Kunstenaar maak werke vir renosterbewaring

Jacques Müller saam met sy kunswerke vir renosterbewaring. Foto: Verskaf.

Daar word elke agt uur ’n renoster vir niks anders as sy of haar horing doodgemaak nie. Sedert 2011 is meer as 7 000 renosters net in Suid-Afrika gestroop. Juis om hierdie rede en met die oog op Wêreldrenosterdag het Jacques Müller, ’n skilder en beeldhouer van Centurion, vanjaar besluit om renosters in sy kunswerke te verewig.

Müller sê hy het kunswerke van renosters gemaak soos niemand dít nog ooit gemaak het of ooit weer sal maak nie.

In die 21 unieke werke, wat bestaan uit skilderye en bronsbeelde, beeld hy die “rou waarheid van hierdie majestueuse skeppings se bestaan uit”. Sover bekend is dit die grootste versameling renosterkunswerke nog in Suid-Afrika.

“Sonder romantiek en pretensie. Hierdie megaliete van die veld het ek met ’n paletmes en hompe gekleurde olieverf op doek vasgepleister. Die simbiose tussen dier en natuur is duidelik sigbaar. Elke lyn en krap verteenwoordig die lyding wat die renostertjies tydens die stropingsaanvalle op hulle ma’s ervaar het.”

Die meeste van die kunswerke is op werklike renosterwesies, wat Care for Wild sedert die stropingsgevalle op hulle ma’s huis noem, gegrond.

Die eerste ding wat hom opgeval het toe hy deur die hekke van Care for Wild, die grootste renosterweeshuis en -toevlugsoord ter wêreld, gery het, was die silhoeëtte van drie kolossale grysbruinmassas, wat vir hom soos megaliete in die veld gelyk het. Soos hy nader gekom het, het hy besef dis drie volwasse renosters. Een van die renosters was Wyntir, ’n renosterwesie wie se ore deur hiënas afgebyt is toe sy nog ’n kalfie was. Care for Wild is in 2001 deur Petronel Nieuwoudt in Limpopo begin. In 2011 is dié sentrum na Mpumalanga verskuif weens die verhoging in renosterstropingsgevalle in dié provinsie.

“Die voertuig het gestop, ons het uitgeklim en Wyntir het reguit na my toe gestap, haar kop opgetel en in my arms neergelê. Op daardie oomblik het ek besef om hierdie skeppings vir solank ek lewe te verewig in my werk en om só ’n bydra tot hulle oorlewing en bewaring te maak. Die ervaring was magies en ek het geweet hierdie is inderdaad megaliete van die veld. Uit ’n rivier van metaal en vuur is ’n reeks babas en volwasse megaliete gebore. Gebroke in vlees en van hulle ook in gees. Hulle is immers vermink en wees gelaat, nadat dié wat lewe aan hulle gegee het, brutaal voor hul aangesig tot ’n grusame en ondenkbare einde gekom het. Hierdie werk is hulle waarheid. Elke naam hier bestaan. Elke naam hier het oorleef, behalwe die moeders en klein Thor. Hy was gered, maar het later aan ’n swak spysverteringstelsel en ’n verwonde siel die lewe gegroet. Ter nagedagtenis aan hom het ek ’n swartrenoster getiteld ‘Mighty Thor’ gemaak.”

Volgens hom is al hierdie werk onkonvensioneel.

“Dis rou en sny tot op die been. Hierdie is die verhaal van die werklikheid wat hom daagliks afspeel in die bestaan van hierdie skepsels, en die mense wat hul lewens daaraan wy om hierdie oorlog namens hulle te baklei. Net ons kan hulle help en hul bestaan en oorlewing verseker.”

Alle fondse, deur die verkoop van hierdie kunswerke, is ten bate van die niewinsgewende organisasie Care for Wild.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.