Lente vir ʼn onweersland

Foto: Angie/Unsplash

Lentemaand; spreekwoordelik die aanbreek van nuwe lewe. Maar September in Suid-Afrika het alreeds nóg meer skokkende moorde, ontvoerings, versperde hoofpaaie, uitgebrande vragmotors en anargie meegebring. Waar gaan ons hulp vandaan kom, wonder Sarie Marais-Nell (asook duisende Suid-Afrikaners).

Dis heerlike lente, die winter’s verby;
weer skree koerante van moord en van rape.
Ho-la-dri-o-ha, dit raak so erg,
dit is verskriklik, waar gaan dit dan stop?
Ho-la-dri-o-ha, dit raak so erg;
Môre’s dit ek, of dit is dalk jý!
(Met apologie aan Theo W. Jandrell en G.G. Cillié)

Nog nooit het vroue- en lentemaandvieringe onder só ’n onweersambreel plaasgevind nie: ’n Koeël in die agterkop van ’n spelende sesjarige, ’n jong vrou se kop binne ’n blou koelboks. ’n Student wat ’n poskantoorpakkie wou afhaal, ’n teologiestudent binne die gewaande veiligheid van haar ouerhuis. ’n Swanger ma. Vonnisoplegging vir die 2017-moordsaak op ’n agtjarige dogtertjie wéér uitgestel weens die veroordeelde se truuks. Die Springs-gruwelhuis. Die Modimolle-monster.

“Dis genoeg!” verklaar ons. Asof geweldenaars dit kan (of wil) hoor.

Kort op die hakke van “Dis heerlike lente” skiet ’n Port Elizabeth-dokter sy vrou. En verjaar ’n dogtertjie wat nie haar kersies doodblaas nie, want sy is steeds op die lys vir vermisde persone; haar ma verby breekpunt.

Terwyl aronskelke en blomruikertjies as simbool van nuwe lewe sitkamers en lessenaars probeer opvrolik, word lorries uitgebrand; ’n sesjarige uit haar ma se motor ontvoer; en sterf ’n pasgeborene weens brandwonde in die hospitaal.

Omdat blomme soos vriende is, soos boodskappers van liefde en omgee, wens ek ek kon ’n kwekery besit. Dan sou ek ruikertjies vol hoop aan elke gestresde gesin wou uitdeel…

Vrolike oranjegeel kappertjies vir die De Jager-gesin ná hul hereniging met Amy-Leigh as simbool van die menslike gees se vermoë om oorwinnend te groei verby afbrekende emosionele vullishope vol angs en posttraumatiese stres. Ná 18 intense ure van vrees, bid en huil oor hul weerlose sesjarige se ontvoering, wil ek dat pretensielose kappertjies mense opnuut herinner aan die goedheid en onskuld en varsheid wat die lewe tóg steeds bied. Al moet Suid-Afrikaners soms baie hard soek om dit te vind.

Vir die meisie wie se gesin oor Paasnaweek in ’n Suid-Kaapse ongeluk uitgewis is, stuur ek ’n reënboog vol gladiolusblomme. Hierdie simbool van herinnering, sterk karakter en getrouheid, dra die wens dat sy sal vasbyt saam met goeie terapeute om deur al die trauma te werk terwyl sy hul herinneringe eer. Dat sy tree vir tree na nuwe mikpunte werk, tot sy weer kans sien vir elke oggendstond.

Aronskelke stuur ek aan ouers van kinders wat verdwyn het en steeds gesoek word. Eintlik versinnebeeld hierdie blom met sy lelike sinoniem – die varkblom – die hele lewensspektrum, want varkblomme gedy as hul pootjies in die modder staan. Terwyl aronskelke, oftewel lelies, dié versekering bring dat die omgewing nat genoeg is om te kan blom, dat dit ’n goeie reënjaar is, wil ek graag hierdie teken van hoop, varsheid en onskuld aan die angstige ouers oordra.

