Klipkouers: Jacques gesels met Pieter Cilliers


Klipkouers-logo-03

Grafika: Verskaf.

Pieter Cilliers is die eienaar van SignMasters of Tyler in Texas, VSA. Hy gesels met my onder meer oor sy Suid Afrikaanse besighede en hoe hy te werk gegaan het om ʼn  nuwe onderneming in Texas suksesvol te vestig.

Vertel ons ʼn bietjie meer oor jouself:

 Ek woon in Oos-Texas, ongeveer ʼn uur se ry van Taylor, Texas. Taylor, Texas is ook beter bekend as die Rosestad soos Bloemfontein in die Vrystaat waar ek oorspronklik vandaan kom. Ek het ʼn vrou en twee kinders. My vrou is Amerikaans en al twee my kinders is in Suid-Afrika gebore en nou is ons weer terug in Oos-Texas waar ons ʼn sakeonderneming het. Ons doen grafiese ontwerpe vir enige soort embleem en/of logo. Ons het 11 jaar gelede die onderneming begin en ons geniet steeds elke oomblik daarvan.

  1. Wat is die rede dat jy ʼn onderneming in hierdie bedryf aangepak het?

 Nadat ons terug gekom het van Amerika wou ek graag ʼn klein sakeonderneming begin. Ek het saam met ʼn konsultant gewerk wat my gehelp het om te kyk na moontlikhede en wat my visie is en met dié het die idee ontstaan vir ʼn besigheid in die grafiese ontwerpbedryf.

Jy het al voorheen in Bloemfontein jou eie onderneming gehad?

Ja, ek was maar nog altyd ʼn entrepreneur gewees. My vrou sê altyd ʼn mens het meer waagmoed as verstand, maar daardie begeerte was nog altyd daar. Ek was nog nooit bang om kanse en risiko’s te neem nie. Dit is nou 11 jaar later en dit was alles die moeite werd gewees. Dit was nie maklik nie en dit was beslis een van die moeilikste goed wat ek nog aangepak het, maar tegelyk ook die een wat my die meeste vervulling gegee het. Dit gaan baie beter as wat ek ooit gedink het dit sou gegaan het.

  1. Hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf?

Aanvanklik het ons baie na die sakedinees gegaan, maar dit het nie vir my geweldige resultate gelewer nie. Wat wél vir my gewerk het, was die internet en ons webblad. Wat van kardinale belang is, is verwysings: bestaande kliënte wat gelukkig is met ons diens wat ons weer na ander kliënte verwys.

In terme van jou webblad, praat ons nou van die Google-soekenjin en die optimalisering van die webblad?

Beslis ja, nie net die webblad wat ons het nie, maar ook om seker te maak dat jy dit optimaliseer. Ons plaas op ʼn weeklikse basis inligting op Facebook asook klein video-opnames, waarna ons kliënte kan kyk op YouTube. ʼn Onderneming kan baie voornemende kliënte bereik deur middel van Google, as jy net op ʼn weeklikse basis ʼn bietjie tyd insit.

Hoe gaan julle te werk om vir daardie kliënte verwysings te vra?

My verkoopstyl is om ʼn verhouding te bou met my kliënte. Ons is maar ʼn klein gemeenskap, so jy bou maar ʼn verhouding met al die sakeondernemings. Ek gaan eerder uit na ʼn besigheid toe en gaan stel myself voor aan die mense, eerder as om net te skakel.

  1. Wat is die grootste sakefout wat jy tot dusver gemaak het?

As ek moet terugkyk dink ek ek moes ʼn bietjie meer betaal het vir arbeid; dan sou ek dalk ʼn beter kwaliteit werknemer gekry het. Iemand het eendag gesê: “As long as you pretend to pay they will pretend to work.” Eers nadat ek beter begin betaal het, het ek ʼn beter werknemer begin kry. Ek kon meer gedelegeer het en meer verantwoordelikhede aan die werknemer gegee het, waar ek altyd alles self wou gedoen het. Ek dink ook ʼn mens moet stadiger personeel aanstel en vinniger personeel afdank en die goeie personeel behou.

