Koop veilig aanlyn

aanlyn-aankope

Foto: FirmBee/Pixabay.com

Tegnologie het baie dinge makliker gemaak vir verbruikers en die een waaroor baie van hulle bly is, is om aanlyn te koop. Suid-Afrikaanse verbruikers is egter nog nie so opgewonde soos die res van die wêreld nie, omdat hulle nie hou van die lang wagtyd vir aflewering nie. Dan is daar natuurlik ook verbruikers wat ʼn bloutjie loop en wie se goedere, waarvoor hulle reeds betaal het, nooit afgelewer word nie.

Aanlyn-kleinhandelverkope in Suid-Afrika het R6,6 miljard beloop in 2015. Dit klink na baie, maar teen wêreldstandaarde is dit maar min. China se e-handelsmark was omtrent $603 miljard werd in 2015 en sal na verwagting groei tot $892 milard teen 2018, terwyl aanlynverkope in Suid-Afrika na verwagting sal styg tot R10 miljard teen die einde van die jaar.

Almal van ons ken iemand wat al ʼn bloutjie geloop het met ʼn aanlynbestelling. Dit is gewoonlik nie die bekende, groot kleinhandelaars wat nie produkte aflewer nie, maar klein ondernemings, soos die een waaroor Maroela Media in Januarie berig het, wat baie verbruikers se babapoppe nie afgelewer het nie.

Ons het nou ʼn navraag van lesers gekry oor ʼn maatskappy wat op Facebook onderklere adverteer. Verskeie lesers het van die onderklere bestel, maar sodra hulle begin navraag doen oor aflewering, is hulle geblokkeer op die blad sodat hulle nie verder kommentaar kan lewer nie.

ʼn Leser beweer mense wat op die blad skryf dat hul bestellings afgelewer is, is werknemers van die maatskappy. E-posse en telefoonoproepe word nie beantwoord nie. Die bank, waar mense hul geld inbetaal vir hul bestellings, vries nou glo die maatskappy se rekening.

Dit is dan niks meer as reg dat verbruikers maar lugtig is vir aanlynkopies nie. Ons werk hard vir ons geld. Daar is egter baie wat verbruikers kan doen om seker te maak hulle word nie ingeloop nie, deur eerstens seker te maak die transaksie voldoen aan die vereistes van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies en die Wet op Verbruikersbeskerming.

Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies

Die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies bepaal ʼn verkoper moet op sy webtuiste onder meer  die onderneming se volle naam en regstatus gee, saam met sy straatadres en telefoonnommer en die adres vir die webtuiste en e-pos. Die volle prys van die produkte moet ook aangedui word en moet vervoerkoste, belasting en enige ander koste insluit. Dit moet ook aandui hoe jy kan betaal en wanneer jou produkte afgelewer sal word.

Die beleid oor produkte wat teruggestuur of omgeruil word en hoe terugbetalings gedoen word, moet ook duidelik uitgestippel word. Ten slotte moet die webtuiste ook aandui wat die maatskappy doen om jou inligting te beskerm en jy moet ook die geleentheid kry om die elektroniese transaksie te hersien.

As ʼn mens byvoorbeeld na die onderklereverkoper kyk, is dit duidelik dat dit nie aan dié
Wet se bepalings voldoen nie. Daar is net ʼn Facebook-blad en nie ʼn webtuiste nie. Die Facebook-blad bevat net ʼn telefoonnommer wat nie beantwoord word nie en geen regstatus of straatadres word gegee nie. Die blad gee ook geen aanduiding van hoe lank die afleweringstyd is of van die omruilbeleid nie.

Wet op Verbruikersbeskerming

Volgens artikel 19 van die Wet op Verbruikersbeskerming is die onderneming verantwoordelik daarvoor om goedere binne ʼn redelike tydperk af te lewer, tensy anders ooreengekom. Indien die onderneming nie betyds jou bestelling kan aflewer nie, kan jy dit so aanvaar of jy kan die transaksie kanselleer.

Artikel 47 van die Wet bepaal ook ʼn onderneming mag nie betaling aanvaar vir goedere as hy nie beplan om dit te lewer nie. Ook hierdie artikel maak dit duidelik dat die onderneming die verbruiker se geld moet terugbetaal indien hy nie voorraad het nie.

As ʼn mens weer kyk na die onderklereverkoper, is dit ook duidelik dat die maatskappy nie aan die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming voldoen nie, aangesien die verbruikers se geld nie terugbetaal word nie.

Wees versigtig

Verbruikers kan hulself beskerm teen gewetenlose ondernemings wat nie produkte aflewer nie, deur seker te maak die onderneming voldoen aan wetgewing. Bel ook die nommer wat gegee word en kyk of dit beantwoord word en soek gerus eers op die internet om te kyk wat ander verbruikers se ondervinding met die onderneming was.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.