Klipkouers: Jacques gesels met Kobus Wiese


kobus-wiese

Kobus Wiese. Foto: Satravelblog.com

Kobus Wiese is ʼn oud-Springbok rugbyspeler wat deel was van die Rugby Wêreldbeker-wenspan van 1995. Sy kleintyd-liefde vir kos en kook het gelei tot Kobus en sy vrou, Belinda, se eerste koffiewinkel, Wiesenhof, wat oor die jare gegroei het tot 65 koffiewinkels met nog 20 tot 25 internasionale koffiewinkels in die pyplyn vir 2016.

“Die koffiewinkel is die eetplek van die toekoms waar mens vriende kan ontmoet of ’n sake-afspraak kan nakom,” sê Kobus. “Dit is bekostigbaar, aanpasbaar en enigiemand kan soontoe gaan: ouma, oupa, sakeman, sakevrou en al hoe meer groepe skoolkinders.”

Koffiewinkels is ook die “nuwe kantoor” vir entrepreneurs. Kobus sê dit raak al hoe gewilder en is ook die rede waarom studente in koffiewinkels rondhang wanneer hulle nie klasdraf nie.

“Dit is die fantastiese ding omtrent entrepreneurskap – jy hou aan leer. ’n Mens is nooit volleerd nie en daar is heeltyd nuwe idees.”

1. Vertel ons ’n bietjie meer van jouself.

Ek het grootgeword in Namibië op die pragtige dorpie Lüderitz in die woestyn. My pa was werksaam in die mynbedryf by Anglo-American. Ek het skoolgegaan in die Paarl en verlief geraak op die pragtige Boland. Ná skool het ek onderwys gestudeer, so ’n bietjie rugby gespeel en in Gauteng beland waar ek my loopbaan voortgesit het. Ek is maar ’n doodgewone ou wat hou van die doodgewone dinge in die lewe, soos ’n goeie rooiwyn, ’n goeie koppie koffie en ’n lekker tjoppie op die vuur. My vrou, Belinda, is aan my voorgestel deur my ou boesemvriend, Balie Swart. Ons het twee kinders, Le Roux en Deveny. Hulle is tans by my ou alma mater, Paarl Gimnasium, so ons gaan maar terug na my wortels toe.

2. Wat het daartoe gelei dat jy die koffiebedryf aangepak het?

Dit kom al van kleins af. My ma was ’n baie goeie kok en bakster. Ek het gehelp in die kombuis en die gogga het my gebyt. Ek het agtergekom om te kook is geweldig stimulerend. Dit is lekker om ná ’n lang dag vir ’n paar pelle ’n lekker pot te maak of iets nuuts te beproef. Ek het agtergekom dat ek ’n natuurlike aanvoeling daarvoor het. Ek kook nie uit ’n boek nie, maar “op gevoel”. Ons het onbepland in die kosbedryf beland. Ek en my vrou het ’n koffiewinkel gekoop om ons eie onderneming te begin en ons voor te stel aan entrepreneurskap. Ons wou nog altyd vir onsself gewerk het en dit was ons eerste tree.

3. Het jy verwag dat koffie en koffiewinkels so groot sou word soos dit nou is?

Die afgelope 15 tot 20 jaar het koffie wêreldwyd geweldig gegroei. Waar kitskoffie eers ’n tendens was, is goeie koffie nou ’n kommoditeit. Dit groei elke dag en word meer en meer gewild. Vir baie mense is dit nou iets waarsonder hulle nie hul dag kan begin of afsluit nie.

4. Het kitskoffie nog steeds ’n monopolie op die markaandeel of het mense se palet meer gesofistikeerd geword?

Palette het gewis meer gesofistikeerd geword. Al meer lande begin koffie produseer. Nog steeds drink mense meer koffie as wat geproduseer word, so dit sal altyd ’n kommoditeit bly. Suiwer koffie is, naas olie, die tweede grootste handelskommoditeit in die wêreld. Koffiegebruik neem net steeds toe.

