Kollig-vroue deel hul hart in geselsvideo’s

Die vier vroue van 4 Minutes #Coffee and Convo's, Karien Basson, Rouchelle Liedeman, Leigh-Anne Williams en Tanya van Graan. Foto: Verskaf

Die vier vroue van 4 Minutes #Coffee and Convo’s, Karien Basson, Rouchelle Liedeman,
Leigh-Anne Williams en Tanya van Graan. Foto: Verskaf

4Minutes #CoffeeandConvo’s, ʼn YouTube-videoreeks met Karien Basson, Tanya van Graan, Leigh-Anne Williams en Rouchelle Liedeman, is ʼn versameling van vier-minute-geselsvideo’s wat beloof om alle aspekte van die lewe aan te raak – waaronder dié temas waaroor ander nie praat nie.

Dié gesprekreeks ontvou rondom die idee dat ʼn enkele situasie ʼn onuitwisbare indruk op iemand kan laat.

Karien Basson, joernalis en radio-aanbieder by Tygerberg 104FM, sê die reeks beloof om ʼn van-aangesig-tot-aangesig-ontmoeting te wees met geloof, aktualiteit en daaglikse vrae. Dié vroue word die kans gegee om hul opvattings en lewenservaring te deel.

“Daar is nog nooit iets soortgelyks in Suid-Afrika aangebied nie. Dit is ’n geleentheid vir die algemene vrou om inspirasie te kry uit die mond van vroue in die kollig – wat eintlik ook net vroue is. Dit is ʼn vier-minute-ervaring van eerlike indrukke en lewensopvattings wat die Woord van God eerste plaas,” het Karien vertel.

Temas wat die vroue beplan om te bespreek in van die eerste video’s sluit onder meer in om vrede te maak met onvolmaaktheid, bewus te wees van die stoomroller-effek van jou denke, in die oomblik te leef, dankbaarheid en om te dink voor jy praat. Video’s word geredigeer en vervaardig deur Etienne Janse van Rensburg.

Meer oor die vroue

Karien Basson is ’n gesertifiseerde Transformation Coach, NLP Life Coach, NLP Practitioner en Negative Emotional Therapy-praktisyn. Ná tien jaar in die mediabedryf as joernalis en radio-aanbieder is sy ’n bekende stem op Tygerberg 104FM. Haar boek, ’n Boodskap van Hoop, met 50 van Suid-Afrika se  bekroonde sportsterre, het binne slegs drie maande die topverkoperlys gehaal.

Tanya van Graan is ’n bekende gesig in die rolprent-, musiek en modewêreld. Dit is egter in haar betrokkenheid by vele welsynsorganisasies as die gesig van Pink Polo SA en ondersteuning van dierebeskermingsprojekte waar Tanya se hart veral gesien word.

Leigh-Anne Williams is die bekende gesig wat Suid-Afrikaners weeksdae vroegdag groet op SABC3 se Ontbytprogam, Expresso. Sy skuif weeksdae agter die mikrofoon in en vorm deel van die Spitstydprogram in die middae op Goodhope FM.

Die Sama-benoemde Rouchelle Liedeman is ʼn Kaapse gospelsanger. Die voormalige radio-omroeper van Tygerberg 104FM is sedert Augustus 2015 deel van die Groot Ontbyt-span op kykNET as Kaapse korrespondent, waar sy daagliks met van Suid-Afrika se topkunstenaars, sakemanne en entrepreneurs gesels.

Volg 4 Minutes #CoffeeandConvo’s op Facebook.

Kyk hier na hulle eerste video.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.