Die Voortrekkers, die kultuurbeweging wat op 30 September 1931 in Bloemfontein gestig is, vier vandag amptelik sy 85ste bestaansjaar en kyk terug op dít wat hy in 85 jaar bereik het en na die blink toekoms wat vir hom wink.
Dié beweging is ná agt dekades steeds ʼn relevante organisasie wat die moderne Afrikaner-jeug bemagtig om suksesvol te wees in sy roeping tot diens. Die Voortrekkers is ook ʼn plek waar die jongspan waardevolle vaardighede en Christelike waardes aanleer.
Maar hóé bly die beweging ná ʼn eeu steeds relevant?
“Voortrekkerspore van ouds word nie net bevestig nie, maar nuwe spore word getrap,” meen dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK en hoofleier van Die Voortrekkers.
“Ons vier immer al sedert 6 Augutus dié 85 jaar-mylpaal met verskeie feeste dwarsoor die land as deel van die ‘Trap nuwe spore’-feesjaar.”
Die Voortrekkers het onder meer op 6 en 7 Augustus simbolies oor die Drakensberge getrek. Langner het voorheen gesê Die Voortrekkers het hierop besluit omdat Piet Retief ook in 1837 op daardie einste plek met vier waens op pad na koning Dingaan afgetrek het.
Dié geleentheid het meer as 400 hedendaagse Voortrekkers die geleentheid gegee om Retief se spore bergaf te volg.
Twee monumente is tydens dié geskiedkundige geleentheid opgerig: een aan die bopunt naby die Kaalvoetvrou en een by ATKV Drakensville. ’n Boomlaning is onder meer ook in die oord aangeplant om dié nuwe spore te bevestig.
Benewens dié “groot trek” het die organisasie ook op 25 September 600 nuwe Voortrekkers ingelyf.
Dié massa-inlywing is ʼn aanduiding van die beweging se blink toekoms, het Langner gesê. “Die Voortrekkers se ledetal het sedert 2014 met 14% gegroei en het bykans 1 000 nuwe Voortrekkers as lede ingelyf tydens die landswye feeste,” het hy bygevoeg.
Die organisasie het onder meer ook onlangs hul eie resepteboek, Die Voortrekkers kook, bekendgestel.
“In die Voortrekkers is daar baie ‘kos-tannies’. Dis tannies wat al jare lank op Vootrekkerkampe kook. Met die viering van die Voortrekkers se 85ste bestaansjaar het ons besluit om ʼn kookboek aan dié tannies op te dra. Die kookboek is eintlik ʼn samestelling van resepte van legendes in die Voortrekkers,” het Karin Stofberg van die Voortrekkers se dagbestuur gesê.
Vroeër vandeesmaand het Die Voortrekkers die duisende gestorwenes van die Anglo-Boereoorlog vereer met ʼn kranslegging by die Irene-konsentrasiekampkerkhof in Pretoria.
Langer sê van een ding is Die Voortrekkers seker en dis hul relevante voortbestaan. “Dit gaan oor ʼn liefde vir ons taal, kultuur, ons kinders, en bo alles, ʼn liefde vir die Here, en dít hou ons relevant.”