Kersvader daag weer nie op met babapoppe nie

dolls-houses-1580323_1920Verskeie lesers het al meer as ʼn jaar gelede begin kla oor babapoppe wat hulle bestel het, wat nooit afgelewer is nie. ʼn Hele paar ouers moes dus mooi verduidelik waarom Kersvader nie met die beloofde babapoppe opgedaag het nie en dit lyk asof dit vanjaar weer die geval gaan wees. Ina Opperman verduidelik hoe die Wet op Verbruikersbeskerming verbruikers in soortgelyke gevalle beskerm en wat om te doen om te sorg jy loop nie ʼn bloutjie as jy iets soos ʼn handgemaakte pop bestel nie.

ʼn Onderneming in Kaapstad was verlede jaar in die kollig nadat poppe, wat ʼn paar maande tevore bestel is as Kersgeskenke, nie betyds afgelewer is nie. Nou het ʼn ander poppemaker ook bestellings en volle betalings vir poppe aanvaar, maar verbruikers sit weereens met hul hande in die hare omdat dit lyk asof die poppe nie betyds afgelewer gaan word nie.

Volgens die onderneming, wat verlede jaar die sondaar was, se Facebook-blad was dit duidelik daar was baie ongelukkige klante. Die eienaar het elke keer as mense navraag doen, ʼn ander verskoning gehad en diegene wat hul geld teruggevra het, het dit nie gekry nie. Die webwerf en Facebook-blad is gedurende 2016 gesluit.

Die onderneming wat nou verbruikers se bloed laat kook, het nie ʼn webwerf nie en die Facebook-blad laat verbruikers nie toe om kommentaar daarop te skryf nie. Die blad gee ook geen aanduiding waar die onderneming is nie en gee ook geen telefoonnommer of naam van die eienaar nie. Mense wat poppe wil bestel, moet Facebook se boodskapdiens gebruik.

Wat sê die Wet?

As mens na die onderneming se Facebook-blad kyk, is dit duidelik dat dit nie aan die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies voldoen nie. Volgens dié Wet moet ʼn onderneming sy volle naam en regstatus, straatadres en telefoonnommer, webtuiste en epos adres, die volle prys van die produkte wat vervoerkoste, belasting en enige ander kostes insluit, hoe betalings gedoen moet word, wanneer aflewering sal geskied, die beleid ten opsigte van produkte wat teruggestuur of omgeruil word en hoe terugbetalings gedoen word en hoe klante se inligting beskerm word aandui. Klante moet ook die geleentheid kry om die elektroniese transaksie te hersien.

Verbruikers se regte word verder beskerm deur die Wet op Verbruikersbeskerming. Artikel 19 bepaal die onderneming is verantwoordelik daarvoor om goedere binne ʼn redelike tydperk af te lewer, tensy anders ooreengekom. Die verbruiker kan laat aflewering aanvaar of die transaksie kanselleer. Volgens artikel 47 van die Wet mag ʼn onderneming ook nie betaling aanvaar as hy nie van plan is om die bestelling af te lewer nie. Hierdie artikel maak dit ook duidelik die onderneming moet die verbruiker se geld terug betaal indien hy nie voorraad het nie.

Pas op hiervoor!

Die probleem met ondernemings wat  nie aflewer nie, ontstaan gewoonlik in die eerste plek by ondernemings wat nie geregistreer is nie. Betalings moet in iemand se persoonlike bankrekening gedoen word en hoewel die onderneming waaroor verlede jaar gekla is, aangedui het ʼn deposito van 50% word vereis, moes verbruikers gewoonlik die volle bedrag van sowat R1 800 betaal wanneer hulle ʼn pop bestel. Die onderneming het toe aangedui dit kan nie verbruikers se geld terug betaal nie, aangesien die geld wat reeds betaal is, vir voorraad gebruik word.

Verbruikers wat poppe wil bestel, moet seker maak dat:

  • Die onderneming geregistreer is as ʼn maatskappy en ʼn registrasienommer het,
  • Die geld in die onderneming se bankrekening inbetaal word en nie in ʼn individu sʼn nie,
  • ʼn Faktuur uitgereik word vir die bestelling wat aandui wat die deposito is,
  • Die faktuur aandui wanneer die bestelling afgelewer word en wat jou regte is indien dit nie op die afgespreekte tyd gebeur nie,
  • Die volle bedrag nie betaal word voordat die bestelling afgelewer word nie,
  • Verbruikers wat jy persoonlik ken al poppe daar bestel het wat betyds afgelewer is.

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor bestellings wat nie afgelewer word nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stormrider ·

Leer tog nou maar die heel eerste reel wanneer julle die wereld van e-commerce betree, liewe vriende.
You need bricks for your clicks. Die webwerf moet ‘n fisiese perseel, telefoonnommers, e-pos adres, kontakpersoon, en maatskappy registrasie inligting reflekteer.
Gaan na verbruikerswebwerwe en kyk of ander mense al klagtes geloods het oor die maatskappy. Probeer besighede binne ‘n redelike ry-afstand ondersteun, alternatiewelik koop slegs by internasionale firmas wat reeds bekend is vir e-commerce produkte of dienste. Dit verminder jou risiko aansienlik! Grootste groet

Oom Walker ·

Sal interessant wees om te verneem wat presies die verbruikerskommisie kan doen aan hierdie bedrieglike skurke wat lankal spoorloos verdwyn het met al die liggelowiges se geld.

Chevie ·

Ek glo dat die vorige besigheid net gesluit is en nuwe een oop gemaak is met nuwe naam. Seker daarvan dis dieselfde persoon wat mense verneuk en die hartseerste is dat kinders sonder kersgeskenke moes wees. Dis tragies!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.