Orgideë as toonbeeld van stille krag en elegansie, stuur ek aan die gesinne van jong vroue wat verdwyn en vermoor gevind is: die Meghan Cremers, Janika Mallos, die jong bokskampioen “Baby Lee” Jegels’s en Lynette Volschenks van ons lewens. So wyd soos die verskeidenheid pragtige orgideë waaruit mens kan kies, net so verskillend was hul persoonlikhede, talente, drome en daaglikse programme. Met één gemeenskaplike eienskap: Nie een van hulle het begeer om so ontydig en onder sulke onmenslike omstandighede te sterf nie.

Die volgende groepie wat blomme verdien, is kinders uit vorige verhoudings wat saam met ’n ouer se nuwe lewensmaat en nuwe sibbe, tjoepstil moet leef. Aan hierdie “onsigbares”, wat nooit mag praat, ’n mening lug of versoeke rig nie; hulle wat stilweg bestaan sonder liefdevolle, gedyende aandag, oorhandig ek sterk, kleurvolle Barberton Daisies wat geen oog kan miskyk nie. Ek wéét die nederige malva wat op min aandag oorleef, sou dalk beter by hul pas, maar hierdie vrolike blomme sal sommer namens hulle die oog en aandag trek. En hul harte streel.

Malvaplante stuur ek aan vereensaamde bejaardes: Kleurvolle malvas, of daardie wat so lekker ruik. Vergeet ’n gryskoppie soms om die malvaplant water te gee, sal hierdie geharde plante dit vergewensgesind oorleef.

Die Poppie van der Merwes – kinders wat verinneweer en mishandel word – kry pers en geel gesiggies om ons liefde oor te dra. En ekskuus te sê dat húlle die woede en onvermoëns van volwassenes moet dra; versorgers wat hulle moes liefhê en koester.

Omdat proteas sterk blomme is en omdat dit verandering en hoop simboliseer, oorhandig ek koningsproteas aan elke boervrou in ons land. Van mega- tot kleinboer se vrou moet deesdae selfverdediging leer, paraat wees, fisiek help saamboer omdat arbeid duur geraak het – en gedurig in spanning leef omdat die winsgrens marginaal en ontoereikend geraak het. Met ’n reuseprotea in die hand, sal hulle weet dat ons saam met hulle hoop op reën, hoop veiliger nagte en ’n rooskleuriger toekoms.

My kwekery sal nooit oorleef as ek net uitdeel nie, daarom raai ek moeders aan om gereeld vir hul vriendinne, dogters én skoondogters blomme te stuur. Bont, vrolike, lekkerruik ruikers, groot of klein. Veral omdat almal deesdae besef die lewe is te kort om blomloos te leef. En ons gereeld ons liefde en waardering moet betoon.

Terwyl selfs ons humorsin deesdae aan dun, brose draadjies hang, onderneem ek om angeliere en krisante, koringblommetjies, affodille, irisse en ranonkels as bringers van positiewe energie in te werk in kleurryke blomruikers wat mense sal bemoedig. Elke ruiker sal spog met ’n pagtige lelie of twee, want uiteindelik is die bygeloofdae dat lelies begrafnisblomme is, finaal verby.

Rose laat ek oor aan jongmense en minnaars, daardie beneweldes van verstand wat nie besef hoe vinnig rose in Suid-Afrikaanse somers verwelk nie. Kan mens hul verkwalik?

Terwyl ek ongelukkig kwekeryloos deur my lewe loop, moet ek noodgedwonge op alternatiewe wyses my omgee uitdra met boodskappies (skriftelik of met ’n stywe drukkie), ’n luisterende oor, ’n koppie koffie vir die moedelose, ’n bordjie eetgoed vir bure wat swaartrek.

Kom ons mik vorentoe, met ’n sonneblomgeaardheid in ons harte. Nie meer vaskyk teen die gemors rondom ons voete nie, maar dapper ons blik verskuif na die mooier dinge wat werklik steeds bestaan.

Dit, terwyl ons met ons nuwe sonneblomstyl ook opkyk na dié Son met genesing in sy strale.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Trudie Vermeulen ·

Dankie Sarie altyd lekker om jou berigte in Maroela Media te lees hoop daar is nog baie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.