Klipkouers: Jacques gesels met Tiaan de Jager


Jacques-Basson-Saskia-Beresford-Photography

Jacques Basson is die aanbieder van Klipkouers. Hy gesels hierdie week met Tiaan de Jager oor entrepreneurskap. Foto: Saskia Beresford Fotografie.

Tiaan de Jager, stigter van Medifin en Greenfin, gesels met my oor sy innoverende, webgebaseerde finansieringsdienste-onderneming en onder meer hoe sy verskaffers strategiese vennote is, wat bydra tot laer kostes.

  • Vertel ons ʼn bietjie meer van jouself.

Ek het voorheen in Bloemfontein gewoon. Ek het Medifin en Greenfin ongeveer drie jaar gelede gestig, nadat ek vir baie jare in die korporatiewe wêreld gewerk het. Ek moet byvoeg ek geniet my loopbaan nou vir die eerste keer regtigwaar en my lewe is baie bedrywig tans. Ek woon nou in die Kaap en ek is vir geen oomblik spyt dat ek die skuif hierheen gemaak het nie.

  • Hoekom het jy besluit om hierdie soort maatskappye in hierdie bedryf aan te pak?

Terwyl ek ʼn student was, was die een vraag wat die heeltyd in my kop bly maal het: “Wat presies gaan ek doen?” Ek het begin kyk na verskeie idees en geleenthede. Heel aan die einde van my kursus het ek egter besluit dat ek moet bly by dit wat ek goed ken. Dit help nie ek begin maatskappye in bedrywe waarvan ek niks weet nie. Ek het nog altyd in die finansiële bedryf gewerk en daarom het ek besluit om my eie finansiëledienstemaatskappye te stig.

  • Finansiële dienste is baie interessant, maar op watter soort finansiële dienste het jy toe besluit?

Hierdie maatskappye verskaf geen persoonlike lenings nie, net onversekerde lenings en die maatskappye verskaf dit vir spesifieke doeleindes. Die maatskappye kan nie vergelyk word met ‘Capitec’ en ‘African Bank’ en daardie kategorie van onversekerde lenings nie. Die maatskappye bied lenings aan in spesifieke kategorieë. Medifin finansier byvoorbeeld enige prosedure wat nie deur jou mediese fonds gedek word nie. Wat die maatskappy anders maak as ander finansierders, is dat die maatskappy ʼn verhouding het met die verskaffer en dus die dokter direk betaal. Jy hoef dus nie bekommerd te wees oor die administrasie daarvan nie en jy betaal die maatskappy weer terug oor ʼn tydperk van 24 – 36 maande.

Dieselfde gebeur by Greenfin, waar die maatskappy die ‘Solar installer’ direk betaal omdat Greenfin ʼn goeie verhouding met die verskaffer het en weet die diens is goed. Die kliënt kan dus ook die verskaffer vertrou en die kliënt betaal dan die lening af by Greenfin.

  • Ek hou van die idee dat die maatskappye die verskaffers direk betaal. Dit maak jou maatskappye baie uniek.

Die maatskappy se personeel gaan eers ʼn verskaffer se agtergrond na om seker te maak hy is waar nodig, geregistreer en gebruik produkte wat die SABS se stempel dra. Ons maak ook eers seker die verskaffers het goeie sakeverwysings en het vorige ondervinding van die werk. Ons verseker ook dat die verskaffer se produkte en diens gewaarborg is sodat kliënte gemoedsrus het. Ons lenings sorg ook dat die verskaffers nie met kontantvloei sukkel nie deur 100% van die lening op die eerste dag uit te betaal op voorwaarde dat die verskaffer ook aan die kliënt ʼn goeie diens lewer.

  • Watter van die twee maatskappye groei die vinnigste?

Ek het Medifin eerste gestig en dit het redelik vinnig gegroei. Twee jaar later het die beurtkrag begin en toe het ek besluit om Greenfin te stig. Dit was makliker om die tweede maatskappy te stig en dit het ook baie vinnig gegroei, veral omdat die produk ʼn groot aanvraag het. Ek dink Greenfin het ʼn baie groter toekoms in Suid-Afrika, veral met die land se kragprobleem en die prys van krag wat sporadies styg.

  • Hoe gaan die maatskappye te werk om nuwe kliënte te werf?

Die maatskappye werf nuwe kliënte op verskeie maniere, maar dit is veral belangrik dat die maatskappye goeie verhoudings met die verskaffers het. Die maatskappye is ʼn sakemodel waar die verskaffers eintlik die bemarking vir die maatskappye doen. ʼn Groot pluspunt is dat die maatskappye ʼn aanlyn-onderneming is in ʼn tyd wat almal aanlyn koop. As die maatskappye se verskaffers ʼn kwotasie aan die huishoudings gee, skrik die kliënte nogal groot as hulle sien hoe duur dit werklik is. Die verskaffer gee die kliënt dan die opsie om Greenfin te gebruik vir die finansiering. Dit werk ook goed dat die kwotasie gehou word so na as moontlik aan die kliënt se huidige elektrisiteitsrekening. As jy byvoorbeeld R2 000 per maand aan die munisipaliteit betaal, probeer die maatskappye om die finansieringskwotasie so na as moontlik aan R2 000 te hou, sodat die terugbetaling nie die kliënt se sak so reg skud nie.

  • Dit is vir my wonderlik dat die maatskappye hierdie gratis verkoopsman het, in die verskaffers.

