Kry jou testament in orde

testament

Foto: Asesoria-marbella.com

Baie mense in Suid-Afrika het nie ʼn testament nie. ʼn Behoorlik opgestelde (deur ʼn kundige) en geldige testament beteken dat jou bates ná jou dood volgens jou wense verdeel word.

Watter vereistes geld vir ʼn geldige testament?

Enige persoon wat 16 jaar of ouer is en verstandelik bevoeg is om die uitwerking van sy of haar handelinge te verstaan, kan ʼn testament opstel.

Die testateur en twee getuies moet die testament aan die einde van elke bladsy in mekaar se teenwoordigheid onderteken.

Die getuies moet ouer as 14 jaar wees en mag nie die testateur se gade of erfgenaam wees nie, of in die hoedanigheid van eksekuteur optree nie.

Moenie in jou testament wense ten opsigte van jou begrafnis ensovoorts insluit nie. Dit kan beteken dat jou wense nie uitgevoer word nie omdat die testament gewoonlik eers later ná jou dood gelees word. ʼn Lewende testament word hiervoor gebruik en bevat gewoonlik die volgende bepalings:

  • of jy begrawe of veras wil word;
  • toestemming dat lewensondersteunende apparaat afgeskakel kan word indien, volgens mediese opinie, daar geen kans op herstel is nie;
  • of jy jou organe wil skenk; sowel as
  • enige ander wense.

Wanneer ʼn persoon te sterwe kom, is daar gewoonlik chaos. Waar is die testament? Is dit die mees onlangse weergawe? Waar kry ons al die dokumentasie sodat die eksekuteur die boedel vinnig en koste-effektief kan afhandel? ʼn Fisieke of elektroniese lewenslêer is ʼn moet en kan die verskil maak tussen chaos en orde.

ʼn Tipiese lewenslêer behoort ten minste die volgende inligting te bevat:

  • huweliksertifikaat;
  • geboortesertifikate;
  • ID’s, paspoorte, visums en rybewyse;
  • testament en lewende testament;
  • versekerings- en beleggingsportefeuljes (insluitend werknemervoordele);
  • besonderhede van bates en laste;
  • trust-dokumente; en
  • besonderhede van die mediese fonds ensovoorts.
  • Kry hier meer inligting oor die onderwerp in Wouter Snyman se gratis e-boekie ‘Finansiële onafhanklikheid’ en die ‘Salomo-beginsel’.
  • Hierdie artikel is saamgestel met die hulp van attooh!. Kontak attooh! gerus met enige navrae oor jou persoonlike finansiële beplanning.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.