Kersfees: Laat sy Lig deur die klatergoud skyn

Kersliggies-te-veel

Foto: Sodahead.com

Kersfees is op ons. Die klokke het in Oktober al begin lui en Boney M kielie elke jaar my ore ’n rapsie vroeër. Kersvader sweet met sy katoenbaard en rooi wolle in die Laeveldhitte … En om nie te praat van die kabouters wat jaar ná jaar in die inkoopsentrums staan en speelgoed bou nie. Armpies op en af en op en af. Die koppies links en regs. En tien of 20 kindertjies wat oopmond die “wonderbaarlikheid” staan en aangaap. Dit is net blink waar jy kyk: blinkgoud, blinksilwer, blinkrooi, blinkgroen, blinkstefaans.

Vanjaar besluit ek om na te lees oor die oorsprong van Kersgebruike. Kersboom. Kersvader. Kerskaarte. Kersversierings. Kersgeskenke. Kerskranse. Kersliggies. Kersfeesbokke. Kersklokke. Kerskoekies. Kerskouse. En om vas te stel watter gebruike dan nou heidens is en watter nie. Dit kan nie te moeilik wees nie. Ek doen ’n brawe ding en Google “father+christmas+history”. 204 miljoen trefslae. My moed val maar styg weer vinnig – ek laat my nie só maklik onderkry nie! Ek besluit om eerder by die Kersboom te begin. 203 miljoen trefslae.

Hmm … Miskien sal ek eers bietjie op die bed gaan rus. Onder die waaier – 38 °C is nie jou maat nie. En al die prentjies van Kersvader in rooi flennie laat my boonop onnodig sweet.

Daar op die bed kom ’n gedagte by my op.

Ek begin so in my eie geselskap wonder waarom ek op ’n missie is om die duiwel in Kersfees op die lappe te bring en te ontmasker vir die skurk en kwaadstoker wat hy is.

Dalk is dit omdat ek nie meer tevrede is met die manier hoe ek en my mense Christus Jesus se verjaardag vier nie. Ek voel elke jaar meer iesegrimmig terwyl Kersfees nader kom.

Verloop julle Kersfees dalk soos ons s’n?

Ek probeer om die somme te laat klop en aan al die kinderverwagtinge te voldoen. Die Kersete word weke vooruit beplan en dae voor die tyd sloof ek my reeds af. Kersversierings moet uitgepak word. Kersgeskenke word sorgvuldig uitgekies, gekoop en toegedraai. En moet tog net nie vergeet om die vrugtekoek so nou en dan te dokter nie … Ons hang Kersliggies in die venster. Briewe word aan Kersvader geskryf en almal gis oor die inhoud van die pakkies onder die boom. Hoe laat begin die Kersdiens nou weer?

En dan bevind ek my jaarin en jaaruit een of twee dae voor Kersfees in die *&^%$#@ mall.

Sommige webwerwe moedig mense aan om op te hou om Kersfees te vier – dit is immers oorgeneem deur wêreldse gebruike en tradisie. Maar daar is weinig positief aan dié tipe uitkyk. Watse boodskap word oorgedra aan ’n verlore wêreld? Daar is mos nie hoop in so ’n houding nie.

Toe die kwik 39 °C slaan, neem ek ’n berekende besluit:

Ek gaan ophou om my kop te breek oor die negatiewe rondom Kersfees. Ek gaan ophou om die Satan in Kersfees te soek en te verkondig en daarop konsentreer om Christus na Kersfees terug te bring. Ek sal vir die volgende maand konsentreer op nuwe maniere om die geboorte te vier en te verkondig.

Ek gaan begin deur my eie gesin se Kersfees-tradisies aan te pas. Ek sal steeds liggies in die venster hang. Net om vir die wêreld te wys dat ons aan die Lig van die wêreld dink. Maar die Kersboom kan maar waai. Die ding mors in elk geval net.

Ek gaan steeds geskenke koop – maar vir die sewe werkers op die plaas. Vir ’n vergete mens in die ouetehuis en een van Ester Nkosi se weeskinders. My kinders moet leer dat dit, in stryd met volksgeloof en tradisie, ons tóg gelukkiger maak om te gee as om te ontvang. Hulle moet maar help koop, toedraai en uitdeel.

Dan sal ons steeds lekker eet. Ons vier immers die Here Jesus se geboorte.

