Lewe jy aspris of per ongeluk?

paul-maritz

Paul Maritz, is die koördineerder van Solidariteit Jeug. Foto: Verskaf.

Deur Paul Maritz

Ek is die middelkind van drie, ’n toestand wat sekerlik medies gediagnoseer kan word – druk en konflik gaan beide kante toe, jy kan leer by die ouer een se foute en die jonger een onderrig, of ten minste voorbeelde stel van hoe om dit nie te doen nie. Van die eerste woorde wat ek geleer het, was wat jy sê as jy met jou stoute optrede gekonfronteer word: “Mamma, dit was nie aspris nie”.  Meeste van ons het sekerlik hierdie woord “aspris” op hierdie manier leer ken, iemand het jou benadeel en dit was met opset, dit was aspris – maar het jy dit al ooit op jou lewe toegepas?

Jy staan dalk elke oggend ná die derde wekkergelui op, drink koffie wat ʼn ou Land Rover aan die gang sou kry, en druk gisteraand se oorskiet tussen jou wange in. Jy kom by die werk aan met daai koffie-modder-mengsel nog in jou gestel, en dan staan jy. Soos ʼn kleuter wat ʼn golf sien kom, voete in die sand, reg vir hierdie vloed van werk, e-posse, en take wat jou omvou, en oorneem. As jy vandag iets regkry is dit per ongeluk, niks aan jou gemiddelde werkdag is aspris nie. Klink dit bekend?

Party mense kan sê nee, ek is in beheer – maar die meeste van ons knik die kop dalk skaam – ons dag word meer dikwels beskryf met die woorde “per ongeluk” as “aspris”.

Miskien het die tyd gekom om so ʼn bietjie beheer terug te neem. In plaas daarvan om die golf met vrees en bewing teen te staan, is die tyd dalk reg om die golf een voor te wees, en kiertsregop op jou branderplank te staan as dit kom. Hier is ʼn vier reëls om “aspris” te lewe:

  1. Neem verantwoordelikheid.

Die 2012 Amerikaanse presidentskandidaat Mitt Romney het gesê: “Leierskap is om verantwoordelikheid te neem, nie om verskonings te maak nie.

Dit is te maklik om vinger te wys en te sê dat iemand anders die skuld moet kry. Die verkeer maak jou moeg, jou kollegas is net nie aangename mense nie, jou werk is nie lekker nie, of wat dit ook al is, solank jy jouself kan oortuig dat dit nie jou skuld is nie.

Hou op om allerhande eksterne faktore die mag oor jou dag te gee! As dit jou naam is wat op daardie kantoor se deur staan, as dit jou handtekening op daardie werkkontrak is, dan is die werk wat daar gedoen word jou verantwoordelikheid! Staan elke oggend op met die besef dat dit wat jy vandag gaan doen, jóú werk en jóú verantwoordelikheid is. Nie jou baas, jou kollega, of jou rekenaarprogram se verantwoordelikheid nie, maar joune! Die eerste stap tot aspris lewe, is om aan die einde van elke opdrag bereid te wees om jou naam voorop en onderaan elke bladsy te sit, en sommer daar by te skryf: “Ek het hierdie gedoen, dit is my werk, dit is die produk van my arbeid, en ek sit graag my naam daarop.”

  1. Moenie kortpad vat nie!

Waarom meer doen as wat verwag word? Waarom harder werk as die persoon in die volgende kantoor, wat in elk geval dieselfde salaris kry? Waarom met iets nuuts vorendag kom as jy net verlede jaar se voorlegging kan gebruik en die datum kan verander? Waarom moeite doen as jy rustig kan wees?

Al hierdie vrae is die vrae wat iemand vra wat vrede daarmee gemaak het dat die stroom hom of haar eintlik reeds geneem het. Doen net genoeg om jou salaris te regverdig, doen net dit wat jy absoluut moet doen. Om aspris te lewe, beteken dat jy teenwoordig is in die proses, dat jy hiér en nou bewus is van wat aangaan, wat fout gaan, en wat anders moet gaan en hoe jy, die katalisator, die agent van verandering kan wees.

