Kyk nou, so ʼn bakkie!

toyota-bakkie-vintage

Foto: Pinterest.com

Oom Kerneels het jarrre en jarrre op Kwaggasbult geboer totdat hy, ná jare se onwillige oorweging, op streng voorwaardes die boerdery aan Klein Kerneels oorgegee het. Klein Kerneels moes huis bou, want oom Kerneels se huis was die huis waar hy desjare sy eerste lewenslig in die stoepkamer aanskou het.

Soos dit hoort, het hy sy eie slaggoed behou, sy tuingrondjie is omhein en in ʼn skuurtjie kon hy al sy goete bêre. Jukke en stroppe, swepe, spantoue en osrieme, kettings, draadtrekkers en rolletjies binddraad. Die roomafskeier en die botterkarring het in die hoek onder ʼn seiltjie gestaan. Heel agter was ʼn stertploegie, ʼn operder, ʼn skoffelploegie, ʼn planter en ʼn tandeg. Daar was skoffelpikke, harke, kielpikke, koevoete, waterleigrawe, skopgrawe en harke, netjies teen die muur op hulle plekke. Teen die muur het sekels, treksae en boogsae gehang. In die een hoek was ʼn disselpik en ʼn trog wat met die einste disselpik uitgekap is. Dit was sy heiligdom waar hy sy pyp skoongemaak, gestop en dan op oupa Sterk Piet se riempiesmatstoel behaaglik sit en rook het. Sy tot die dood toe getroue worshond, Voertsek, het altyd by sy voete gelê.

Ou dominee se raad aan oom Kerneels om ná al die jare tot ruste te kom en die boerdery aan sy seun oor te laat, het vrugte afgewerp. Aanvanklik was hy onthuts en smoorkwaad om die boerdery aan ʼn bogsnuiter oor te laat, maar ou dominee het ʼn slag gehad om oom Kerneels liefdevol en taktvol tot aanvaarding te lei. Die ding wat die deurslag gegee het, was die versekering dat hy sy Vaaljapie kon behou om sy grondjie te bewerk.

ʼn Ander stuk van sy lewe was sy dertig jaar oue Toyota-bakkie met ʼn halfmiljoen kilometer op die klok. Dit was ʼn netjiese bakkie en as die sleutel gedraai is, het hy gevat en oom Kerneels kon ry. Op die linker- en regtersitplekke was skaapvelle en in die middel ʼn bokvel vir Voertsek. Oom Kerneels het van sy bakkie as Neelsie gepraat en as hy so ʼn ruk toe gestaan het, het hy binne na pyprook geruik.

Vrydae was dorptoegaandag. Tant Grieta, Voertsek en hy het net ná brekfis pad gevat dorp toe. Hy het tant Grieta by die lapwinkel afgelaai, haar vir twee uur die vryheid van die dorp gegee en dan het hy koers ingeslaan. Bank toe, koöperasie toe, poskantoor toe, kerkkantoor toe en dan ou Isaac se negosiewinkel toe, tot hulle mekaar dan op gegewe tyd daarna, by die Koffiehuis ontmoet het. Hulle het daar op die stoep gesit en koffie drink, want daar mog hy sy pyp in vrede aansteek en rook. Hy’t goedig gelag as tant Grieta onder protes die blou rookwalms weggewaai het.

So het dit vir jare aangegaan, maar die jare het ook met oom Kerneels aangestap en sy bestuurvermoëns het mettertyd afgeneem. Tant Grieta het dit eerste agtergekom. Daar was benoude oomblikke en noue ontkomings en al wat sy kon doen, was om benoud “Kerneels!!” of “My man!!” uit te roep. Dit was net genade dat niks ernstigs gebeur het nie. Oom Kerneels was salig onbewus van enige vrese vir moontlike botsings.

Die ding het lelik skeefgeloop toe die dorp se enigste verkeersman vir Klein Kerneels eenkant toe geroep het. “Jong, dit gaan oor jou pa en dis vir my ʼn sleg ding,” het hy begin terwyl Klein Kerneels skewekop staan en luister het. “Jou pa is ʼn geliefde man in die dorp, maar soos hy deesdae bestuur, gaan hier nog ʼn lelike ding gebeur. Julle sal maar plan moet maak, anders sal ons sy lisensie moet intrek.” Dit het moeilikheid gespel.

