Klipkouers: Jacques gesels met Jakes Maritz


Klipkouers-logo-03

Grafika: Verskaf.

Expat Explore is ʼn onderneming in Europa wat toere reël. Die Suid-Afrikaner, Jakes Maritz, is die dryfkrag agter dié onderneming. Hy gesels met Klipkouers oor onder andere hoe om mense aan te stel en hoe jy foute moet hanteer.

Jakes se foute

Om honderde foute te maak terwyl jy jou onderneming bestuur, is die skoolgeld wat jy betaal, vertel Jakes.

“Moet net nie een fout drie keer maak nie.”

Jakes wou, ná hy vir 11 jaar in Londen gebly het, terug trek na Suid-Afrika.

“Ek moes toe my belange by Expat Explore aan ander mense oorhandig. Die probleem was dat hulle nie dieselfde dryfkrag en passie as ek gehad het nie. Dit was die grootste fout wat ek gemaak het. Ek moes vir ʼn paar maande teruggaan Londen toe om alles uit te sorteer.”

Dié debakel was ʼn groot keerpunt vir Expat Explore. Die uitkoms was egter positief, vertel Jakes.

“Kry altyd iets positief uit jou foute. Moenie gaan sit en huil nie. In 2013 het ons die onderneming in ʼn entrepreneuriese styl bestuur. Dit was nie baie analities nie. Dis nie verkeerd om ʼn onderneming só te bestuur nie, maar ons het net besluit om meer strategies te dink. Dis soos skaakspeel op ʼn baie groot skaal.”

Evalueer voordat jy werknemers aanstel

Dit is baie belangrik om die kat baie mooi uit die boom te kyk voordat jy enige persoon aanstel, meen Jakes.

Volgens hom gebeur dit baie dat iemand aansoek doen wat meer ervaring en vaardighede as jy het.

“Dit is wonderlik om iemand te kry wat meer ervaring en vaardighede het. Jy moet egter doodseker maak die persoon deel jou belangstelling en passie wat jy vir die onderneming het.”

Moenie mense te veel en te vinnig vertrou nie, is sy raad. Dit is belangrik om die persoon deeglik te evalueer.

“Voel mekaar aan, kyk deeglik wat die persoon na die tafel kan bring.”

Wat sleutelposisies betref, is dit baie belangrik om iemand aan te stel waarmee jy al ʼn lang pad stap, beveel hy aan.

Opsomming

Agtergrond:

Jake Maritz is die eienaar van Expat Explore en woon in Kaapstad – meer spesifiek Melkbosstrand. Hy het vir 11 jaar in Londen gewoon. Hy het Bloemfontein grootgeword, asook daar skoolgegaan en studeer.

  • Waarom het jy hierdie onderneming en bedryf aangepak?

Ek het toevallig in die toerisme-bedryf beland. Ek het begin om mense te help om hulle Schengen-visums te kry omdat so baie mense in daardie tyd Europa en Engeland toe gekom het. My vennoot het voordat ons die onderneming begin het, baie mense op toere na Parys en Amsterdam geneem. Hy het my toe genader om die sakedeel van die onderneming te behartig.

  • Hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf?

Ons maak baie staat op Google Adwords, maar dit kan baie duur raak as dit nie noukeurig bestuur word nie.

  • Wat is die grootste sakefout wat jy gemaak het?

Jakes wou ná hy vir 11 jaar in Londen gebly het, terugtrek na Suid-Afrika.

“Ek moes toe my belange by Expat Explore aan ander mense oorhandig. Die probleem was dat hulle nie dieselfde dryfkrag en passie as ek gehad het nie. Dit was die grootste fout wat ek gemaak het. Ek moes vir ʼn paar maande teruggaan Londen toe om alles uit te sorteer.”

  • Wat is jou grootste swakheid?

Ek vertrou mense te veel en te vinnig. Dit is belangrik om die persoon deeglik te evalueer voordat jy saam met hom/haar werk.

  • Wat is die een gewoonte wat jy wens jy het?

Ek moet meer gedissiplineerd wees in terme van kyk na myself wanneer dinge te intens raak by die onderneming. Ek moet aanhou oefen en gesond eet.

  •  Sonder watter sagteware kan jy nie klaarkom nie?

Excel is die alfa en omega.

  • Is daar ʼn boek wat jy sal aanbeveel as ʼn moet-lees?

Die biografie van Anton Rupert.

  • Wie is vir jou ʼn inspirasie en hoekom?

Anton Rupert en sy hele familie. Veral hoe hy sy onderneming effektief en suksesvol kon oordra na ‘n nuwe generasie.

  • Wat is jou gunstelingaanhaling?

“Never never give up.” – Winston Churchill

  • As jy môre kon oor begin, watter soort onderneming sal dit wees?

Ek sal presies dieselfde doen. Die geleenthede in die toerisme-bedryf is merkwaardig. Daar is so baie opsies.

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers, gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.