Kunstenaar skets met donker humor en satire

Neotrinos-Giggling-through-the-floor

“Neotrinos giggling through the floor” deur Craig Müller. Foto: ArtBox858 via Facebook.

As jy na Craig Müller se kunswerk kyk, voer dit jou gedagtes dadelik na kuns met ’n wetenskaplike aanslag soos dié van die Italiaanse kunstenaar Leonardo da Vinci.

Craig, wat sy opleiding in beeldhoukuns voltooi het aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie, vermeng meganika, wetenskap en fiksie in verbeeldingryke sketse direk op papier of skilderdoek. Hy is veral daarvoor bekend dat hy metaal en hout kombineer om vorms en tegnieke eie aan sy styl te skep.

“Daar is gewoonlik so ’n bietjie donker humor en ’n satiriese streek in my werk,” vertel Craig. “ʼn Mens hoef nie lank te dink nadat jy die titel van die werk gelees het nie – ek probeer om hard en duidelik deur die medium te praat. En ek vind dat diegene wat my ken, die reis saam met my geniet.”

Hoewel Craig nog nie oorsee uitgestal het nie, besit versamelaars in Australië, Ierland, Amerika en Brittanje van sy kunswerke. Hy meen dat die Suid-Afrikaanse publiek wel aanklank by sy werk vind. “Ek het al baie goeie terugvoer gekry van die publiek en kunskenners, veral in Pretoria,” sê hy. Sy werk is reeds dwarsoor die land, onder meer tydens die Innibos-kunstefees en Aardklop Nasionale Kunstefees, ten toon gestel.

“In sekere kringe is daar al na Craig verwys as die William Kentridge van Pretoria en ons verwag dat hierdie enkel-uitstalling weer ’n nuwe mylpaal en reusesukses vir Craig sal wees,” sê Etienne van Zyl, eienaar van die ArtBox-kunsgalery.

Craig se werk word van 9 tot 30 April by die ArtBox-kunsgalery in Elarduspark, Pretoria, uitgestal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.