Dit is so belangrik dat ons die geboorte oordink en vier. Uit dankbaarheid en liefde. Ons moet dit sien as ’n geleentheid om die wêreld van Christus en sy verlossing te vertel. Die wonderlikste boodskap ooit, die blye evangelie, begin immers by Jesus se geboorte: Ons enigste hoop in ’n wêreld wat op die afgrond dartel.

En jy gaan my definitief nie twee dae voor Kersfees in die mall raakloop nie!

Meer oor die skrywer: Liezel Lüneburg

Ek is ’n ma. Eerstens. Dit beteken: kok, sieketrooster, huiswerkhulp, tuinwerker, taxi-bestuurder, bewaarder-van-sedes-van-die-kleinspan, taakbouer, dissiplineerder, vrou, gesondheidswerker, huishoudster, bakker, dagboek-op-bene en bidder. Maar ook ’n nie-praktiserende prokureur met ’n LLD-graad in Kinderreg en nou vryskutjoernalis. ’n Goeie boek is onweerstaanbaar. Ek is ewe lief vir internasionale musiek, ’n goeie kunsfliek en die kruietuin langs my lieflike Laeveld-stoep. Kook is ook lekker. En braai. Net nie die gewone braaipraatjies nie...

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eliza-beth ·

Dis mense se eie skuld as hulle val vir klatergoud. Toe ek nog voltyds gewerk en ‘n Des bonus gekry het het ek my kinders saamgeneem op ‘n inkopietog – minstens die helfte van my bonus is spandeer op speelgoedjies/boeke vir minderbevoorregtes, so hulle het geleer, van kleins af, ja Kersfees gaan oor gee, maar nie oorlaai aan die wat het maar dink aan ander en ja, gee met liefde. Hulle is steeds so as volwassenes. Ons het ook aan diereskuilings kos geneem so ek dink hulle het mooi die werklike waarde van kersfees geleer. Ek het hul ook geleer dat vir my versinnebeeld die groen boompie lewe; Jesus het Sy lewe afgelê vir ons sodat ons vir ewig kan lewe as ons in Hom glo. Die ster bo-aan die boompie versinnebeeld die Bethlehem ster wat die wyse manne na die stal gelei het en natuurlik die geskenke van die wyse manne wys dat ons geskenke uit liefde aan ander moet gee. Soms nie eers fisiese geskenke maar ‘n mooi glimlag en ‘n hartlike dankie aan oorwerkte winkelassistente wat jou bedien. Die liggies aan die boom verteenwoordig die Ewige Lig. Dis maar hoe ek dit graag aan hulle geleer het.

Jakoba ·

Elizabeth ek stem saam met jou. Leer jou kinders van kleins af waaroor Kersfees nou eintlik gaan. Dit gaan nie oor duur geskenke nie, die gaan nie oor jou dood vreet en suip nie. Dit gaan oor die geboorte van Jesus, die verlosser. My kersboom sal ek elke jaar opmaak en my huis mooi maak. Dit is nie die boom wat die sonde pleeg ook nie die kersversierings nie, maar ons as mense self. Kersfees het by my ‘n nuwe naam, Die Heilige Geboorte Fees van Christus. Dit is baie mooier as die woord Kersfees en dit se ook waaroor dit gaan. Dit is wat die handjievol Chinese Chrisine in China vier. Die Heilige Geboorte Fees. Ons moet HOM daardie dag eer en nie net daardie een dag nie, maar elke dag van ons lewens. Ek spandeer nie ure in ‘n winkel vir geskenke nie ek koop voor die tyd wat elke een nodig het en bruikbaar is, ek spandeer nie ure agter die potte nie nog minder versondig ek my siel met doodvreet ons vat die dag rustig

Johan ·

Dankie Liezel en ‘n groot Amen op wat jy hier skryf. Alhoemeer mense begin die waarheid in die ou ou gebed van Fransiscus ontdek ‘ dit is deur te gee dat ons ontvang’

Riaan ·

Lesers, gaan vereenselwig julle, met die heidense oorsprong van “kersfees”. Jesus, kan en mag nie met “kersfees”, assosieer word nie. Dit is onbybels. “Kersfees”, was n heidense fees, ter ere van die destydse songod. Dit het ontstaan, ongeveer twee eeue, voor Jesus se geboorte. Nêrens in die bybel, word melding gemaak, van “kersfees” vieringe nie, so dus, geen opdrag van God nie. Wel n opdrag, is die herdenking van Sy kruisiging en opstanding. Wyse manne het geskenke, aan Jesus gebring, toe Hy ongeveer een jaar oud was, volgens die bybel. Gaan “google” gerus, heidense oorsprong van kersfees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.