Klipkouers: Jacques gesels met Cerita Nagy


Klipkouers-logo-01

Grafika: Verskaf.

‘Sukses hang af van leierskap’

Vandag gesels ek met Cerita, entrepreneur en eienaar van Cerita Nagy Dezigns. Sy het haar sakeonderneming ongeveer 16 jaar gelede geopen en is tans ook die nasionale president van die Suid-Afrikaanse raad vir sakevroue.

  • Vertel ons ʼn bietjie meer oor jouself:

Ek is getroud en het twee kinders. My seun is 24 jaar oud en hy word eersdaags pa. Dan het ek ook ʼn dogter, sy is nou 18 jaar oud. Ons woon in Pretoria. Ek het grootgeword in Groot-Marico, bekend vir mampoer en Herman Charles Bosman se stories. Ek was daar op skool en het by Tukkies gaan studeer en dit is ook waar ek my man ontmoet het.

  • As jy in die mampoerwêreld grootgeword het, het jy ʼn voorliefde vir mampoer?

Nee, glad nie.

  1.  Wat is die rede waarom jy hierdie soort onderneming asook bedryf aangepak het?

 Dit was nog altyd my passie. Ek het nog steeds Garden & Home-tydskrifte wat ek bymekaargemaak het – van die tydskrifte dateer van die 1960’s. Dit was vir my man ʼn teer puntjie om al die boeke oral saam met ons te trek. Ek het aanvanklik huishoudkunde en kleding by Tukkies gaan studeer. Dit was ʼn B Com-studierigting en huishoudkunde en kleding is gekombineerd aangebied. Ek het nie baie van kleding gehou nie. Ek het ná ses maande besluit dit is nie vir my nie. Ek het intussen baie by korporatiewe maatskappye gewerk en so het ek begin met die onderneming. Ek het saam met ʼn familielid, wat reeds in hierdie sakebedryf was, die besigheid begin. Ek het baie by haar geleer en myself in die bedryf gevestig.

  • Dink jy ou modegiere is weer besig om terug te kom?

Ja definitief, ek dink net die styl in die vroeër jare was meer klassiek en besig.

  1. Hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf?

Ons skakel veral in by binneshuise versiering. Dit is ʼn baie persoonlike verhouding wat jy met jou kliënte opbou. Ek dink baie keer verkoop jy jouself en dan verkoop jy jou produk ook. Ek gebruik graag sosiale media ek het onlangs weer my webtuiste verander. Met alles wat nou in my lewe aangaan, het ek die besigheid ʼn bietjie afgeskeep. Ek maak heelwat gebruik van sosiale media soos Twitter, Facebook asook ʼn web-joernaal.

  • Vertel ons ʼn bietjie meer oor die afgelope twee jaar in jou lewe?

Ek het ongeveer vier jaar gelede betrokke geraak by die Suid-Afrikaanse raad vir sakevroue. Ons beywer ons vir die bemagtiging van vroue. Ons het ʼn jaarlikse kompetisie vir die sakevrou van die jaar. Die kompetisie gaan oor wat sy bereik het en waar haar visie in die toekoms lê. Asook wat sy in haar besigheid beteken vir haar werknemers en hoe sy hulle laat groei. Ek het eers voorsitter geword en nou is ek die nasionale president van die organisasie. Dit is ʼn baie groot verantwoordelikheid en ek het baie tyd daaraan bestee. Ek het vanjaar besluit om weer ʼn bietjie te fokus op my eie onderneming.

  1. Wat is die grootste sakefout wat jy tot dusver gemaak het?

Ek het sake met my familie en vriende gedoen en ongelukkig het dit skeefgeloop. Ek het dit boonop te lank laat voortduur. Ek dink dit is my heel grootse fout wat ek tot dusver gemaak het.

  1. Wat is jou grootste swakheid?

Ek kan nie nee sê nie, ek sukkel geweldig baie daarmee. Dit is ook nie altyd ʼn swakheid nie want as ek nee gesê het vir die kans wat ek gekry het om sakevrou te wees, sou ek ook nie gewees het waar ek is vandag is nie.

  1. Watter sagteware is vir jou onontbeerlik?

Vir my is dit my foon my iPhone en my iPad. Jy is altyd in kontak met alles en kan dadelik antwoord en jy is ook altyd beskikbaar. Ek hou ook van my dagboek ek skryf gereeld daarin

  1. Watter boek sal jy aanbeveel as ʼn moet-lees boek?

Stephen R Covey  se Seven Habits of Highly Effective People en Robin Sharma se The Leader who Had no Title. Ek dink die sukses van ons land hang af van die leierskap en jy moet ʼn leier in jou eie reg kan wees. Ek hou ook van kort joernale wat ek opsoek op die internet.

  1. Wie is vir jou ʼn groot inspirasie is en waarom?

Nelson Mandela, die goed waarvoor hy gestaan het, sy menswaardigheid en hoe hy na die land en na sy mense omgesien het. Moeder Teresa en dan ook Jenna Clifford vir die ongelooflike sakevrou wat sy is en vir dit wat sy vir vroue doen. Dan is daar al die sakevroue wat so hard gewerk het om te kom het waar hulle is. Ek respekteer elkeen van hulle.

  1. Wat is jou gunsteling-aanhaling?

“Success is finding satisfaction and giving a little more than you take,” ʼn opmerking van Christopher Reeve. ʼn Mens moet ʼn bietjie gee om te kan ontvang.

  1. Met alles wat jy nou weet en as jy môre weer oor kan begin, watter soort onderneming sou dit wees?

Ek sal in dieselfde bedryf bly. Ek dink ek sal dinge net anders aanpak.

  • Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

Klipkouers kan vir my ʼn e-pos stuur na [email protected]

of vir my ʼn e-pos stuur by die SA raad vir sakevroue. My e-pos-adres daar is [email protected].

Klipkouers kan my webtuiste besoek by www.cndezings.co.za.

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers, gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.