Kom hou partytjie, Parys!

Eulania van Rensburg. Foto: Facebook via Lou van Rensburg

Eulania van Rensburg. Foto: Facebook via Lou van Rensburg

ʼn Ongewone uitnodiging na ʼn sestiende verjaardagpartytjie in Parys in die Vrystaat word tans wyd op sosiale media gedeel.

Eulania van Rensburg, wat op 16 Februarie haar verjaardag vier, vra die inwoners van Parys om op 6 Februarie tussen 09:00 en 14:00 na haar gróót partytjie toe te kom met geskenke soos niebederfbare kos, troeteldierkos of komberse vir mense of diere.

Sy het die uitnodiging op Facebook gerig en dié inskrywing is reeds meer as 2 000 keer gedeel.

Van Rensburg se pa, wat die inskrywing gemaak het, het vertel dié geskenke sal versprei word aan behoeftige mense in die omgewing.

“Elida Janse van Nieuwenhuizen sal die verspreiding van die kos vir behoeftiges behartig en ons gaan die dierekinders by die DBV ook lekker bederf,” het Van Rensburg op Facebook gesê.

Partytjiegangers wat ʼn geskenk bring, sal bederf word met ʼn lekker kolwyntjie.

Facebook-gebruikers van regoor die land ondersteun intussen dié projek. “Dit is die mooiste gebaar ooit. Wonderlike gedagte, sal beslis hierdie mooie mens se dag bywoon. Ek hoop daar is genoeg kolwyntjies, want Parys se mense rock,” het Linda Jacobs geskryf.

Boodskappe van ondersteuning vir die ongewone gebaar stroom ook op Facebook in. “Wat ʼn pragtige jong meisie! Hoop die Here gaan jou dag baie spesiaal maak, mag jý ook so bederf word met geskenke want jy het ʼn hart van goud,” het Kotie Erasmus gesê.

Neem deel aan die gesprek op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Deloris ·

Laat sy ‘n voorbeeld wees vir baie om te volg. Knap gedaan jonge dame, en dit gaan reen oor jou met seeninge.

charmaine ·

Wat n wonderlike idee. En mag jou 16de verjaardag baie geseend wees. Jou ouers moet baie trots wees en is bevoorreg om so oulike dogter te,net soos jy bevoorreg is om hulle as ouers te he waardeer en wees lief vir hulle.Met sulke gedrag sal jy ver kom in die lewe.

Rikku ·

Wat n Oulike Idee, van n beeldskone tiener ! Mag jou 16de verjaarsdag vol vreuge en verrasings vir jou wees.

Eliza-beth ·

Jong, jy is ‘n meisiekind so na my HART! Welgedaan, ek hoop jy kry self sommer ook baie geskenke en verder tonne liefde – jy verdien dit. Met kinders soos jy is die toekoms van ons mensdom sommer rooskleurig – jy kan, en GAAN ‘n verskil maak, ek glo dit! “You can judge a man’s true character by the way he treats his fellow animals” Paul McCartney – en ek is seker met “man” bedoel hy “mankind” – dus mans en vroue!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.