Laat pyn jou ly of lei?

winter-depressie-saam-twee

Foto: Gerald Gabernig/Flickr.com

Oor pyn, ly(ei)ding en littekens

Dit is nog donker wanneer die wekker lui en daar is ʼn byt in die lug. ʼn Ou kniebesering wat skielik weer begin pla, herinner my aan die komende koue seisoen. Dit is bruin in die bome en op die gras. Tot die blou van die lug voel grys en dof in die winter. Ek probeer die onvermydelike winter wat ook op my gemoed toesak elke jaar keer, maar nes ek nie die pyn in my knie kan verjaag nie, is dit moeilik om emosionele aftye bloot uit my kop te verban.

“Pyn sal daar altyd wees, lyding is jóú keuse”

Dié sin deur ʼn motiveringspreker wat ek iewers op YouTube raakgeluister het, spook die laaste paar weke by my. Pyn en lyding. Dié twee word soos vinkel en koljander saam in sinne gebruik. Dis amper sinonieme. Tog “marineer” die gedagte en dit knaag en knaag aan my totdat ek uit die bloute, in die middel van ʼn slapelose nag terwyl ek sukkel met die hoeveelste ronde ToyBlast op my foon, besef: Daar is pyn en lyding en daar is pyn en leiding.

Ek ry my lewe lank al die wipplank van bipolêre gemoedsteuring. Min mense sal op die oog af kan sê waar ek my op die oomblik bevind op my wipritte. Maar wip, wip ek. Die afwaartse wippe word dikwels veroorsaak deur pyn. Nuwe pyn, of snellers wat pyn uit die verlede weer oopkrap. Soms selfgeskepte pyn, wanneer ek vergeet om vir myself grense te stel.

Pyn is ʼn normale reaksie op dinge wat gebeur in die lewe. Dit is ʼn wond. Dit is seer. Gebroke verhoudings veroorsaak pyn. Trauma veroorsaak pyn. Verlies veroorsaak pyn. Teleurstelling veroorsaak pyn. Die vraag is dus nie of ons pyn gaan hê nie. Die vraag is wat ons daarmee doen. Dra ons dit saam? Laat ons toe dat dit ons lewe oorheers? Of gebruik ons dit om te leer, om taai te word, ʼn immuniteit op te bou teen pynlike situasies wat in die toekoms weer kan afspeel. Slaan ons as gevolg daarvan dalk ʼn nuwe rigting in? Help ons eendag iemand wat in dieselfde bootjie as jy is?

Laat pyn ons opgee of opstaan? Laat ek toe dat my pyn in lyding verander? Met ander woorde: koester ek die wonde só dat dit nooit gesond word nie en ʼn blywende wond is, of is daar ʼn moontlikheid dat my pyn vir my leiding kan gee sodat ek ʼn nuwe plek in my lewe kan ontdek en daarmee saam ʼn nuwe, sterker ek?

boom-gebuig-wind

Foto: RonPorter/Pixabay.com

Maar tog het daardie boompie

weer stadig reggekom,

want oor sy wonde druppel

die salf van eie gom.

 

Ook het die loop van jare

die wonde weggewis –

net een plek bly ‘n teken

wat onuitwisbaar is.

 

Die wonde word gesond weer

as jare kom en gaan,

maar daardie merk word groter

en groei maar aldeur aan.

Uit: Vergewe en vergeet (Totius)

“Wat het dáár gebeur oom?” vra kinders my man gereeld oor die indrukwekkende litteken in sy nek af. Hy het al drie nekoperasies gehad. Dan spot hy met groot oë en ʼn dramatiese stem: “My kop het ʼn paar jaar gelede morsaf gebreek en dít is waar die dokters dit weer vasgewerk het.”

Littekens is sigbare getuienisse van fisieke pyn wat in die verlede is. Dit is nog sigbaar, maar jy kán daaroor praat en daaraan raak sonder dat dit nog seermaak. Die vel by ʼn litteken is dikker en sterker as wat dit voor die besering was, want jy is sterker as jou wond eers gesond is.

Ek weet nie watter wonde jy het nie. Ek weet nie hoe groot en hoe diep dit is nie. Elkeen van ons verskil en ons wonde en genesingstyd verskil ook. Mag jou wonde jou ook na ʼn beter plek lei.

En nou? Wat maak ek hiermee wanneer ek weer afwaarts spoed op hierdie wipplank van my? Wanneer ek besef ek gaan my nou weer ordentlik stukkend val daar onder?

Ek hoop dat ek hierdie keer iemand daar onder kry wat ek saam met my weer boontoe kan lei. Iemand vir wie my littekens van vorige valslae nóú iets kan beteken, terwyl ek aan my nuwe wonde werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ook in PYN ·

Dankie vir die inspirerende artikel. Baie sterkte vorentoe. Ek het geleer 1. ” Heal others to heal the self” 2. Pyn maak nie dood nie. 3. Leef transendentaal verby en bo oor die pyn asof dit nie bestaan nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.