Leemtes, liefde en lente

Lizma se Lienka. (Foto: Verskaf.)

Hier bevind ek my toe twee dae gelede onverwags in ’n begraafplaas. Een van die mooistes wat ek nog gesien het. Die gestorwenes, waaronder ’n paar groot geeste in ons land se geskiedenis, rus aan die voet van dié Overbergse koppie met branders wat net ’n kilometer verder onder teen die rotse klots. ’n Onverbeterlike uitsig vir die rustendes in albei rigtings. Die grafte is netjies versorg en die bosse vars blomme (veral proteas) getuig daarvan dat dié wat hier lê, nie vergete is nie.

My en my stapvriend se honde speel uitgelate in die fynbos terwyl ons twee sonder baie praat by sy vrou se mooie lêplek vertoef. Ek vertel hom van die vorige keer toe ek die paadjies om die koppie verken het. My dowe, driebeenmeisiekind was in ’n stadium skielik skoonveld, maar my skrik was darem van korte duur. Sy het ongesiens na ’n graf toe gehinkepink en opgespring waar sy tjoepstil gaan staan het – met toe ogies, so asof sy bid.

Met die terugstap motor toe is ek en my vriend albei maar stil. Ons stop kort-kort om die afskeidsboodskappe op die graniet te lees. My trane lê vlak oor al die bitterswaar groet wat op hierdie heilige stukkie aarde plaasvind en ook oor die kers wat ek weer vanoggend vir my pa, op sy verjaarsdag moes aansteek. En die een wat ek elke jaar op 1 September op die herdenking van my ma se dood vir háár aansteek.

By die huis gekom, kry ek die kaggel aan die gang en kry my sit in my gemaklike ou stoel. Soos die hitte my koue lyf laat ontspan, begin my gedagtes lang kronkelpaaie loop na al die kosbare mense (en geliefde diere) wat ek oor die jare verloor het. Ek dink aan my vriendin wat sê mens kom nooit oor die dood van iemand vir wie jy regtig lief is nie – mens raak net treurfiks. Ek dink aan die laaste betekenisvolle gesprekke met my dekade lange vriend David wat op 30 Junie aan kanker dood is, ook hoe dankbaar ek is dat niks ongesê gebly het nie.

Die vlamme in my kaggeltjie het intussen al hoe korter begin raak en soos ek die laaste stompe opgooi, lig my twee hondekinders hul koppe, effens gesteurd deur die geraas. En ek dink hoe lief ek vir die twee diertjies is en dat liefde, in watter vorm ook al, die lewe leefbaar maak.

En nou is dit 1 September. Lentedag. Dis koud en Covid-19 is nog met ons. Ons wêreld is aweregs.

Al wat ek weet, is dat ek weer vandag my stapskoene gaan aantrek en my soos altyd sal verwonder aan die aalwyne en speldekussings op my bergpad.

En ek gaan vir my ma ’n veldblom pluk.

Vir vandag is dit genoeg.

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cheryl ·

Lizma pragtige artikel geskryf met deernis en verstaan. Dankie. Maroela ons soek meer hiervan asb.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.