Klipkouers: Jacques gesels met Tania Vermeulen


Klipkouers-logo-01

Grafika: Verskaf.

Mousetrap Cheese is ’n onderneming in Kaapstad wat kaas verskaf aan restaurante en lugrederye. Die Suid-Afrikaner Tania Vermeulen is die dryfkrag agter dié onderneming. Sy gesels met Klipkouers oor onder meer eerlikheid met kliënte en hoë emosionele betrokkenheid by personeel.

“Daar is daagliks foute wat ek maak. Ek het die onderneming nou eers vir ’n jaar en ’n half.”

Een fout waarmee Tania sukkel, is om nee te sê.

“Daar is ’n element van goed daarin om nie te kan nee sê nie, maar ek suffer dan as ek vir alles ja sê.

“Wees eerlik met die kliënte. Dit kan baie vinnig backfire as jy mooi storietjies spin. Ek het al ’n paar lesse geleer. Wees blatant eerlik. Kliënte het al vir ons dankie kom sê omdat ons eerlik was oor iets.”

Moenie iets belowe as jy dit nie kan doen of nie daarvoor tyd het nie, waarsku Tania.

’n Ander probleem is wanneer jy te emosioneel betrokke raak by dinge, vertel sy.

“Ek raak veral te emosioneel betrokke by personeel. ’n Mens is geneig om altyd mense te wil help. Mense maak dan graag misbruik daarvan.

“Ek sukkel met konflikhantering. Ek probeer dit vermy. Ek is nie goed met konflik nie.”

Volgens haar is dit beter om eerder mense te kry om te help met dié goed waarmee jy nie goed is nie.

“Ek moes ’n HR-konsultant aanstel om te help met personeelbestuur.

“Jy probeer koste spaar om eerder die goed self te doen. Daar is sekere aspekte waarvan jy nie kennis het nie. Jy mors jou tyd om dit te probeer doen en dit veroorsaak frustrasie. Gee dit vir iemand wat weet wat hy doen.”

Opsomming van vrae:

Tania Vermeulen het ’n Bcom-graad aan die Kovsies behaal. Sy het daarna vir twee jaar in Welkom by Boland Bank gewerk. Daarna was sy ’n rekenmeester by Gray Security en in 2000 is sy aangestel as hul adminbestuurder in die Kaap. Sy het ná dit vir 12 jaar vir Ou Mutual gewerk en besit The Mousetrap nou al vir 18 maande.

  •  Wat is die rede dat jy hierdie onderneming en bedryf aangepak het?

Ek is uit die formele sektor gedwing. Dinge het begin skeefloop waar ek was. Toe het my man my bekendgestel aan sakeopsies.

  • Wat is die grootste sakefout wat jy gemaak het?

Kontantvloei. Niemand het die woord kontantvloei genoem nie. Dit was ’n wrede ontnugtering.

  • Wat is jou grootste swakheid?

Ek sukkel om nee te sê, ek raak partykeer emosioneel betrokke by goed en ek is ’n beheervraat ek wil altyd alles self reg doen.

  • Wat is die een gewoonte wat jy wens jy het?

Ek kan vreeslik uitstel. Ek wens ek kan aanleer om goed dadelik af te handel. As jy dit net van die begin af gedoen het, dan was dit klaar. Just do it.

  • Watter sagteware kan jy nie sonder klaarkom nie?

Definitief Pastel. My hele rekeningkundestelsel steun daarop.

  • Is daar ’n boek wat jy sal aanbeveel as ’n moet-lees?

Who Moved my Cheese? deur Spencer Johnson.

  • Wie is die persoon wat vir jou ’n inspirasie is en waarom?

Daar is nie ’n spesifieke persoon wat ek kan noem nie. Daar is gedurig iemand anders. [Luister na die onderhoud met Tania om uit te vind wie op daardie tydstip haar inspirasie was.]

  • Wat is jou gunsteling-aanhaling?

“You miss 100% of the shots you don’t take.” van Wayne Gretzky.

“Life is really simple, but we insist on making it really complicated.”

  • As jy môre kon oor begin, watter soort onderneming sal dit wees?

Dis ’n moeilike een omdat ek nog nuut hierin is. Ek geniet wat ek nou doen.

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers, gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.