  1. Wat is jou grootste swakheid?

 Ek wens ek was een van daardie mense wat in die oggend kan opstaan en ʼn beker stomende koffie drink terwyl jy die son sien opkom, maar ek is nie een van daardie mense nie. Ek sal graag ʼn oggendmens wil wees wat ʼn uur vroeër kan opstaan en my dag rustig kan begin.

  1. Wat is die een gewoonte wat jy wens jy het?

Dit is maar die vroeg opstaan. Ek is ʼn “groot prentjie” soort mens en dit is miskien my swakheid. Ek wens ek was ʼn bietjie beter met fyner besonderhede. Ek het altyd iemand nodig om my te help met die inligting en besonderhede, ek kan die groot prentjie sien, maar nie die fynere besonderhede nie.

  1. Watter sagteware is vir jou eenvoudig onontbeerlik?

 Vir persoonlike gebruik is dit my slimfoon. Vir sakedoeleindes is dit die sagteware genaamd Cyruous wat spesifiek ontwerp is vir hierdie soort bedryf waarin ek is. Dit help my met al die fasette van die besigheid. Dit help my geweldig baie want ek kan tot en met tien jaar terug gaan en presies weet wat ek op ʼn spesifieke dag gedoen het.

Sal daardie sagteware jou byvoorbeeld herinner aan ʼn kliënt se verjaardag ensovoorts?

Ja dit sal. Ek gebruik maar net seker 40% van die hele program en ons is nog besig om al die fynere besonderhede van die program aan te leer.

  1. Watter boek sal jy aanbeveel as ʼn boek wat moet gelees word?

 Eerstens sal ek sê my Bybel. Dit is seker die boek wat ek die meeste gebruik. Die Bybel gee my die wysheid en insig op al die groot vrae van die lewe asook hoe ʼn mens dit kan toepas oral in jou lewe.

Tweedens sal ek sê Rich Dad Poor Dad van Robert Kiyosaki. Dit het my baie gehelp om te kyk na die sakebedryf en al sy aspekte. Ek het lesse uit die boek begin te toepas in die bedryf soos wat dit in die boek beskryf word. Ek moet sê, dit het nogal ʼn reuse-verskil gemaak en dit raak elke jaar net beter.

  1. Wie is jou grootste inspirasie en waarom?

In my persoonlike lewe is my pa my grootste inspirasie en rolmodel. Baie van die goed wat ek geleer het en weet, het ek by my pa geleer. Hy was nog altyd ʼn goeie sakeman, ʼn goeie pa en ʼn goeie man vir sy vrou gewees. Wat my die meeste inspireer van my pa is sy tydberekening. My pa weet altyd wanneer om ʼn projek aan te pak en wanneer om ʼn projek te laat vaar. Hy het net daardie dissipline om altyd die regte ding op die regte tyd te doen.

  1. Wat is jou gunsteling-aanhaling?

“Kies jou veldslae om die oorlog te wen.” Daar is baie wysheid in daardie woorde, nie net vir die lewe nie, maar ook vir in die sakewêreld.

  1. As jy terugkyk en môre weer kan oor begin, watter soort onderneming sou dit wees?

Ek sal definitief weer een of ander soort vervaardigingsbedryf begin het. Daar is twee hoofredes hiervoor:

    • Die eerste een is die veilige ruimtes vir moontlike groei. Sodra jy iets persoonlik doen, kan jy meer vra vir jou produk. Met ander woorde daar is baie meer ruimte vir groei in die vervaardigingsbedryf as dit die regte produk is wat jy vervaardig.
    • Die tweede een is die herverkoopwaarde. Die navorsing wat ek gedoen het saam met die konsultant het dit vir my duidelik uitgewys dat wanneer dit kom by die herverkoopwaarde van ʼn besigheid, is ʼn vervaardigingsbesigheid een van die beste keuses om van uit te kies.

Is daar ʼn droomproduk wat jy eendag sou wou vervaardig?

Daar is nie noodwendig ʼn droomproduk wat ek sou wou vervaardig nie, maar ek dink dit is meer my droom om myself langtermyn só te posisioneer dat ek meer tyd het vir myself en beleggings, wat vir my die kapitaal gee om meer in eiendomme te belê.

Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

My e-pos-adres is [email protected].

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers, gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.