Klaas Pieters: Die skrik van die Karasberge

klaas-pieters-soektog-skermskoot

‘n Toneel uit die rolprent ‘Windprints’, wat handel oor Klaas Pieters se lewe. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Hulle het hom soos ‘n dier vir honderde kilometers gejag – uit die lug en te voet. Maar hy het die Groot Karasberge soos die palm van sy hand geken. Hy het die gereg maande lank vir die gek gehou. Hulle het hom met generaal Chrisjan de Wet van die Boere vergelyk, wat jare lank ’n oormag Engelse op hol gejaag het. Hy was manalleen verantwoordelik vir die grootste polisiesoektog in Namibië se geskiedenis. Maar wie was hierdie kalant?

In my omswerwinge het ek vele interessante mense op hierdie aarde teengekom. Nou die dag loop ek my vas in ’n Suidwesvrou, Kotie Lourens van Keetmanshoop. Nou is Suidwes natuurlik Namibië, maar ek en Kotie is gebore Suidwesters. Die trane die wel eintlik op, so gesels ek en Kotie oor die ou dae in die dorre suide waar die springbokke tweelingkallers gooi as hulle weet dit gaat reent – en hulle weet vooraf.

klaas-pieters-kotie-lourens

Kotie Lourens van die plaas Nordeck in die Karasberge van Namibië (toe Suidwes-Afrika) waar die ontwykende voortvlugtige Klaas Pieters geskuil het. Foto: Verskaf.

Kotie se plaas is Nordeck langs die Leeurivier en haar nooiensvan is Noeth. Ons pa’s was bevriend in die ou dae toe my pa by die Afrikaanse Karakoel-Afslaers (AKA) in Windhoek elke liewe boer noord van die Oranje persoonlik geken het. En so bring Kotie my op die spoor van die berugte Klaas Pieters, wie se spook nou nog in die Karasberge loop, vertel sy my.

Hoe het dit alles begin vir hierdie bobaas-spoorsnyer?

Op 15 Oktober 1980 breek Klaas Pieters, alias Klaas Tekkies, alias Nhadiep, in by die plaas Goibib, 100 kilometer suid van Keetmanshoop. Hy kry ’n vuurwapen in die hande en skiet Anna Paulus dood en wond ’n ander vrou en ’n seuntjie. Die vinger wys na ene Nhadiep, ’n plaaslike Nama. Die Namas, soos die ikoniese Hendrik Witbooi, is ’n taai nasie, soos die koloniale Duitsers van Keiser Wilhelm agtergekom het. Hulle behou vandag nog hul stamverband soos die Rooinasie en die Witboois en die Swartboois en die Oorlamse en die Witdoeke en die Afrikaners en die Velskoendraers…

Einde April 1981 word Johannes Son van die plaas Oas in die Karasburgdistrik doodgeskiet. Nhadiep word weer verdink. Hulle soek hom in die onherbergsame wildernis tussen Karasburg en Keetmanshoop. Dan duik Klaas hier op, en dan daar, en dan verdwyn hy doodeenvoudig soos mis voor die son. Intussen voer hy ’n skrikbewind onder die plaaswerkers, maar hulle is te bang om te praat. In die stilligheid bewonder hulle hom as ’n soort vryheidsvegter-renegaat. Die lang arm van die gereg word aangevoer deur die vermaarde Kolonel Skankwan Greyling self, speurhoof van die polisie in Suidwes-Afrika. En dis slegte nuus vir enige mens wat hom aan die verkeerde kant van die wet bevind. Want waar Skankwan eers eenmaal gevat het, los hy nie…

Uiteindelik plaas die owerhede ’n beloning van R1 000 op Klaas Pieters se kop – ’n klein fortuin in 1981. Maar Nhadiep ken die veld in die dorre suide. Hy wat dae lank in ’n verlate skeur kon skuil en soggens die dou van die rooigras afgelek het vir water. Sy legende groei.

“Die man trap nie ’n spoor soos ’n mens nie, hy kan dan op ’n grensdraad loop. Hy spring van klip tot klip soos ’n bok,” vertel die boere onder mekaar.