Laat die middag het Klein Kerneels oorgestap na sy pa-hulle se huis toe. Tant Grieta was al ingelig oor die rede vir die koffiedrinkery en sy was merkbaar onrustig. Klein Kerneels het met die deur in die huis geval: “Pa, hier’t nou ʼn sleg ding gebeur en ek moet nou maar praat.” Oom Kerneels was merkbaar onthuts en wou weet: “Nou wat vir ʼn ding het nou gebeur om oor te praat?” Klein Kerneels het ongemaklik na sy ma gekyk en toe met die hele sak patats vorendag gekom: “Pa, Piet Spietkop het vir my gesê dat Pa deesdae in die dorp ʼn gevaar op die pad is en dat hy dalk Pa se lisensie sal moet intrek. Pa is darem ook nou al diep in die tagtig.”

Dit het gelyk of oom Kerneels wou verstik van ontsteltenis! “My magtag, ek dryf nou al orie sestig jaar en het nog nooit ʼn ongeluk gemaak nie en nou dreig hy om my liksêns af te vat! Twak, man! Hoekom vat hy nie jou liksêns af nie? Het jy nie nou die dag met die foun teen jou oor agteruit teen ʼn kar vasgery nie, maar hy wil my liksêns afvat! Wie’s nou die gevaar? Ek of jy?” Met die wind so effens uit sy seile het Klein Kerneels teruggedeins, maar hy het die stang vasgebyt. “Ja, Pa is reg en dit het my ʼn klomp geld gekos. Maar wat Piet Spietkop betref, gaan dit oor Pa! Pa se eie, en ander se veiligheid. Dit gaan niks help om hardekwas te wees nie want die wet is aan Piet se kant.”

Oom Kerneels se blus was skielik uit en met vogtigheid in sy oë het hy berg se kant toe gestaar. Tant Grieta het liefdevol sy vereelte hand in hare gevat en met deernis na hom gekyk.

Daar was ʼn lang ongemaklike stilte voordat oom Kerneels verwese begin praat het. Stadig, met ʼn krakerige stem en lang tussenposes: “Ja … dis mar goed so. Ek raak oud … en orie muur. Sê jy vir Piet Spietkop … ek en jou ma ry Vrydag die laaste keer dorp toe en ek wil hom nie daar sien nie. Dan kan jy die sleutel by my kom vat, want dan het ek klaar gery.” Hy het vir Voertsek geroep en toe het hy skuur se kant toe gestap, waar hy gebly het tot tant Grieta hom vir ete geroep het.

Toe Vrydag aanbreek, is hulle soos gewoonlik dorp toe. Tant Grieta het haar lope geloop en oom Kerneels het vir oulaas sy draaie gery met die uitsondering dat hy, met sy eie goeie rede, ʼn draai by die prokureur gaan maak het. Soos altyd het hulle by die Koffiehuis gaan koffie drink en daarna is hulle huis toe.

Terug op die plaas en teen die verwagting in het oom Kerneels voor Klein Kerneels se huis gaan stilhou. Sy seun het hom tegemoetgestap en vriendelik gegroet, maar sy pa was nie lus vir kuier nie. “Kerneels, jy hoef nie die sleutel by my te kom vat nie. Hier is hy, ek gee hom vir jou. Nie net my sleutel nie maar ook my trots en my vryheid!” Klein Kerneels wou nog wal gooi: “Maar Pa, Pa kan mos nog hier op die plaas rondry en selfs na oom Stolla toe,” maar sy pa was so half veglustig: “Nee, ek mag mos nie meer dryf nie, maar loop kan ek loop en loop sal ek loop! Daarvoor het ek nie ʼn liksêns nodig nie.”

Toe hy omdraai om huis toe te stap, het hy in tant Grieta se oop arms ingestap en dit het net die gewenste uitwerking gehad, want hy het haar ook omarm en toe het sy liewe vrou getroos: “My ou man, my hart is net so seer soos joune, maar ek en jy het nog vir mekaar en nou moet ons vorentoe. Ek sal altyd by jou wees.” Die innigheid van haar woorde het die nodige uitwerking gehad.

Later die aand, nadat hulle Boeke gevat het, was tant Grieta so ʼn bietjie besorg oor die lopery: “Kerneels, die lopery is nie ʼn goeie ding nie. Hoe lank gaan jy hou? Jou ou kniege wil ok nie altyd meer nie. Hoekom vat jy nie die Vaaljapie en ry waarheen jy wil nie? Sommer na Stolla en ou Piet Kitaar toe ok!” Dit het oom Kerneels se oë laat blink en sy opgewondenheid was duidelik: “Kyk nou! Nou praa’ jy! Daaraan het ek nie kon dink nie. Nog te moerig. Maar wat dan van jou? Sy het goedig gelag en hom gerusgestel: “Nee jong, jy’s die een wat rondkerjakker. Jy en Voertsek! Ek is mos op my gelukkigste in en om my huis en kombuis. En Kerneels sal ons dorp toe vat as dit moet.” Oom Kerneels het net so ʼn snork van verontwaardiging gegee en toe goedig geglimlag.

