foto: Alexas_Fotos-686414/Pixabay.com

Die Kersverhaal is eenvoudig en opreg eerlik, maar ook wonderbaarlik intens, ingewikkeld en kompleks. Dit bring ná meer as 2 000 jaar steeds hoop. Dit verander lewens en laat geen mens onaangeraak nie: heilig en gelooflik, wonderbaarlik en vol hoop. Dit is ’n simbool van rou liefde vir ’n stukkende wêreld. ’n Wêreld wat twee millennia terug reeds op die rand van hopeloosheid gedartel het. En steeds met die een voet uitgelate en salig onbewus oor die afgrond rinkink.

Die Goddelike Geboorte was ’n historiese keerpunt. Dit het die geskiedenis in twee geskeur met die heilige konsepsie, engelesang en ’n prominente ster. Maar tog, eintlik nederig en sonder eiewaan.

Kerskaartjies, -liedere en -tonele skep ’n prentjie van vrede en heiligheid – die toneel in die stal byna gesellig en knus. G’n teken van die benoude gesoek na verblyfplek en die eerste geboortepyne nie. Selfs die Evangelies noem slegs die wesenlike feite en laat na om die leser selfs ’n vlugtige blik op die detail rondom die gebeure te gee.

En soms is dit dalk net nodig om die geboorte van ons Here uit ’n ander hoek te bekyk. Soos T.S. Eliot in 1927 gedoen het. Hy skryf ’n aangrypende gedig waarin hy die Geboorte vanuit die oë van die drie wyse manne beskryf. Dit is langerig en dié wat kans sien, kan hier klik om die volledige gedig, “Journey of the Magi”, te lees – dit is die moeite werd!

Die gedig word gekenmerk deur woorde soos: “Cold coming, worst time of the year, long journey, weather sharp, dead of winter, camels galled, sore-footed, refractory, regretted, camel men cursing and grumbling and running away, lack of shelters, cities hostile, towns unfriendly, hard time, folly.”

Al die woorde is simbolies van die bitter moeilike omstandighede waarin die Verlosser gebore is. Ook van die daaropvolgende vervolging en verwerping waarmee Hy sy lewe lank op aarde gekonfronteer is.

Dalk gee Openbaring 12 ’n meer realistiese prentjie van die stryd, en meer spesifiek die gééstelike stryd, en die “geweld” wat met die Geboorte gepaardgegaan het:

“… geskree van die pyn, want die geboortepyne was daar … ’n groot vuurrooi draak … Hy wou haar kind verslind sodra sy hom in die wêreld bring … Haar kind is egter weggeruk … na die woestyn toe gevlug … oorlog … Migael en sy engele moes oorlog voer teen die draak …”

Vers 2 van “Journey of the Magi” is egter die mees aangrypende vers van die hele gedig. Dit vertel  van die wyse manne se wedergeboorte ná hul ontmoeting met die Heiland – en wie sou nou ooit onaangeraak kon staan? Lees gerus:

All this was a long time ago, I remember,

And I would do it again, but set down

This set down

This: were we led all that way for

Birth or Death? There was a Birth, certainly,            

We had evidence and no doubt. I had seen birth and death,

But had thought they were different; this Birth was

Hard and agony for us, like Death, our death.

We returned to our places, these Kingdoms,

But no longer at ease here, in the old dispensation,

With an alien people clutching their gods.

I should be glad of another death.

Here, gee dat ek in die Kerstyd wat kom deur ’n splinternuwe bril na die Geboorte sal kyk. Plant in my die sade van nuwe waardering vir die laaste offer, die Groot Genade.

 

Meer oor die skrywer: Liezel Lüneburg

Ek is ’n ma. Eerstens. Dit beteken: kok, sieketrooster, huiswerkhulp, tuinwerker, taxi-bestuurder, bewaarder-van-sedes-van-die-kleinspan, taakbouer, dissiplineerder, vrou, gesondheidswerker, huishoudster, bakker, dagboek-op-bene en bidder. Maar ook ’n nie-praktiserende prokureur met ’n LLD-graad in Kinderreg en nou vryskutjoernalis. ’n Goeie boek is onweerstaanbaar. Ek is ewe lief vir internasionale musiek, ’n goeie kunsfliek en die kruietuin langs my lieflike Laeveld-stoep. Kook is ook lekker. En braai. Net nie die gewone braaipraatjies nie...

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.