KZN-skoonheid verteenwoordig SA in Mev. Heelal

Trisha Poona (Foto: Wayne Rust fotografie)

Die Durbanse skoonheid Trisha Poona sê sy is in ekstase om Suid-Afrika binnekort in die Mev. Heelal-skoonheidskompetisie in Durban te verteenwoordig.

Deelnemers van meer as 80 lande gaan op 2 September vanjaar by die Albert Luthuli Internasionale Konferensiesentrum in Durban bymekaarkom om mee te ding om dié kroon.

Dit is die eerste keer dat hierdie kompetisie op eie bodem aangebied word.

Poona, ʼn fiksheids- en voorkomskonsultant, sê dié kompetisie gaan nie bloot oor skoonheid nie, maar om vroue wêreldwyd te bemagtig.

“Ek sien daarna uit om die ander deelnemers in Durban te ontvang,” het sy in ʼn verklaring gesê. “Dié kompetisie gaan oor die bemagtiging van vroue, en ek dink dit is veral belangrik in Suid-Afrika.”

Poona is getroud met Vishal en die egpaar het twee kinders, Ruan (6) en Ziva (5).

“Om op jou eie te bly en na jouself te kyk is ʼn maklike taak, maar om verantwoordelik te wees vir ander mense is ʼn uitdaging. Dit is wat getroude vroue elke liewe dag doen. My deelname aan die kompetisie is om ander vroue te oortuig dat hulle waardig genoeg is. Ek wil vroue herinner aan hul waarde en seker maak dat hulle selfvertroue het – dís die doel van my reis.”

Mev. SA se tema, wat jaarliks aktivisties van aard is, is vanjaar ʼn veldtog teen geslagsgebaseerde geweld. Poona gaan op 30 Augustus saam met die ander deelnemers vanaf die Kind Dinizulu-park in Durban opruk na die stadsaal vir bewusmaking van geweld teen vroue en kinders.

“Elke jaar word ons as vroue sterker en meer bemagtig. Saam kan ons vroue bemagtig en hulle herinner waartoe hulle in staat is. Ons kan toekomstige generasies wys wat bereik kan word as ons saam werk.”

Trisha Poona (Foto: Wayne Rust fotografie)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.