Die dae het gekom en gegaan en mettertyd het alles na, jy kan maar sê, normaal teruggekeer. Tot eendag. Klein Kerneels, skoondogter Anna-Mart en tant Grieta was Landbou-uniekongres toe waar tant Grieta ʼn erepenning sou ontvang vir vyftig jaar getroue diens en waar Klein Kerneels kon gaan kwyl oor al die nuwe trekkers en landboutoerusting. Oom Kerneels was nie lus vir al die moderne fieterjasies nie en het tuisgebly.

Hulle was skaars weg toe oom Kerneels ʼn ding in sy kop gekry het. Onder in sy bêrekissie was daar ʼn Toyotabakkiesleutel … Dit was ʼn geval van nou of nooit. ʼn Goue geleentheid wat hy nie deur die vingers moes laat glip nie. Sleutel in die hand en so gelukkig soos ʼn seun met ʼn kettie om die nek wat sy pa se bakkie “leen”, het hy triomferend agter die stuur ingeskuif. Die battery was papperig en die bakkie het net-net gevat. Hy het soos van ouds tot langs die huis gery en so op die afdraandjie gaan stilhou, net ingeval die battery dit nie sou maak nie.

Terwyl Voertsek opgewonde in die bakkie gewag het, het sy oubaas net gou sy pyp en twaksak gaan haal. Terug in die bakkie het hy die sleutel gedraai, maar die battery het dit nie gemaak nie – net ʼn gehô-hô-hô. Dit was vir oom Kerneels nie ʼn probleem nie. Net ʼn stootjie, tweede rat en die “klatsj” los! Daarom het hy op die afdraandjie stilgehou, maar toe hy die handbriek losgemaak het, wou die bakkie nie loop nie. Dat daar niemand was om ʼn stootjie te gee nie, was nie ʼn probleem nie. Met die rathefboom in neutraal, kon hy self ʼn stootjie gee en dan inspring en die res doen.

Oom Kerneels het die stootjie gegee, maar die ou bene het dit nie gemaak nie en daar trek die bakkie! So vyf tree verder het Voertsek vreesbevange uitgespring en saam met sy oubaas gestaan en kyk hoe die bakkie koers gekry het. Dit was ʼn verstommende spektakel. Dit het kompleet gelyk of die bakkie bokspring! Oor die klippe, miershope, deur die draadheining, oor die die kontoerwal en toe met ʼn boog tot teen die kraalmuur, waar die bakkie hom teen sy muur ingeval het.

Dit was vir oom Kerneels ʼn gatslag. Verstom en verslae het hy lank staan en kyk en toe  afgestap tot by die bakkiewrak. Met ʼn gesukkel het hy al sy goete uitgehaal en in sy skuurtjie gaan bêre. Toe’t hy vir die Vaaljapie gaan “vertel” van sy groot skade.

Dit was al donker toe Klein Kerneels-hulle by die huis aangekom het. Vroegoggend het oom Kerneels besoek gehad: “Môre Pa. Is Pa reg? Hoe gaan dit?” “Ja, wat laat jou dink ek is verkeerd? Dit gaan goed en ek gaat goed aan.” “En die bakkie? Lyk my pa het met die bakkie gery.” “Nee, ek het g’n!” “Maar Pa, hoe het die bakkie teen die kraalmuur beland? Pa moes …” “Man, hy’t self daar beland! Lyk dit vir jou of ek in ʼn ongeluk was?” “Maar Pa, die bakkie kon tog nie op sy eie …” “Kerneels, nou krap jy nie verder waar dit nie jeuk nie. My bakkie het self gekies waar hy wou loop lê! Net soos ek en jou ma gekies het om daar onderkant die dam onder die akkerboom, wat jou oupa geplant het, te gaan rus. Nou rus my bakkie waar hy wil wees. En jy los hom net daar! Net daar, seg ek!”

