Klipkouers: Jacques gesels met Paul Vorster


Jacques-Basson-Saskia-Beresford-Photography

Jacques Basson is die aanbieder van Klipkouers. Hy gesels hierdie week met Paul Vorster oor entrepreneurskap. Foto: Saskia Beresford Fotografie.

Paul Vorster, die breinkrag agter die ingenieursfirma Van Zyl en De Villiers in Engeland, gesels met Klipkouers oor vriendskap en sake, asook innoverende denke in die sakekonteks.

Vriendskap en sake:

Probeer om nie hegte vriendskappe met jou kliënte te vorm nie, waarsku Paul.

“Dit het ons amper ons sakeonderneming gekos. Ons het twee jaar gelede ons grootste kliënte tydens die resessie verloor en hulle het ons baie geld geskuld.

“Ons het hulle nie hard genoeg gedruk om te betaal nie.”

Volgens Paul was dit omdat hulle ’n klein firma is en goeie vriende met die kliënte geword.

“Van hulle het van ons vriendskap begin misbruik maak en ons was nie streng met die geld wat hulle ons skuld nie.

Dit is ontsettend belangrik om streng prosedures in werking te stel om skuld in te vorder, sê Paul.

Innoverende denke:

“Ek wens ek was meer innoverend. Dit is ongelooflik belangrik om konstant met nuwe idees vorendag te kom om die beste in die bedryf te wees.”

Volgens Paul moet veral Afrikaners daarteen waak om nie bang te wees om buite die boks te dink nie.

“Die meeste van ons het grootgeword met die Afrikanerkultuur waarin jy nie vrae mag vra nie. Jy moenie outoriteit bevraagteken nie en jy mag nie krities dink nie.

“Jy moet al daardie goed kan doen om in die sakewêreld te oorleef.”

Agtergrond:

Paul woon al vir 15 jaar in St. Albans in Engeland. Hy het grootgeword in Riebeeckstad in die Vrystaat.

Hy is getroud en hy en sy vrou het twee seuns.

Hy het ingenieurswese aan die voormalige Rand Afrikaanse Universiteit gestudeer. Daarna het hy eers by Iscor gaan werk en toe by Richard Pearce & Partners waar hy gevorder het tot die jongste direkteur van die maatskappy.

Die ingenieursfirma Van Zyl en De Villiers het hom vinnig opgeraap om ’n meganiese ingenieursdepartement in Engeland te gaan vestig.

  • Wat is die rede dat jy dié onderneming in dié bedryf aangepak het?

Ek het gedink ek gaan net vir twee jaar Engeland toe, ervaring opdoen en terugkeer na Suid-Afrika. Ná ses maande het ek en my vennoot die geleentheid gekry om Van Zyl en De Villiers oor te koop en ons eie maatskappy te stig.

  • Hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf?

Ons is ’n baie klein bedryf en het net 20 werknemers. Ons het ’n nichemark en werf dus net kliënte deur bestaande kliënte se aanbevelings.

  • Wat is die grootste sakefout wat jy al begaan het?

Ons het vriende geword met kliënte en was nie streng genoeg met die invorder van skuld nie. Die een kliënt het toe verdwyn sonder om sy skuld te betaal. Dit het ons amper ons onderneming gekos.

  •  Wat is jou grootste swakheid?

My onvermoë om te delegeer. Ek is ʼn beheervraat.

  •  Wat is die een eienskap wat jy wens jy het?

Ek wens ek was meer innoverend. Ek moet konstant met nuwe idees vorendag kom om vooruit te gaan.

  •  Sonder sagteware kan jy nie klaarkom nie?

Windows Outlook. En IES- modulasie sagteware.

  •  Is daar ’n boek wat jy kan aanbeveel?

Steve Jobs se biografie.

  • Wie is vir jou ʼn inspirasie en waarom?

Steve Jobs – as ingenieur en innoveerder. Hy het die vermoë gehad om produkte te skep wat ons nie eens geweet het ons wil hê nie.

  • Wat is jou gunsteling-aanhaling?

Here’s to the crazy ones. The misfits. The rebels. The troublemakers. The round pegs in the square holes. The ones who see things differently. They’re not fond of rules. And they have no respect for the status quo. You can quote them, disagree with them, glorify or vilify them. About the only thing you can’t do is ignore them. Because they change things. They push the human race forward. And while some may see them as the crazy ones, we see genius. Because the people who are crazy enough to think they can change the world, are the ones who do.” – Steve Jobs

  • As jy môre weer oor kan begin, watter soort sakeonderming sal dit wees?

Ek wil niks verander nie. Ek glo nie aan foute maak nie. Ek is spyt oor niks nie.

Maak kontak met Paul:

E-pos: [email protected]

www.vzdv.com

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers, gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.