Kontrakte: Vermy dié slaggate

kontrak

Foto: Unsplash/Pixabay.com

Verbruikers wil graag geld spaar in tye wat ʼn mens die rieme maar moet dun sny. Daarom klink ʼn aanbod om ʼn kontrak vir 24 maande te teken, wat sal verseker dat jou maandelikse betaling nie binne hierdie tydperk sal styg nie, na ʼn goeie idee. Maar sal goedkoop koop nie op die ou end duurkoop word nie? Ina Opperman stel ondersoek in en verduidelik wat verbruikers se regte is in terme van die Wet op Verbruikersbeskerming.

Wanneer ʼn mens ʼn gewone dienskontrak sluit, soos vir betaaltelevisie of gimnasiumlidmaatskap, betaal jy gewoonlik vooruit vir die diens wat jy in die volgende maand gaan gebruik. Jy kan dan gewoonlik ook die diens op kort kennisgewing kanselleer. As jy egter ʼn vastetermynkontrak teken, word jou maandelikse betaling dikwels vasgestel vir die duur van die kontrak, wat beteken jy kan vooruit begroot vir die uitgawe. Dit beteken egter ook dat jou regte om die kontrak op kort kennisgewing te kanselleer, verander.

Jou regte om ʼn vastetermynkontrak te kanselleer

Verbruikers se regte wanneer hulle so ʼn vastetermynkontrak sluit, word beskerm deur artikel 14 en regulasie 5 van die Wet op Verbruikersbeskerming. Volgens artikel 14, kan jy die kontrak kanselleer, sonder om ʼn kansellasiefooi te betaal, wanneer die kontrak verstryk. Jy kan ook op enige ander tyd kanselleer, maar dan moet jy die verskaffer 20 werkdae kennis gee.

Wanneer jy kanselleer voordat die kontrak verstryk, kan die diensverskaffer ʼn kansellasiefooi hef vir goedere en dienste wat jy reeds gekry het en vir afslag wat van krag sou wees indien jy nie die kontrak gekanselleer het nie. Jy is dan geregtig op al die geld terug, wat jy al betaal het, vir enige goedere en dienste wat jy nog nie ontvang het nie.

Kansellasiefooie

Die kansellasiefooi moet die bedrag wat jy skuld tot op die datum van die kansellasie insluit, sowel as die waarde van die transaksie tot en met kansellasie en die waarde van die goedere wat jy hou. Die fooi moet ook die waarde van die goedere wat jy teruggee, die tydperk van die kontrak en jou verliese of voordele insluit en die aard van die goedere of dienste en die lengte van die kennisperiode moet ook in ag geneem word.

Die kansellasiefooi mag nie soveel wees dat dit jou sal keer om jou reg om die kontrak te kanselleer te gebruik nie. Die fooi word gewoonlik bepaal deur te kyk na wanneer die kontrak gekanselleer word. Dit word gewoonlik as billik beskou om ʼn fooi van 50% van die uitstaande koste te hef indien net een maand oor is, maar dit is nie billik as jy ná ʼn maand kanselleer nie.

Die verskaffer moet ook seker maak jy word vooraf ingelig dat ʼn kansellasiefooi gehef sal word indien die kontrak, voordat dit eindig, gekanselleer word.

As die verskaffer kanselleer

Die verskaffer kan die kontrak kanselleer 20 werkdae nadat hy jou kennis gegee het dat, indien jy nie die betrokke bedrag betaal of voldoen aan die voorwaardes van die kontrak nie, dit beëindig sal word.

Wanneer die kontrak verval

Die verskaffer moet jou binne 40 tot 80 werkdae voordat die kontrak verval, laat weet dat die kontrak tot ʼn einde kom en jou inlig of die prys dieselfde gaan bly indien jy die kontrak hernu. Jy moet dan die opsie kry om met die kontrak voort te gaan op ʼn maandelikse grondslag, na gelang van belangrike veranderings soos die prys, tensy jy duidelik aandui jy wil die kontrak kanselleer op die vervaldatum of hernu vir nog ʼn vaste termyn.

Hoe lank mag ʼn vastetermynkontrak duur?

Volgens regulasie 5 kan ʼn vastetermynkontrak nie langer as 24 maande van die datum waarop jy die kontrak geteken het, duur nie, tensy jy duidelik toestem tot ʼn langer tydperk en die verskaffer kan wys dat dit tot jou finansiële voordeel sal strek.

Ander vastetermynkontrakte

Selfoonkontrakte, sekuriteitskontrakte en satellietopsporingskontrakte vir voertuie is ook vastetermynkontrakte en dus ook onderhewig aan artikel 14 en regulasie 5.

Waar kla ek?

Wanneer jy wil kla oor ʼn vastetermynkontrak, kan jy ʼn skriftelike klagte indien by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wolf ·

Wees baie versigtig vir virgin active, hulle is vreeslik lief daarvoor om kansellasies te “verloor”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.