Kerneels het sy pa geken en nie verder gekrap waar dit nie jeuk nie. Daar is gewonder en bespiegel. Die aand ná Boekevat het tant Grieta, dankbaar maar bewoë, vertel van die oorhandiging van die erepenning. “My man, ek het nie geweet ek het so baie gedoen nie. Hulle het gepraat van goed wat ek al lankal vergeet het!” Oom Kerneels het haar hand gevat en saggies gepraat: “Ek ken jou al orie sestig jaar en nog nooit het iets vir jou hande verkeerd gestaan nie. Hulle kon nie gejok het nie.” Daar was ʼn lang veelseggende stilte en toe is daar saggies gefluister: “Ag, ek is so dankbaar dat jy nie iets oorgekom het en seergekry het nie.” Nog ʼn stilte en toe: “Ek is so bly jy’s veilig terug. Hier by jou ou man.”

Die lewe op Fluitjiesrietpan het rustig aangegaan. Oom Kerneels en Voertsek op die Vaaljapie of in die skuurtjie, tant Grieta in haar huis en tuin en Klein Kerneels op die saailande. Daar was rus en vrede en daar’s nie gekrap waar dit nie jeuk nie. Ou dominee het gereeld kom kuier en dan het hulle lang murgbene uitgestamp en mekaar herinner aan langvergete lief en leed.

Eendag het ou dominee met ʼn spesifieke doel kom kuier. Soos altyd het dit oor koeitjies en kalfies gegaan, maar toe wou ou dominee weet: “Kerneels, voor ek of iemand jou begrawe, wil ek weet hoe het daai bakkie in die kraalmuur ingedons!” Oom Kerneels het uit sy maag uit gelag en opgestaan. “Nou maar kom ons gaan rook ʼn pypie in die skuurtjie en dan vertel ek jou sodra Grieta die koffie gebring het.”

Hulle is skuurtjie toe. Hy op sy stoel, Voertsek by sy voete en ou dominee op een van die hooibale. Die pype is teen die skoene uitgeklop, gestop, aangesteek en toe die eerste blou  dampe uitgeblaas is, het tant Grieta die koffie ingedra. Ou dominee kon nie meer wag nie. “Vertel nou eers, Kerneels!” en toe begin oom Kerneels: “Julle vrek as julle oorvertel en as iemand die storie hoor, sal ek weet waar dit vandaan kom.” Hulle het plegtig belowe.

Oom Kerneels het die storie ver gaan haal en in die fynste besonderhede vertel. Of hy aangedik het, sal net hy weet, maar hy en sy twee luisteraars het geskaterlag en naderhand net nog meer gelag, juis omdat hulle so lekker gelag het. Skielik het Klein Kerneels in die deur gestaan: “En die gelag? Ons hoor julle daar van ons huis af!” Ou dominee het eerste tot verhaal gekom, met sy wit sakdoek die lagtrane afgevee en steeds laggend verduidelik: “Ai man, om ons jonk te hou, vertel ons mekaar van al die poetse wat ons gebak het toe ons nog regtig jonk was!”

Tot vandag toe wens Klein Kerneels hy kon weet waaroor hulle regtig so lekker gelag het … Sou hy ooit regtig weet?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

foxi ·

Wat n besondere storie…..dit het my laat dink aan my kinderdae. My pa het ook so n bakkie gehad..n rooie. Goeie ou dae.

Kotie ·

Dit was nou ‘n lekker storie om te lees. Baie dankie hoop daar kom nog meer in die toekoms.

Winston ·

Baie lekker en goed geskryf en beskryf. Ek het presies daai oom in my familie. En hy boer nog op 84!

Denise ·

Ek het die storie baie geniet en so was dit in die goeie ou dae !!!

SENET ·

Dankie vir die rukkie se goeie “ontspanning”. Net lekker om nie net moord en roof te lees nie!!!

Christo ·

Oulike storie bakkie op foto is 1966 Toyopet voorganger van die Toyota

Marietjie ·

Mooi storie. My laat dink aan my oupa. Hy het weer net ‘n Masda bakkie gehad iewers in die 70’s gekoop. My ma en oom het hom ook vertel moenie meer ry nie, maar nee die oupa wil self nog ry. Hy het besluit dit sy plig om een keer ‘n maand tussen Keetmanshoop en Betanie te ry in Namibie om na die huis te gaan kyk of alles nog reg is by die huurders. Masda het toe besluit tot hier toe en nie verder. Nadat my oom hom gaan haal het, het hy net die sleutel oorhandig en gese gee asb vir Sarie, sy erf die bakkie. My ma het maar ewe die bakkie vir my oom gegee, sy was nie lus vir grensposte en invoere nie. En daai bakkie loop vandag nog en oupa is al 16 jaar terug dood.

Rina Pretorius ·

so mooi, waar is daai rustige veilige dae heen. dis in skrille kontras van wat ons vandag se dae beleef

SJ ·

Baie dankie vir die oulike storie, bake beter as moors en doodslag.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.