5. Ek sien dat baie van die ’95-Wêreldbeker-wenners nou hul eie onderneming besit. Is dit so dat rugbyspelers aangetrokke is tot entrepreneurskap?

Dit is ’n interessante opmerking waarmee ek saamstem. Ek glo ’n entrepreneur word gebore. Dis iemand met ’n droom, wat sy of haar eie ding wil doen, sterk genoeg in hom- of haarself glo, bereid is om ’n kans te waag, moue op te rol en die harde werk te doen. Na my mening kan volwaardige entrepreneurs nooit gewone kantoorure werk nie. Dit is nie in hul geaardheid nie. Sport is ’n goeie leermeester en dié wat presteer in sport sal ook makliker entrepreneurs word. Hulle weet hoe om druk te hanteer en hou van die onbekende. Net soos met sport gaan jy nie altyd suksesvol wees nie, maar dis nie wat saak maak nie. Jy moet aanhou probeer en nuwe weë verken om sukses te behaal. Die ou wat nie bereid is om dit te doen nie, sal nie ’n entrepreneur kan wees nie, want hy sal tou opgooi ná die eerste probeerslag wat nie werk nie.

6. Sit sport en entrepreneurskap in jou DNS?

Ek glo so. Die meeste van ons word groot met die droom om ons provinsie of land te verteenwoordig in sport, maar jy is nooit die enigste een nie. Die kompetisie en die druk is geweldig. Dis dieselfde met entrepreneurskap. Jy is nie die eerste ou wat ’n koppie koffie, ’n hamburger of ’n kar wil verkoop nie. Daar is duisende mense wat voor jou gekom het en daar sal duisende daarna wees. Die kompetisie is fel, maar die sukses gaan aan die ou wat dit die graagste wil hê.

7. Hoe werf julle nuwe klante en hoe kies julle nuwe persele?

Die kultuur rondom ’n koffiewinkel vind aanklank by mense. Hulle geniet dit om daar te kuier. Eerstens moet ’n mens ’n goeie produk hê wat verseker dat die mense dit geniet en wil terugkom. Net ’n vriendelike glimlag gaan nie die mense vir ’n derde of vierde keer terugbring nie, maar benewens die produk moet ’n mens ’n omgewing skep waarvan mense hou en wat hulle op hul gemak laat voel. Die koffiewinkel is die eetplek van die toekoms waar mense vriende kan ontmoet of ’n sake-afspraak nakom. Dis bekostigbaar, dis aanpasbaar en enigeen kan soontoe gaan – ouma, oupa, sakeman, sakevrou en al meer gereeld groepe skoolkinders. Mense eet ’n goeie biefstuk of sushi sporadies, maar in ’n koffiewinkel kan jy sewe dae per week iets kry wat na jou smaak sal wees. Ligging word altyd genoem as deurslaggewend vir die sukses van ’n onderneming, maar ek glo ook dat as jy iemand ’n rede gee om na jou plek te kom, sal hy dit doen. Ek sal verby drie restaurante ry na ’n vierde een toe vir die regte redes, wat kan insluit lekker koffie, ’n vriendelike bestuurder, beste biefstuk, sagte sitplekke, of baie ander redes. Mense is bereid om ’n bietjie verder te ry as jy vir hulle die regte rede gee. ’n Goeie ligging help om voete deur die deur te kry, maar dit waarborg nie sukses nie. Jy moet nog steeds al daai ander redes vir die mense aanbied. Ons is van die eerste handelsmerke wat na ander liggings gaan soek het as gevolg van die ekonomie. Deesdae is dit geweldig duur om in ’n winkelsentrum in te gaan en ons het besluit om die sogenaamde “captive markte” te ondersoek, soos hospitale, ’n Makro-winkel, kantoorblokke en skole. Die mark is baie anders as ’n paar jaar gelede toe ’n mens net in ’n winkelsentrum ’n restaurant of ’n koffiewinkel kon kry.

