Kuberbedel: Moenie ’n slagoffer wees nie!

slimfoon-in-die-hand-kuberbedel

Met vandag se tegnologie kan enige iemand aanlyn vir hulp vra. Wees egter versigtig vir wie jy geld gee, skryf Michellé Burger van Helpende Hand. Foto: Kaboompics.com

Michellé Burger

Daar is al baie geskryf oor die gevare en probleme daaraan verbonde om bedelaars wat op straat staan, te ondersteun. Hul stories is alombekend: “Ons kort net bietjie geld vir petrol” of “Ek kort net R5 vir verblyf vanaand.” Soms kom hulle met iets meer drasties vorendag soos: “My kind is siek en ek kort geld vir medisyne.” Wat die storie ook al is, of dit die waarheid is of nie, dit bly ’n groot risiko om iemand wie se agtergrond jy nie ken nie, te ondersteun.

Wat dit so hartseer maak, is dat mense wat net die beste voornemens het, gemanipuleer, uitgebuit en misbruik word. Bedel kom al van Bybelse tye af, maar met die ontwikkeling van tegnologie en verskillende mediaplatforms, het ’n hele nuwe wêreld van bedel geopen. Deesdae het byna elke persoon toegang tot ’n selfoon of rekenaar en is kuberbedel iets wat maklik op ’n oneerlike en manipulerende manier aangewend kan word om goedhartige skenkers uit te buit.

Wat is kuberbedel?

Kuberbedel is die naam wat gegee word aan die praktyk waar mense via die internet, sosialemedianetwerke en ander platforms om hulp of skenkings vra (oftewel bedel). Om in die gemak van jou eie huis op sosiale media te sit en bedel is baie minder moeite as om heeldag in die son te staan en bedel. Daar is ’n groot tendens van bedelaars wat via hierdie platforms misbruik maak van goedhartige en soms naïewe mense.

Solidariteit Helpende Hand se eie Facebook-blad word oorstroom met boodskappe van mense wat bedel of namens ander om hulp vra. Bedelaars verstrek in hierdie geval sommer reeds hul bankbesonderhede vir enige barmhartige Samaritaan wat bereid is om (sonder voldoende evaluering) op dié versoek te reageer en geld oor te betaal. Gemeenskapsforums op Facebook ontvang ook gereeld boodskappe van mense wat hulp vra. Talle boodskappe word vergesel van hartseerfoto’s om hul storie te staaf. Omdat hier geen evaluering plaasvind nie, is daar geen manier om te weet of die storie waar is of nie.

’n Vrou van Durban het ’n ruk gelede Helpende Hand se raad gevra nadat sy geld oorbetaal het aan ’n ander vrou van Johannesburg wat op Facebook gesê het dat sy geld vir haar kind se begrafnis kort. Die vrou van Durban het haar jammer gekry en dadelik geld oorbetaal. Daarna het sy nooit weer van die Johannesburger gehoor nie. Die barmhartige persoon het Helpende Hand genader om te hoor of ons haar verder sou kon bystaan. Nadat ondersoek ingestel is, is bevind dat die betrokke Johannesburger al jare lank bedel en dat sy boonop nie kinders het nie.

Daar is reeds mense wat sover gaan om spesiale platforms te bou waar mense kan bedel. ’n Amerikaanse webwerf, www.cyberbeg.com, is ’n platform wat mense geleentheid gee om te bedel. Dis so maklik soos een, twee, drie.

  1. Jy laai jou bedelstorie.
  2. Mense ondersteun jou.
  3. Geld word in jou rekening inbetaal.

Volgens dié webwerf is meer as tagtigduisend dollar reeds tot en met 19 Junie 2015 aan mense oorbetaal sonder dat enige evaluering gedoen is. Die webwerf aanvaar geen verantwoordelikheid vir wat mense op die webwerf plaas nie en kan ook nie aan skenkers waarborg dat bedelaars se stories die waarheid is nie.

Helpende Hand het in 2013 ’n bedelaarsverslag bekendgestel wat getoon het dat wit bedelaars (op straat) ’n gemiddeld van R172 per dag ontvang. Ons het ’n sterk vermoede dat die gemiddelde bedrag vir kuberbedel heelwat meer beloop.

Wanneer om te gee en wanneer nie:

Hier is ’n paar sake om in gedagte te hou wanneer jy met kuberbedel te doen kry:

  • Moenie onnadenkend skokkende of hartseerstories op sosiale media deel as jy nie doodseker is of dit waar is nie. Sodra mense ophou om valse stories te deel, sal minder persone uitgebuit word.
  • Wanneer jy iets raaklees wat jou hart roer, stel ondersoek in. Maak seker die storie is waar of dat dit deur ’n kerk of ’n ander betroubare of geregistreerde organisasie geplaas is.
  • Moenie gemanipuleer word nie. Dit is jou geld, moeite en tyd – jy het die reg om te besluit of jy wil help of nie; moenie dat iemand jou ’n gat in die kop praat nie.
  • Wanneer jy wil help, vra die regte vrae. Waar werk jy? Aan watter kerk behoort jy? Het jy al jou kerk gevra vir hulp? Hoekom bly jy hier?
  • Werp jou brood op die water, maar onthou om dit verantwoordelik te doen!
  • Wanneer jy ’n verdienstelike geval op sosiale media raaklees, verwys die persoon na ’n betroubare, geregistreerde organisasie of die naaste kerk.
  • Kry die persoon se kontakinligting en verwys dit na jou naaste welsynsorganisasie. Indien die persoon regtig hulp benodig, sal die organisasie kan help of hulle sal reeds van die persoon bewus wees.

Lees ook die berig op Maroela Media: Bedelaar vas danksy polisievrou se ‘sesde sintuig.

Helpende Hand het hierdie rubriek aan Maroela Media vir publikasie verskaf. Besoek die organisasie se webblad vir meer inligting oor Helpende Hand se werksaamhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.