Die maatskappye was eintlik mekaar se hande, want as die maatskappy ʼn kwotasie aan die kliënt gee en die kliënt besluit dit is te duur, verloor die maatskappy die kliënt, maar as die maatskappy die kliënt na Greenfin stuur, trek almal voordeel daaruit. Baie kliënte het ook nie altyd ʼn idee waar om te begin soek nie. Die maatskappye verskaf ʼn platform vir kliënte om kwotasies te kry. Greenfin het ook ‘Solar quotes’, wat vergelyk kan word met Hippo vir versekering. Indien die kliënt op die ‘Solar quotes’ gaan kliek, hoef die kliënt net sy of haar besonderhede in te vul. Ons stuur dan die besonderhede na al ons verskaffers in die omgewing en so kan vyf of ses verskillende verskaffers van verskeie maatskappye die kliënt skakel om ʼn kwotasie te gee.

  • Wat is die grootste sakefout wat jy tot dusver gemaak het?

Moet nooit in der ewigheid sake met vriende of familie doen nie, nooit nie, dit maak nie saak hoe goed dit klink of lyk nie. Dit is baie makliker om te verskil oor besigheid met ʼn vreemdeling, as met iemand wat jy baie goed ken. Wanneer geld betrokke raak, loop dinge baie maklik verkeerd tussen vriende en so moes ek al ʼn vriend of twee afskryf weens sake.

  • Wat is jou grootste swakheid?

Ek is ongeduldig, kieskeurig, bevooroordeeld en eintlik vol nukke en grille. My grootste swakheid wanneer dit by sake kom, is dat ek bang is om risiko’s te neem. Daar was al baie geleenthede waar ek eenvoudig net te bang was en nie die geleentheid aangegryp het nie, omdat ek nie die risiko wou neem nie. Maar ek neem aan dit is die gevolg van die kultuur waarin ek grootgeword het. Deesdae werk ek hard daaraan en ek geniet dit al hoe meer om risiko’s te neem, want sodra ʼn mens besef die lewe gaan nie net oor geld nie, maar oor wat jy met jou tyd maak, terwyl jy leef, begin dinge makliker word.

  • Wat is die een gewoonte wat jy wens jy kan aanleer?

Om vroeg op te staan, maar ek is ʼn naguil wat daarvan hou om te slaap en ek wens ek kan vroeg opstaan om my dag vroeër te begin, maar ek sukkel baie daarmee.

  • Sonder watter sagteware kan jy eenvoudig net nie klaarkom nie?

Persoonlik – Facebook, want ek hou daarvan om te wys waar ek is. Gewoonlik bel so baie mense my dan en sê hulle is ook daar en dan kuier ons heerlik saam.

Sake – die Wolk (Cloud), want as die onderneming afbrand, kan ek net nuwe rekenaars koop, op die internet inskakel en dan kan alles dadelik weer aangaan soos gewoonlik. Ek stoor al my maatskappye se data op Cloud.

  •  Watter boeke sal jy aanbeveel as ʼn moet-lees?

 Ek was slegs geforseer om besigheidsboeke te lees tydens my MBA, want ek was nog altyd iemand wat daarvan gehou het om fiksie te lees.

Ek het Freakonomics deur Stephen J Dubner en Steven Levitt baie geniet.

Ek hou ook baie van enige boek of artikel wat deur Jeremy Clarkson van Top Gear geskryf is. Ek is veral versot op sy humorsin, want dit laat my lagspiere ook so ʼn bietjie werk.

As kind het ek baie van The Power of one deur Bryce Courtenay gehou. Ek het natuurlik ook al Wilbur Smith se boeke verorber, maar deesdae verlustig ek myself eerder in die films. Daar is uitstekende films met groot lesse wat nooit eers in teaters gewys word nie, waarvoor ʼn mens net moet gaan soek. Dit doen dieselfde as ʼn boek, omdat ʼn mens so gejaagd lewe, kry jy ʼn hele boek in ʼn kwessie van ʼn uur en ʼn half in.

Vir die Klipkouers wat nie weet wat “Freakonomics” is nie, dit gaan oor ‘Behavioural Economics’. Dit is ʼn kombinasie van verbruikerssielkunde, wat ons dink en doen, gekombineer met die huidige ekonomie wat fassinerende stories maak.

  • Wie is vir jou die grootste inspirasie in jou lewe en hoekom?

Daar is nie ʼn spesifieke iemand in my lewe wat ek as ʼn rolmodel kan uitsonder nie, want ek glo nie mense moet iemand anders ophemel nie. Ek vergelyk myself met my vriende, want hulle is mense wat op dieselfde manier as ek grootgeword het. Vir my persoonlik is enige Afrikaner wat ʼn sukses maak van ʼn onderneming, vir my ʼn inspirasie.

  • Wat is jou gunsteling aanhaling wat jy gereeld gebruik?

 Galasiërs 6 vers 7 – “…Wat ʼn mens saai, dit sal hy ook oes.”

As jy in karma glo – die wiel draai. Ek glo alles kom terug na jou toe.

  •  Met alles wat jy nou weet en as jy môre oor kan begin; watter soort onderneming sou dit wees?

As ek weet wat ek vandag alles weet, sou ek twintig jaar gelede in die regte eiendom en die regte aandele belê het. Ek sou golf gespeel het vir ʼn lewe. Eerlikwaar. Ek sou dieselfde gedoen het, net slimmer, vinniger en vroeër.

  •  Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

Die Klipkouers kan my webtuiste besoek by www.medifin.co.za of www.greenfin.co.za of die Klipkouers kan vir my ʼn e-pos stuur na [email protected] of [email protected].

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers, gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.