8. Vind jy dat koffiewinkels ook gebruik word as “kantore” vir ander entrepreneurs?

Inderdaad. Solank die ou sy koffie drink of ietsie eet, en sy gas doen dieselfde, is dit die moeite werd vir die eienaar om gratis Wi-Fi aan hom te verskaf. Dit raak al meer gewild en is ook die rede hoekom studente in koffiewinkels rondhang wanneer hulle nie klasdraf nie.

9. Wat is die grootste sakefout wat jy tot dusver gemaak het?

Aan die begin, wanneer ’n mens nog onervare is, het ’n mens meer adrenalien as verstand. Jy is braaf, jy vertrou almal, en jy is goedgelowig. Reg aan die begin was ek in ’n vennootskap met ’n ou wat my om die bos gelei en baie geld gekos het, maar ’n mens leer uit daardie foute. Die grootste les vir my is: As jy dit nie self doen en elke dag daar is nie, moet jy liewer jou geldjies in die bank hou.

10. Wat is jou grootste swakheid?

My ongeduld. Ek is maar ’n ongeduldige mens uit gewoonte. Ek sukkel om te wag vir iets.

11. Wat is die een gewoonte wat jy wens jy het wel gehad?

Om meer geduld te hê!

12. Sonder watter sagteware of rekenaartoepassing kan jy nie klaarkom nie?

Deesdae kan jy nie sonder die gerief van ’n selfoon klaarkom nie, maar soms verlang ek na die ou dae toe jy nie onmiddellik moes terugkom na almal wat jou bel nie. Ons gebruik maar die standaard-sagteware, wat elke paar jaar opgegradeer moet word. Ek baklei met my finansiële mense, want ek is nie die tipe ou wat die nuutste foon of die nuutste tegnologie wil besit die oomblik dat dit uitkom nie. Maar ongelukkig werk dit nie so in ’n onderneming nie. ’n Mens moet tred hou met die jongste ontwikkelings. Die tegnologie ontsluit heelwat moontlikhede, want ’n mens kan dadelik sien watter drankies is die gewildste in ’n spesifieke tak, byvoorbeeld, wat bestuur soveel makliker maak. Deesdae is alles ook gekoppel aan die een of ander toepassing. As jy gim toe gaan, kry jy punte; as jy banksake doen, kry jy gratis petrol; en restaurante soek jou e-posadres om jou te laat weet as daar ’n spesiale aanbieding is. In ’n stadium kan dit ook ’n bietjie te veel raak vir die gebruiker. Maar dit is ’n geweldige wapen vir ’n onderneming om baie vinnig baie inligting van ’n klant of kliënt te kry.

13. Is daar ’n boek wat jy sal aanbeveel as ’n móét-lees vir ’n entrepreneur?

Daar is ’n interessante boek, From locker room to boardroom, en ’n mens hoef nie ’n sportaanhanger te wees om die boek te waardeer nie. Die skrywer het gekyk na ’n klomp suksesvolle sportmanne en -vroue wat hul eie ondernemings begin het en waar hulle nou is in die lewe. Dis ’n goeie boek vir enigiemand wat sy eie onderneming wil begin.

