Klipkouers: Jacques gesels met Christo Henning


Jacques-Basson-Saskia-Beresford-Photography

Jacques Basson is die aanbieder van Klipkouers. Hy gesels hierdie week met Christo Henning oor entrepreneurskap. Foto: Saskia Beresford Fotografie.

Ek gesels met Christo Henning van Leon’s Motors, in Rustenburg, waar hy onder meer verduidelik hoekom ’n motor se handelsmerk nie so ’n groot rol speel in verkope as wat ’n mens dink nie.

Vertel ons ʼn bietjie meer oor jouself:

Ek woon net buitekant Rustenburg, naby die Kosterpad – op ʼn plasie wat ons hart se punt is. Ek is gebore in Vereeniging, is reeds 20 jaar getroud en geseën met twee pragtige kinders. Ek is al so ongeveer 23 jaar in die motorbedryf. Ek het maar begin as stoorman en so my pad opgewerk. Vandag is ek die handelaarshoof by Leon’s Motors.

  1. Waarom het jy in hierdie soort besigheid en bedryf ’n loopbaan gevestig?

Dit is maar waar ek die geleentheid gekry het. Die hoofrede waarom ek in die motorhandel wil wees, is die diversiteit daarvan. Dit het werklik te doen met mensehulpbronne, finansies, bemarking en naverkopediens. Jy moet werklik ʼn groot aantal vaardighede hê om suksesvol te kan wees. ʼn Mens hou ook nooit op leer nie.

  1. Hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf?

Ons het ʼn geweldige groot fokus op naverkopediens, asook met elke advertensieveldtog wat ons doen. Dan is daar ook die verkoopsagente wat ons in ons werk ondersteun; ons vul hulle weer van ons kant af aan sodat hulle die bes moontlike diens kan lewer. Die groot faktor is ons “going above and beyond”-leuse, waardeur ons altyd streef om die beste te wees.

Vertel ons ʼn bietjie meer oor julle advertensies. Wie is julle hooffokus (teikenmark) in advertensies?

Sosiale media is ʼn nuwe advertensienorm. Ons hou aan belê in daardie platform en sodoende probeer ons altyd beter en nuwe idees kry om daar te bemark. Dan is daar ook die doodgewone bemarking, waar ons die produk na die kliënt toe neem; ons is teenwoordig, ons praat oor ons produkte, is opgewonde oor ons produkte en ken ons produkte. Ons het ook ʼn maandelikse tydskrif wat ons uitgee, soortgelyk aan die Auto Trader.

Jy het vroeër verwys na julle naverkopediens. Is daar ʼn gemiddelde “waarde” wat julle aan ʼn kliënt heg?

Ja, ons het baie lanklaas daardie soort berekening gedoen. Twee dinge is baie belangrik. Eerstens wil jy ʼn goeie diens lewer sodat daardie kliënt altyd met jou sake sal doen. En tweedens wil ʼn mens die indruk wek dat jy altyd goed is vir die kliënt. Jy wil vertroue by daardie kliënt skep.

  1. Wat is jou grootste sakefout tot dusver?

Die eerste een is, ek laat soms die verkeerde mens te naby aan my persoonlike ruimte; mense het nie altyd sulke eerlike bedoelings nie. Die tweede een sal wees dat ek nie altyd betrokke was by die persoonlike aanstelling van personeellede nie, waar ek toegelaat het dat my bestuurders dit namens my doen. Ek dink die aanstel van personeellede is een van daardie elemente wat ʼn mens soms oorsien en dan is daar probleme.

  1. Wat is jou grootste swakheid?

Ek is baie ongeduldig en koester soms baie hoë verwagtinge van mense. Ek hou daarvan dat alles nóú moet gebeur en as dit dan nie dadelik gebeur nie, raak ek baie gefrustreer. Ek dink ook ek lag hopeloos te min en soms bekommer ek my te veel oor môre.

  1. Wat is die een gewoonte wat jy begeer?

Ek sou baie graag elke dag wou geoefen het. Ek sou ook makliker wou ontspan, afskakel en fokus op die hier en nou; dit sal ʼn groot luukse wees.

  1. Sonder watter sagteware kan jy eenvoudig nie klaarkom nie?

 Ek sou sê die belangrikste is die alledaagse dinge wat ʼn verskil maak en toepassings wat ek nodig het om in my bedryf staande te bly.

  1. Watter boek sal jy aanbeveel as ʼn móét-lees-boek?

 Jack Welch se Straight from the gut, dit was een van my gunstelinge; en die ander een is Regardt van der Bergh se Dis nie luck nie, dis genade.

  1. Wie is vir jou ʼn besonderse inspirasie, en hoekom?

 Eerstens is dit my vrou oor haar geduld en deernis. Die tweede een is ʼn werklose man wat ek aangestel het as drywer – iemand wat maande lank op ʼn teerpad gestaan en bedel het vir geld, om vir sy kleinkinders kos te kan koop. (Dit is liefde.) Derdens is dit mense wat die Here op my pad stuur of my op hulle pad stuur. Daar is soveel mooi in mense wat ons net moet raaksien.

  1. Wat is jou gunsteling-aanhaling?

 W.H. Murray – “The moment one definitely commits oneself, then providence moves too.”

  1. As jy môre weer oor kan begin; watter soort besigheid sou dit dan wees?

 Weet jy, ek sou weer in die motorhandel wou wees. Dit is seker nie die moeilikste ding om ʼn motorhandelaar te wees nie, maar om ʼn motorhandelaar te wees wat ʼn verskil kan maak in sy werknemers en die kliënte se wêreld … Dit maak jou anders as die ander. Ek dink nie ek sal enigiets anders wil doen nie.

Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

My e-posadres is [email protected] en my selfoonnommer is 083 383 2675.

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers, gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.