Klipkouers: Jacques gesels met Theresa Louw


Klipkouers-logo-03

Grafika: Verskaf.

Van medies tot regte tot pensioenfondse tot haarverlenging-ghoeroe … Theresa Louw, die eienaar van Make-Over Boutique, vertel onder meer aan Klipkouers hoe belangrik ’n goeie naam vir besighede is en hoe jy moet waak teen te veel aandeelhouers.

Theresa het haar eerste besigheid gekoop en vanuit ’n motorhuis bedryf. In die begin het die besigheid slegs 50 agente en 200 kliënte gehad. Binne vyf jaar het dit gegroei tot 1 500 kliënte en tussen 500 en 800 agente landwyd.

Theresa is ’n passievolle en toegewyde vrou wat baie raad kan gee oor veral bemarking en foute wat ’n jong entrepreneur behoort te vermy.

Bemarking:

Volgens haar is die eerste ding wat jy moet onthou om binne te begin en buitentoe te werk.

“Begin met jou ma, jou sussie en beste vriendin. Toets die diens of produk op hulle. Hulle gaan dan vir hulle vriendinne vertel en so kan jou besigheid groei.”

Die heel beste bemarkingsmetode is word of mouth en persoonlike verwysings, vertel sy.

“Die ander belangrike aspek van bemarking is daardie goeie naam. Dis ’n langtermyn-ding wat jy altyd moet onthou. Ek het nog altyd die motto gehad dat my naam meer werd is as een sale.

“Jy doen iets na die heel beste van jou vermoë. Dis hoe jy elke liewe kliënt moet benader.”

Volgens haar is die derde aspek van bemarking eerlikheid.

“As jy nooit weer iemand wil sien nie, maak mooi praatjies en oulike advertensies met dubbelsinnige boodskappe. As jy wil hê mense moet na jou terugkom, wees eerlik van die begin af.”

Besigheidsfoute om te vermy:

Volgens haar is daar drie groot besigheidsfoute om te vermy:

  • Wees suinig vir wie jy aandele uitdeel. Jy droom miskien groot, maar het geen idee of jy daar gaan uitkom nie. Hou jou besigheid jou eie. Never partner with a skill you can hire.
  • Daar is twee maniere om geld te maak – nie net om meer in te bring nie, maar ook om minder uit te gee. Uitgawes maak besighede dood.
  • Pasop vir die “te”-mense. Alles met ’n “te” vooraan is verkeerd. Pasop vir te entoesiasties, te godsdienstig of te Sjinees.

Die Make-Over Boutique fokus hoofsaaklik op die verkoop van haarverlengstukke (hair extensions).

 Agtergrond:

Theresa Louw is die eienaar van die Make-Over Boutique in Suid-Afrika. Sy het in Welkom grootgeword. Volgens haar het sy al meer “180°-draaie as ’n race driver” gemaak. Sy het vir twee jaar medies gestudeer en toe regte. Daarna het sy die korporatiewe wêreld betree en pensioenfondse verkoop. Sy het daarna Make-Over Boutique op die been gebring.

  • Waarom het jy hierdie besigheid en bedryf aangepak?

Ek was in die korporatiewe bedryf in pensioenfondse. Ek het besef ek gaan nooit in my lewe die kans kry om werklik geld te maak en myself te ontwikkel as ek vir ’n baas werk nie. Ek en my pa het toe begin uitkyk vir ’n besigheid om te koop. Ek het alles in een maand gelos en met Make-Over Boutique begin.

  • Hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf?

Word of mouth, reputasiebestuur (goeie naam) en eerlikheid.

  • Wat is die grootste besigheidsfout wat jy gemaak het?

Wees suinig vir wie jy aandele uitdeel. Jy droom miskien groot, maar het geen idee of jy daar gaan uitkom nie. Hou jou besigheid jou eie. Never partner with a skill you can hire.

Daar is twee maniere om geld te maak – nie net om meer in te bring nie, maar ook om minder uit te gee. Uitgawes maak besighede dood.

Pasop vir die “te”-mense. Alles met ’n “te” vooraan is verkeerd. Pasop vir te entoesiasties, te godsdienstig of te Sjinees.

  • Wat is jou grootste swakheid?

Ek maak niks klaar nie. Ek is ʼn dromer. Ek is van passie aanmekaargesit.

  • Wat is die een gewoonte wat jy begeer?

Ek wens ek was ʼn oggendmens. Ek kry eers persoonlikheid ná 9:00 soggens.

  • Sonder watter sagteware kan jy nie klaarkom nie?

Sage One, Cloud Calender, WhatsApp, Facebook en Instagram.

  • Watter boek sal jy aanbeveel as ’n moet-lees?

The Alchemist deur Paulo Coelho

The Prince deur Niccolò Machiavelli

  • Wie is vir jou ’n inspirasie en hoekom?

Coco Chanel

  • Wat is jou gunsteling-aanhaling?

My lewe is een groot quote, anyway, spot sy.

“It is what it is.”

“This too shall pass.”

  • As jy môre kon oorbegin, met watse tipe besigheid sou dit wees?

Ek is besig om te kwalifiseer as lewensafrigter (life coach). Dit is waarheen ek mik.

Maak kontak met Theresa:

Webwerf: make-over.co.za

E-posadres: [email protected]

Facebook: facebook.com/Makeover1234

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers, gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.