Klipkouers: Jacques gesels met Meyer le Roux


Jacques-Basson-Saskia-Beresford-Photography

Jacques Basson is die aanbieder van Klipkouers. Hy gesels hierdie week met Meyer le Roux oor entrepreneurskap. Foto: Saskia Beresford Fotografie.

Meyer le Roux is die man agter die welige baard en een van die twee agter Buffelsfontein Baard-olie. Saam met sy vennoot Mark Eybers het hy daarin geslaag om in ʼn kort tydjie dié handelsmerk te vestig en bowenal baardolie voor te stel as ʼn produk wat ʼn lewenstyl verteenwoordig. Dit het hulle in staat gestel om nuwe produkte op hul bestaande sukseslys te voeg.

Meyer is in Pretoria gebore en het sy skoolloopbaan in Affies voltooi. Sy mense woon in Pretoria en natuurlik ook op Buffelsfontein, tussen Rustenburg en Brits, op die familieplaas waar met sitrus geboer word.

Waarom en hoe het jy met Buffelsfontein Baard-olie vorendag gekom?

Ek en Mark Eybers het besluit om ons baarde te laat groei. Toe die baard op daardie stadium kom dat ʼn mens se vel vreeslik begin jeuk, het ek ʼn baardolie wat op die mark is gekoop en vir Mark ook daarvan gegee. Hy het niks daarvan gehou nie en besluit om sy eie te maak. Ná ʼn paar maande van eksperimenteer het hy ʼn resep gekry wat vir hom werk en het hy vir my daarvan gegee.

Ek sê toe vir hom dit is verskriklik lekker en werk beter as al die ander ouens sʼn. Dit ruik ook lekkerder.

Dis toe dat ek vir hom sê kom ons adverteer dit op die internet – ons kan net dalk ʼn paar rand verdien.

Die produk het nie veel aftrek gekry nie. ʼn Ruk later sit ek een aand en kuier by Adam Tas, wat toe net ʼn produksiemaatskappy, Loopgraaf-produksies, begin het. Hy sê toe vir my: ‘Man, ek het hierdie groot kamera, kom ons skiet gou ʼn advertensie’. En toe is dit mal. Vandat daardie advertensie uitgekom het, het ons verskriklik baie olie verkoop en dit het net al hoe erger geword. Nie erger nie, beter.

Dis seker nou so tussen vyf en ses maande wat ons aan die gang is.

Hoe gaan julle te werk om nuwe klante te werf?

Ek en Mark is baie gelukkig … ons sê die heeltyd vir onsself, ons is ons kliente, ons bemark aan onsself … as ons van ʼn ding hou, gaan dit ʼn sukses wees, soos die video’s ook … ons sê daarin wat ons graag wil hoor en dit lyk my ons klante hou daarvan. Op die oomblik is die video’s die groot bemarkingsding.

Wat was die grootste sakefout wat julle in die eerste ses maande begaan het?

Nie om snaaks te klink nie, maar ons het regtig nog nie foute gemaak nie. Die enigste groot fout wat ons gemaak het, was in daardie eerste week nadat die video uitgekom het. Ons het nie genoeg botteltjies gehad nie want ons het nie in ons wildste drome gedink dit gaan só gaan nie. Nou bestel ons lank vooruit.

Wat is jou grootste swakheid?

My grootste swakheid is beslis dat ek geweldig sukkel om nee te sê vir ʼn kuier – dis vir my amper onmoontlik. Ek sal snags wakker lê as ek ʼn kuier gemis het, so, dit is definitief my grootste swakheid.

Wat is die een gewoonte wat jy wens jy gehad het?

Om soggens vroeg op te staan en te gaan oefen. Ek was geforseer om dit so ʼn rukkie terug te doen. Ons het die half-ysterman gedoen, maar dit was meer vrees wat my uit die bed gedryf het. As ʼn mens daardie gewoonte het begin jy die dag net beter, voel beter, maar ek het nie daardie gewoonte nie.

Watter sagteware kan jy nie sonder klaarkom nie?

Weet jy, ons het nou net begin om ons boekhoustelsel op datum te bring, so ek kan jou nie daarvan sê nie. Ek dink nie baie mense weet daarvan nie, maar daar is ʼn speltoetser in Afrikaans, genaamd WSpel. My spelling is maar ʼn bietjie agter. Dié speltoetser is gratis en ʼn mens kan dit aflaai vir Word-dokumente.

Hoe monitor julle jul verkope?

Ons gebruik Excel, maar jy moet in gedagte hou ons is ʼn baie jong maatskappy en ek dink alles het ʼn bietjie vinnig op ons afgekom. Ons sal in die volgende paar maande iemand kry wat ons help. Ek en my vennoot het albei ʼn “regte werk” wat ons elke dag moet doen en ek dink sodra ons ʼn bietjie hulp kry kan ons verkope beter monitor.