Die spoor raak warmer. Die polisie weet teen hierdie tyd die voortvlugtige is 26 jaar oud en het ’n skewe voet wat ’n eiesoortige spoor trap. Die Nordeck-spits in die Groot Karasberge naby Kotie se plaas is een van Pieters se houplekke.

Op 15 Maart 1982 slaan die Skim van die Groot Karasberge weer toe. Lukas Rooi, plaaswerker van Ernst Eberhardt, word buite Karasburg vermoor en Frans Hendriks word in die oog geskiet. ’n Taakmag van 60 man fynkam die wildernis. Maar Klaas Pieters is te slim vir hulle.

“Mense weet dit nie, maar hy was ’n Koevoet,” vertel Kotie Lourens my nou die oggend in Mozart’s-restaurant op Bredasdorp. Koevoet was Swapo se Moses in die bosoorlog voor Suidwes se onafhanklikheid. Nie net was Pieters seningtaai en gehard nie, maar met die slinksheid van ’n rooijakkals en die vernuf van ’n Koevoet-bosvegter speel hy kat en muis met sy agtervolgers. Vandag word hy vergelyk met Amerika se Geronimo en Suid-Afrika se Dirk Ligter – daardie skaapsteler van die Hantam Karoo van wie Boerneef in Boplaas geskryf het; Dirk Ligter wat kon loop soos die wind en ’n perd kon flou hardloop.

Nogtans maak die geregsdienaars ’n belangrike deurbraak: hulle kry ’n lys name in die hande van mense in die omgewing wat nog vermoor moet word. Maar hele gemeenskappe word nog steeds feitlik gyselaar gehou. Kinders wat stout is, word met sy naam gedreig: “Oppas, Klaas Pieters sal vir jou kom kry”, is die wekroep.

Teen dié tyd is daar ’n klein leër op Klaas Tekkies se spoor. Al wat die veldkind by hom het, is ’n rugsak, ’n geweer, ’n rewolwer en ’n paar koeëls. Die meeste deelnemende burgermaglede is boere wat opgeroep is vir diens. Op 19 Maart 1982 word dit amptelik bekend gemaak: die jagtog na Klaas Pieters is die grootste in Suidwes se geskiedenis. Nhadiep sal gevind word, lewend of dood. Maar intussen eis die gejagte byna nóg ’n slagoffer: Izak du Plooy, ’n lid van die jagspan, stort 15 voet loodreg van ’n krans af en val hom byna te pletter.

Uiteindelik trek die net vas op die plaas Oas tussen Aroab en Karasburg. Klaas Pieters word op 26 April vasgekeer. Daar bars ’n hewige skietgeveg los tussen Suidwes se mees gesoekte man en sersant Coenraad du Preez. Die uitgeslape Pieters weet selfs wie sy opponent is. “Du Preez, jou m**r!” skreeu die vasgekeerde minagtend. Dit was sy laaste woorde, want die polisieman trek los en skiet Nhadiep deur die kop.

klaas-pieters-se-graf

Klaas Pieters se graf êrens in die Karasberge. Foto: Verskaf.

Daardie doodskoot van Du Preez om presies 11:55 daardie oggend het ’n einde gebring aan die saga van Klaas “Tekkies” Pieters, alias Nhadiep.

Maar sy legende leef voort in ’n fliek oor sy lewe – Windprints, vervaardig in 1989. Die fliek is in Suid-Afrika en Namibië verbied, glo oor beweerde rassisme. Dit is jammer. Ek dink ek sou dit geniet het om met Suidwes se berugste misdadiger om ’n vuurtjie te kon sit en ou stories uitruil…

  • Pierre Francois Massyn is ’n gebore Marientaller, oudjoernalis en gewese adjunkskakelhoof van Rössing Uraan. Hy skryf stories uit die verlede en oor interessanthede en persoonlikhede. Vir hierdie artikel is hy dank verskuldig aan toentertydse koerantberigte uit Die Republikein.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae