Kyk bekroonde SA dokumentêr aanlyn

STROOP-uitverkoop

STROOP word voor ‘n stampvol teater by die Casterbridge-sentrum in Witrivier, Mpumalanga vertoon. Foto: Verskaf.

Die bekroonde Suid-Afrikaanse dokumentêre rolprent, STROOP – Journey Into The Rhino Horn War, bou voort op sy indrukwekkende vertonings by internasionale rolprentfeeste.

STROOP se wêreldpremière was in September verlede jaar by die San Francisco Green-rolprentfees en dit het sedertdien voortgegaan om ʼn verdere tien bekronings vir die jaar 2018 huis te ontvang, onder meer, Beste Dokumentêre Rolprent by die vooraanstaande San Diego Internasionale Rolprentfees.

Die afgelope week is ook aangekondig dat STROOP die Prys vir Uitnemendheid verower het by die Impact Documentary Awards. Volgens die toekennings word die rolprent verder vermeld vir die uitstekende storielyn. Die Impact Documentary Awards word jaarliks aan rolprente toegeken wat ʼn verskil maak ten opsigte van kritiese aangeleenthede wat ons in die gesig staar.

Voorts is STROOP amptelik gekies vir die Earth Day-rolprentfees, The Green Mountain-rolprentfees, The Colorado Environmental-rolprentfees en die Wellington-rolprentfees in Nieu-Zeeland (waar dit vir beste dokumentêre rolprent benoem is).

Die dokumentêre rolprent is ook op die openingsaand van die Guwahati Internasionale Rolprentfeesfees in Indië aan die einde van Januarie vertoon. Verder is STROOP ook slegs een van vyf dokumentêre rolprente wat gekies is om sy Italiaanse première by die Riviera Internasionale Rolprentfees in Mei te hê. Die internasionale beoordelaarspaneel, wat die wenner sal aanwys, bestaan uit verskeie vooraanstaande persoonlikhede uit die film-, kultuur- en kunswêreld. Die wenner word volgende maand in Milan tydens ʼn perskonferensie aangewys. As deel van hierdie prestasie, word STROOP in Italiaans vertaal en word die boodskap oor Suid-Afrika se renosterstropingskrisis met ʼn nog groter gehoor gedeel.

STROOP-susan-scot-en-bonne-de-bod

Susan Scott en Bonné de Bod se dokumentêr is nou amptelik gekies om by 20 internasionale rolprentfeeste te draai en sal altesaam 15 bekronings huis toe kan bring. Foto: Verskaf.

Die rolprent is nou amptelik gekies om by 20 internasionale rolprentfeeste te draai en sal nou altesaam 15 bekronings huis toe kan bring!

Ten spyte van die fenomenale sukses in die res van die wêreld, het STROOP geen plaaslike verspreiding in Suid-Afrikaanse rolprentteaters gekry nie. Dit het die Associated Press genoop om daaroor berig te lewer en die storie is verder versprei deur The New York Times, The Washington Post en ander vooraanstaande koerante wêreldwyd. Dit het die filmmakers genoodsaak om STROOP plaaslik self te versprei deur teaters landwyd te huur en sosiale en plaaslike media te gebruik om vertonings daarvan te adverteer. Die gevolg was volgepakte en uitverkoopte teaters landwyd

“Dit was eenvoudig net ongelooflik. Ons is aanmekaar vertel dat niemand ʼn dokumentêr in ons fliekteaters sal wil sien nie, wat nog te sê een oor renosterstropery. Maar die ondersteuning was oorweldigend,” sê Bonné de Bod, een van die filmmakers van STROOP.

“Ons het gedink ons sal een vertoning in Johannesburg en een in Kaapstad hou,” vertel Susan Scott, die regisseur van STROOP. “Beide het egter bitter vinnig uitverkoop – Kaapstad in minder as 48 uur.”

“Sodra ons dus ʼn vertoning gehad het wat deur die publiek betaal is, was ons in staat om nog ʼn teater te huur en dan nog een, en so aan. En so kon ons vertonings in Johannesburg, Kaapstad, Durban, Port Elizabeth, Pretoria, Hoedspruit, Witrivier en Bloemfontein hou.”

Die internasionale steun vir STROOP gaan steeds voort met Amazon, iTunes en Google wat die dokumentêr die afgelope week op hul digitale platforms laat draai het. ʼn Verheugde De Bod sê:

“Hierdie is ons rolprent en almal vertel ons die filmwêreld lyk en werk anders as twee jaar gelede, vyf jaar gelede, tien jaar gelede… Maar dit skrik ons nie af nie.

“Omdat hierdie alles nuut is vir ons, het ons die grense verskuif deur ons belangrike storie wêreldwyd te deel. Die feit dat hierdie groot, globale aanlynplatforms in STROOP glo en dit nou aan soveel as moontlik mense beskikbaar stel, was presies ons doelwit toe ons met die verfilming van STROOP soveel jare gelede begin het. Nou kan dit werklik deur miljoene mense gesien word en so bewustheid oor renosterstroping skep.”

STROOP

STROOP kan nou ook aanlyn by verskeie stroomdienste gekyk word. Foto: Verskaf.

Die rolprent is onlangs in Hongkong op die nasionale uitsaaier RTHK vertoon en was ook deel van ʼn regswerksessie oor die handeldryf in wildleweprodukte. Plaaslik het STROOP ook ʼn impak op die wetstoepassingskant van die saak, met ʼn vertoning aan die SA Polisiediens se lede wat opgelei word in wildlewemisdaad.

Met die fokus steeds op plaaslike bewusmaking, begin Scott en De Bod nou met vertonings aan plaaslike gemeenskappe en skole, in samewerking met Africa Geographic en die Jane Goodall Roots and Shoots Foundation.

  • Die rolprent is ook op DVD en aankope kan gemaak word deur die webtuiste: www.stroop-film.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OWO ·

”Het Stroop geen plaaslike verspreiding in Suid-Afrikaanse rolprent teaters gekry nie”
Wat mens net weer laat besef wat eintlik hier aangaan.Susan Scott en Bonne de Bod,julle is geniaal.Hou aan met julle puik werk.Julle sal beloon word,glo my.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.