Ek dink een van die belangrikste goed wat ek vir enigiemand kan sê wat ʼn eie onderneming begin, is: Hou al jou strokies – elke liewe laaste een. Jy dink dalk nie jy gaan groot genoeg word om BTW terug te eis nie, maar dit gebeur dalk net.

Watter twee boeke sal jy aanbeveel as boeke wat ʼn mens moet lees?

Die een is Bill Bryson se Short History of Nearly Everything wat hy begin by die oerknal. Dis die interessantste boek wat ek in my lewe nog gelees het. Dis ʼn dinkboek, nie ʼn storieboek nie, maar hy vertel dit op só manier dat dit regtig interessant is.

Die ander een met die oog op sake is Richard Branson se Losing my Virginity. Die kerngedagte van dié boek is: Sien om na jou mense en jou mense sal na jou opsien.

Hy voer aan jou grootste bron is nie jou kapitaal of jou produkte nie, maar jou mense.

Hou jy van lees?

Ek is lief vir lees, maar ek wil nie sê ek kry nie tyd nie. Dis eintlik maar luiheid. Ek hou nie van ʼn storieboek nie, ek hou van ʼn feiteboek soos in ʼn geskiedenisboek. Ander mense se stories irriteer my ʼn bietjie, maar ek dink dit is belangrik om te lees. Ek wens ek het meer gelees, maar dit is seker ook een van my swakhede … ʼn mens moet tyd maak om te lees.

Wie is die persoon wat vir jou ʼn bron van inspirasie is en waarom?

Nie net oor die baard nie, maar Christiaan de Wet … vir wat hy reggekry het met daardie Kitchener. Hy het hom om sy pinkie gedraai. As Kitchener dink hy het hom vas, dan kom hy los. Dit was by Silkaatsnek waar hulle met ʼn hele kommando met perde teen ʼn berg af is. Kitchener het gesê hulle nooit daar sal afgaan nie en hy het solank ʼn ruiter Pretoria toe gestuur om te sê hulle het vir De Wet. En toe hulle daar onder kom, toe is daar niks.

Wat is jou gunsteling-aanhaling?

Jong daar is een – ek hoop ek sê hom nou reg. Die Duitse filosoof Johann von Goethe het gesê: “A character of a man is determined by the way he treats those around him and give him nothing in return.” Dis ʼn ding waaroor ons gepraat het met betrekking tot Solidariteit se werk: As ons almal dit so ʼn bietjie kan nastreef sal dit baie beter gaan met ons mense, as jy nie altyd net vir iemand iets gee omdat jy iets terug verwag nie, dan sal dit regtig baie beter gaan. Ongelukkig doen bitter min van ons mense dit.

Ek is ook ʼn groot voorstander daarvan dat ek weet waarheen my geld gaan. Ons het voor die onderhoud daaroor gepraat en dis waarom ons Solidariteit ondersteun. Ek weet waarheen my geld gaan as ek vir hulle geld gee. Niemand daar ry met ʼn splinternuwe S-klas Mercedes nie. Dit gaan ook nie vir direkteursgeld nie … so ek dink dit is ʼn baie idee om, as jy iets wil gee, dit vir hulle te gee.

As jy môre kan oor begin, watter soort onderneming sal dit wees?

Ons het ʼn buitengewone groei gehad en ons ken nie die einde van ons seën nie. Die vraag het ook al by my opgekom, maar ek kan nie aan iets ander dink om te doen nie. Kyk, as jy ʼn onderneming kan hê waar jy die klant is en jy bemark die produk aan jouself en jy werk met mense waarvan jy hou en jy kan heeldag met boere werk … dis fantasties.

Wat is in die pyplyn?

Ons het begin om jagtoebehore, soos ʼn geweergordel en later ʼn geweersak, te bemark, en die groot ding wat ons beplan is die Buffelsfontein-toere. Ek is baie opgewonde daaroor en ek wil nie te veel uitlap nie. Dis ʼn konsep wat niemand in Suid-Afrika nog aangepak het nie, maar ek dink dit gaan fantasties werk.

Die eerste bier is klaar beskikbaar, ons bring binnekort ʼn ander geur uit. Ons het eers die witbier uitgebring (dis die lewerolie-witbier), en die volgende een sal ʼn “blond ale” wees, meer na ʼn lager toe.

Die klerereeks sal seker einde volgende maand gereed wees. Die word van nuuts af gemaak. Ons koop nie net ʼn hemp en sit ons logo daarop nie; ons maak die hemp soos ons hom wil hê: lekker, van ligte materiaal waarmee jy kan boer of jag. Ons is baie opgewonde daaroor.

  • Vir nog inligting besoek die webwerf www.baard-olie.co.za of stuur e-pos na [email protected].Luister na hierdie episode op www.klipkouers.comKlipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers, gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.