Kom draf saam met die Medihelp ‘Sunrise Monster’

Verlede jaar se Sunrise Monster-wedloop. Foto: Verskaf

Verlede jaar se Sunrise Monster-wedloop. Foto: Verskaf

Medihelp se 39ste “Sunrise Monster”-padwedloop word vanjaar op 5 Maart by die Harlequin-klub in Totiusstraat in Groenkloof, Pretoria, gehou.

Die roete vir die onderskeie wedlope oor 32 km en 10 km en die 5 km-pretdraf kronkel deur die Groenkloof Natuurreservaat en sluit die heuwels van Monument Park in. Dié pretdraf is vir menige professionele atleet ʼn uitdaging wat hulle eenvoudig móét aanpak.

Die wedloop is die grootste 10 km-padwedloop in Gauteng-Noord en staan bekend as een van die beste voorbereidingswedlope vir die Comrades Marathon.

Heyn van Rooyen, Medihelp se hoofbeampte, sê hoewel die wedloop berug is vir sy steil op- en afdraandes, kan dit oorwin word as deelnemers vooraf daarvoor oefen.

“Om fiks en gesond te wees, is deel van die Medihelp MultiSport-klub se kernwaardes en ons is dus baie opgewonde om aan te kondig dat ons klublede gratis aan die Medihelp Sunrise Monster kan deelneem. “Ons verwag om vanjaar selfs nog meer gesinne in groen uitrustings te sien, gereed om die berugte Monster te verslaan,” het Van Rooyen gesê.

Deelnemers kan vanjaar ook uitsien na ʼn fotohokkie by die geleentheid waar drawwers ʼn foto kan uitdruk en huis toe neem. Jy kan ook vooraf foto’s met die hutsmerk #MedihelpMonster gratis by die fotohokkie druk.

Drawwers wat in groen geklee is, staan die kans om een van twee pryse ter waarde van R1 000 elk te wen. Alle geregistreerde atlete wat die wedloop voltooi kry ook ʼn gratis T-hemp.

ER24 sal by die Medihelp Sunrise Monster teenwoordig wees om bystand te verleen met enige mediese noodgeval wat opduik.

Besoek Medihelp se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.