14. Wat is jou gunsteling-aanhaling?

Ek sê altyd: “You have a choice.” Ek glo daaraan. Selfs as jy terminaal siek word, het jy ’n keuse hoe jy dit gaan hanteer. Hier vat ek vir Joost van der Westhuizen as voorbeeld. Hy het nie gaan sit en jammer voel vir homself nie; hy lewer nog steeds ’n geweldig positiewe bydrae en lewe so voluit moontlik met die tyd wat hy oorhet. Dit is omdat hy die positiewe keuse gemaak het. Mense verwyt te gou die samelewing, die omgewing, die gebrek aan geleenthede. Dit bring my by my ander gunsteling-aanhaling: “There is no disgrace in failure, but there is in a lack of trying.” Mense is geneig om vinnig moed op te gee en raak negatief ná ’n klein mislukking, in plaas daarvan om dit te sien as ’n lewensles. Dit is een van die negatiewe aspekte van tegnologie. Mense het gewoond geraak daaraan dat alles ’n maklike en vinnige oplossing moet hê. Ons het gewoond geraak om nie meer te dink nie. Sport leer ’n mens dat alles nie maklik kom nie en dat deursettingsvermoë nodig is om suksesvol te wees. Daarom dink ek dat elke kind aan sport moet deelneem, want dit bring ’n mens terug na die werklikheid.

15. As jy môre moet oorbegin, met watter onderneming sal dit wees?

Ek sal dieselfde doen. Ek geniet mense en elke dag is anders. As elke dag dieselfde was, sou ek mal geraak het. Ek is ongelooflik geseënd en het ongelooflik baie geleer. Dit is die fantastiese ding omtrent entrepreneurskap – jy bly leer. ’n Mens is nooit volleerd nie en daar is heeltyd nuwe idees.

16. Kyk julle na internasionale uitbreiding?

Daar is klaar ’n paar takke in Namibië en ons is besig om een te finaliseer in Botswana. Ons kyk ook na geleenthede in die Midde-Ooste. Ons het altesaam ongeveer 80 winkels tans oop, en wil in die volgende ses tot agt maande nóg 20 tot 25 begin.

17. Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

[email protected] Enigiemand is welkom met vrae. Ter afsluiting wil ek sê dat geen entrepreneur iets kan bereik as hy nie mense het wat in hom of haar glo nie. My vrou het in my droom geglo en die onderneming saam met my begin nadat almal dit “afgeskiet” het. Die ondersteuning van ander mense is belangrik vir sukses.

 

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers, gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stormrider ·

Ek het baie lank gewag vir die regte geleentheid om my hart te spreek rakende hospitaal koffiewinkels.
Ek vind dit uiters teleurstellend dat pryse in bekende franchised hospitaal koffiewinkels baie jare reeds buite verhouding hoog is, wanneer dit met soortgelyke besighede buite vergelyk word.
Bekommerde of hartseer geleentheidsbesoekers, wat net in vrede ‘n koppie koffie of ‘n broodjie teen ‘n billike prys wil geniet, is aan hierdie winsneming uitgelewer.
Jy is dalk self gehospitaliseer, dalk bloot by die hospitaal om ‘n sieke te ondersteun, of dalk moet jy tyd te verwyl terwyl ‘n geliefde op die operasietafel is.
Die enigste manier waarop elk telkemale my besoeke aan die hospitaal koffiewinkel kon regverdig, is deur myself te oortuig dat dit nie ‘n onderneming is wat ek normaalweg hoef te ondersteun nie.
Gesonde en billike winsneming is die grondslag van alle goeie besigheidsplanne, maar om pryse op te jaag, net omdat jy kan, bring ernstige vrae rondom besigheidsetiek.
Ek impliseer nie vir een oomblik dat dit die winkeleienaars is nie – die persele word dalk teen buitensporige kostes uitverhuur aan die franchisees?

Akram ·

Ek moet saam stem. Die koffiewinkels in die hospitale is duur. Soo reeds genoem, is dit nie soseer die eienaar nie, maar om n wins te maak moet die pryse gevra word. Die persele word ten duurtse verhuur. Die komoditeid wat verkoop word moet dus opmaak om die onkostes te dek. Ek weet dat van die ander franchise is baie streng oor wat verkoop mag word. BV. die broodjies wat saam met hoender vrkoop word moet net een tipe wees en dit moet betaal word. Ek stem dat dit die kwaliteid is wat tel, maar die pryse wat betaal word is buitesporig. En dan die royalties. Dis waar die mense geld maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.