Kry genoeg inligting – dis jou reg

blur-1850082_1920Genoeg inligting is een van die belangrikste verbruikersregte. Verbruikers het die reg op blootlegging en inligting voordat hulle hul swaarverdiende geld op produkte of dienste bestee. Die Wet op Verbruikersbeskerming beskerm jou reg op blootlegging en inligting, wat enige verbruikerskommunikasie in gewone en verstaanbare taal en genoeg inligting op etikette insluit.

Ina Opperman verduidelik wat jou reg op inligting vir verbruikers beteken.

Die Wet beskerm jou reg op inligting in gewone en verstaanbare taal, sowel as die inligting wat op produketikette en in handelsbeskrywings en die kwitansie moet wees as deel van jou reg tot blootlegging en inligting.

Gewone, verstaanbare taal

Artikel 22 van die Wet bepaal enige kennisgewing, dokument of visuele voorstelling wat op verbruikers gerig is, moet voldoen aan die voorgeskrewe vorm indien dit voorgeskryf word of andersins in gewone taal.

Geen vorm word sover voorgeskryf nie en daarom moet enige kommunikasie met verbruikers in gewone taal geskryf word, wat ooreenstem met die groep waarop dit gerig is se gemiddelde geletterdheidsvaardighede en minimale ondervinding as ’n verbruiker van die betrokke produk of diens.

Jy moet die inhoud, betekenis en belang van die kommuniksie sonder onnodige inspanning kan verstaan, sowel as die samehang, omvattendheid en konsekwentheid daarvan. Dit geld ook vir die organisering, vorm en styl, woordeskat, sinstruktuur, die gebruik van illustrasies, voorbeelde en opskrifte of ander hulpmiddels.

Die Wet maak daarvoor voorsiening dat die Nasionale Verbruikerskommissie riglyne kan publiseer wat sal help om te besluit of verbruikerskommunikasie aan die vereistes voldoen.

Produketikette en handelsbeskrywings

Volgens artikel 24 van die Wet is ’n handelsbeskrywing op produkte aangebring indien dit op die produkte of enige verpakking geplak word of aan die produk geheg word, naby die produkte uitgestal word sodat verbruikers sal glo dit is van toepassing daarop of voorkom in ’n kenteken, advertensie, katalogus, brosjure, omsendskrywe, wynlys, faktuur, sakebrief, sakekoerant of ander kommersiële kommunikasie op grond waarvan jy die produkte kan versoek of bestel.

Niemand mag met voorbedagte rade ’n handelsbeskrywing aanbring wat jou waarskynlik direk of indirek sal mislei nie, of ’n handelsbeskrywing of handelsmerk verander, skend, bedek, verwyder of verberg om jou te mislei nie. Hierdie bepalings moet spesifiek volgens die Wet deur kleinhandelaars nagekom word en hulle moet ook sorg dat niemand dit doen nie.

Die produsent of invoerder van goedere moet ’n handelsbeskrywing op produkte aanbring wat die land van oorsprong en enige ander voorgeskrewe inligting bekend maak.

Voorgeskrewe handelsbeskrywings

Volgens regulasie 6, wat in terme van die Wet gemaak is, moet tekstiele, soos wol en katoen, klere en leergoedere, soos skoene, ‘n handelsbeskrywing hê wat die land van oorsprong aandui, of die tekstiel of materiaal ingevoer is om klere in Suid-Afrika te maak en of die produk heeltemal in Suid-Afrika vervaardig is.

Indien die produk heeltemal in suid-Afrika vervaardig is, moet die etiket duidelik aandui ’Made in South Africa’ en dit moet voldoen aan plaaslike standaarde vir veseloinhoud en versorgingsriglyne. Hierdie regulasie geld egter nie vir tekstiele wat so klein is dat mens nie ‘n etiket kan aanheg nie, tweedehandse klere wat vir liefdadigheid ingevoer word of goedere wat individuele verbruikers die land inbring nie, solank dit nie meer as 1 000 items per maand is nie.

Geneties gemanipuleerde organismes

Regulasie 7 bepaal die etikette op produkte wat geneties gemanipuleerde organismes bevat, moet dit aandui. Hierdie regulasie is van toepassing op geneties gemanipuleerde organismes wat geodgekeur is vir kommersiële gebruik deur die Uitvoerende Raad vir Geneties Gemanipuleerde Organismes, wat gestig is in terme van die Wet op Geneties Gemanipuleerde Organismes. Slegs die etikette van geneties gemanipuleerde mielies, katoen en sojabone moet sover aangedui word.

Kwitansies

Artikel 26 bepaal dat sekere inligting op enige kwitansie moet wees wat verbruikers ontvang. Die kwitansie moet op skrif wees en die verskaffer se volle naam of geregistreerde besigheidsnaam bevat, sowel as die BTW-registrasienommer indien van toepassing, die adres van die handelaar, die datum van die transaksie, ’n naam of beskrywing van die produk of diens, die eenheidsprys, hoeveelheid , totale prys voor belasting, die bedrag belastings en die totale prys.

Transaksies wat onderhewig is aan artikel 43 van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies, is nie onderhewig aan hierdie artikel nie.

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor kleinhandelaars en vervaardigers wat nie voldoen aan die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae