Leerdasse, elegansie en entrepreneurskap

devan-swanepoel-weef-01

Dévan Swanepoel, die mede-stigter van WEEF wear, ‘n leefstylhandelsmerk wat leerprodukte plaaslik vervaardig. Foto: Verskaf.

In 2013, toe Dévan Swanepoel nog in die advertensiebedryf werksaam was, was hy op soek na ʼn leerdas vir sy uitrusting vir die gesogte Loerie-toekennings daardie jaar. Hy wou hê die das moes pas by sy leerskoene, -gordel en -horlosiebandjie. Die enigste uitweg was om ʼn das teen ʼn hemelhoë bedrag uit New York te bestel.

Swanepoel het die strate van Kaapstad ingevaar en ʼn plaaslike leerwerker op die sypaadjie van Langstraat opgespoor wat net daar en dan ʼn handgemaakte leerdas vir ʼn paar honderd rand vir hom kon maak.

“Na talle komplimente oor my uitrusting, en veral die das, het ek besef hier is dalk ʼn sakegeleentheid,” en só is die saadjie geplant vir WEEF Wear, ʼn leer-leefstylhandelsmerk, soos Swanepoel dit noem.

Dit was egter eers nadat hy besluit het om die Camino de Santiago in Spanje te stap dat hy besef het hy moet eenvoudig sy sakedroom ten volle najaag.

“Ek het my nege-tot-vyf-werk bedank, en dit was beslis een van die moeilikste goed wat ek gedoen het. Ek het alles verkoop wat ek besit en op die pelgrimstog gegaan. Toe ek terugkom, het ek besef ʼn mens lewe net een keer en as ek nie hierdie ding doen nie, gaan dit my vir altyd pla. Ek en my sakevennoot, Patrick Musil, het albei ons kaarte op die tafel gesit en diep in hierdie WEEF-swembad gespring.”

Swanepoel sê hy is dalk net ʼn “nederige 27 jaar oud”, maar hy reken hierdie sprong in die onbekende wêreld van entrepreneurskap was tot op hede een van die lonendste goed wat hy aangepak het. “Dit was omtrent ʼn openbaring om jou eie sakeonderneming te begin. Ek het soveel klein goedjies geleer – hoe om ʼn onderneming te registreer, om advertensie te skryf en hoe om met verskaffers te werk.”

devan-swanepoel-weef-03

Foto: WEEFwear.com

En gepraat van kanse waag: Swanepoel het op ʼn dag besluit om die DA se hoofkantoor te kontak en vir die leier van die party, Mmusi Maimane, een van hulle dasse as ʼn geskenk te stuur.

“Ek het sekerlik maar die waagmoed van ʼn rottweiler en aanvanklik het ek gedink dit is ʼn belaglike idee, maar ʼn week later bel sy sekretaresse uit die bloute en sê Maimane wil ons ontmoet. Ek sê toe natuurlik ek sal eers na my dagboek moet kyk,” vertel Swanepoel skertsend. “Nee ek spot, maar hy het een van ons dasse in die parlement gedra terwyl hy ʼn toespraak gelewer het wat regstreeks uitgesaai is.”

Swanepoel reken dit was net die soort blootstelling wat WEEF nodig gehad het om die handelsmerk se sosialemediavoetspoor en aansien te laat groei.

Tog was die ontwikkeling van ʼn eie onderneming nie sonder uitdagings nie. Swanepoel verduidelik dat terwyl hulle gelukkig genoeg was om uit die staanspoor ʼn internasionale belegger te kry wat gehelp het om die handelsmerk te begin, moes hy en Musil al hul tyd en energie in die onderneming sit. “Ons het elke sent wat ons ontvang het in WEEF teruggeploeg om dit uit te brei, maar soms moes ons wonder waar gaan die geld vandaan kom om die alledaagse kostes vir oorlewing te dek. Ek wens soms daar was ʼn fonds wat ʼn opkomende entrepreneur op sy vooruitgang kan evalueer en net kan help om daardie basiese uitgawes soos petrol of mediese fonds te dek.”

Wat is die grootste les wat hy tot dusver geleer het? “ʼn Mens moet net aanhou en uithou – volharding is ongelukkig nie ʼn vak wat op skool aangebied word nie. Daar is soveel keer wat ons gevoel het dit gaan dalk nie werk nie, maar ons het net gefokus op die daaglikse klein suksesse en nou staan ons al ses maande later.

weef-image-06

Foto: WEEFwear.com

“Hoe meer jy jou droom navolg, hoe meer maak die wêreld vir jou oop. Jy moet jou droom byna genadeloos navolg want mense kan hierdie passie van jou aanvoel en ek dink dit is wat op die ou einde jou produk verkoop.

“Ek word nou elke oggend met hierdie opgewondenheid in my wakker want nou het ek ʼn storie om vir mense te vertel en hierdie storie kan mense beïnvloed en inspireer.”

Swanepoel droom daarvan om WEEF uit te brei na ʼn volwaardige internasionale herkenbare leefstylhandelsmerk en hulle sal binnekort ook strikdasse, baadjiesak-vierkante (pocket squares) en leersakke vervaardig. Die langtermynplan is ook om later selfs leerskoene en -baadjies in WEEF se ateljee in Kaapstad te vervaardig.

“Ek dink daar is nou ʼn modeneiging in Europa en New York rondom klere wat vir jou daardie gevoel gee van hoe ʼn ware heer sou aantrek, en ek dink daardie neiging is besig om na Suid-Afrika oor te spoel. Daar is ʼn beweging van mense wil goed lyk, want mense besef hulle het ʼn paar minute om iemand blywend te beïndruk en as jy goed lyk dan voel jy ook sommer goed.”

Swanepoel is ook daarvan oortuig dat gevestigde entrepreneurs weer in jong, opkomende entrepreneurs moet belê. “Ek sal hou daarvan om alles wat ek in die sakewêreld geleer het weer terug te kan gee en te deel. Dit sal vir my wonderlik wees om eendag weer in ʼn mense te kan investeer – mense soos ek wat drome het maar nie weet hoe om dit te realiseer nie.

“So eendag gaan hierdie onderneming hope geld maak en dan sal ek self daardie fonds begin wat jong entrepreneurs se basiese uitgawes dek terwyl hulle hul onderneming ontwikkel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.