En hierdie teenwoordigheid, hierdie “meer doen as wat verwag word” is moeite. Dit beteken dat jy soms die langer pad moet stap. Dit beteken dat jy soms langer ure moet werk of ʼn boek moet lees, of ʼn aanlynkursus moet loop. Of heeltemal buite jou gemaksone moet funksioneer. Die Amerikaanse besigheidsman Bo Bennett het gesê, “Daar is nie kortpaaie na sukses nie”.

Die kortpad is dalk vinniger, meer gerieflik, en op die kort termyn lekkerder, maar langs daardie pad vind jy dikwels net die mense wat per ongeluk lewe soos hulle meegesleur word met die stroom.

  1. Droom drome, en maak planne!

In die bekende film The Count of Monte Cristo sê Napoleon Bonaparte aan een van die karakters: “Ons is almal óf konings óf pionne”. Die stelling is dalk effe radikaal, maar daar steek dalk waarheid daarin dat sommige mense hul eie drome uitleef, en ander mense hul werkgewer of kollega se drome waar maak.

Wanneer laas het jy tyd in jou dagbeplanning ingeruim om net te sit of rond te stap en te dink, te droom? Wat wou jy alles binne jou beroep reggekry het toe jy begin het? Waar wou jy hê moes jou praktyk teen hierdie tyd gewees het, watter berge wou jy al letterlik of figuurlik uitgeklim het?

Roetine is goed – dit is deur talle studies bewys. Maar te veel roetine, smoor jou vermoë om werklik te droom, werklik na te dink oor die toekoms en al die wonderlike geleenthede wat daarin vervat is.

Kom ons veronderstel dat jy dan nou jou drome gedroom het, wat dan? Die droom is ook maar net die eerste helfte, daarna moet jy planne maak!  Die droom is die eindbestemming, die plan is die tree-vir-tree-strategie vir hoe presies jy daar gaan uitkom – die navorsing, maar ook die harde werk, die sweet, die meer doen as ander.  Eers dan, as jy die droom gedroom en die plan beraam het en die eerste treë gee, lewe jy aspris, lewe jy met opset.

  1. Dissipline, dissipline, dissipline.

Die Amerikaner Jim Wendler het die opmerking gemaak, “Dissipline troef motivering” – ʼn opmerking waaroor ons baie kan nadink. Om elke oggend vyf minute oor agt by jou lessenaar te sit en wag totdat die motivering om te werk, die motivering om uit te blink, en die motivering om aspris te leef jou tref, is ʼn futiele oefening. Soveel mense luister na motiveringspraatjies of lees selfhelpboeke in die hoop dat dit hulle sal motiveer. Die waarheid is dat sulke motivering amper altyd tydelik is.

Ware uitnemendheid kom van dissipline. Werk hard, al voel jy nie lus daarvoor nie. Staan vroeg op, elke dag, sonder uitsondering, sonder verskoning, sonder om aan redes te dink waarom jy vandag nog 20 minute se slaap verdien.

En as jy wil verbeter, verbeter elke dag ʼn bietjie, en maak seker dat jy gedissiplineerd is en elke dag hou by daardie veranderinkie wat jy gemaak het.

As motivering daardie energiedrankie is wat jou vir ʼn paar uur soos ʼn kangaroe laat rondspring en daarna met ʼn spoed aarde toe bring, is die dissipline daardie volgraanbroodjie wat dalk nie na veel proe nie, maar wat jou heeldag op ʼn goeie vlak aan die gang hou, en aan die presteer hou.

Dissipline is nie noodwendig kleurvol of passievol soos baie motiveringsprekers nie, maar dit is die enigste ware pad na volhoubare langtermynsukses.

Om per ongeluk te lewe is maklik, jy doen net-net genoeg. As jy bevorder word, is dit toevallig en jy is verbaas daardeur. As jy nie bevorder word nie, dan is dit maar so.

Om aspris te lewe is nie maklik nie, allermins. Dit verg toewyding, dissipline en werklik harde werk – maar slegs hulle wat bereid is om verantwoordelikheid te neem, en daardie ekstra myl op soveel fronte te stap, soos wat elkeen van ons weet ons kan, slegs hulle kan werklik die golf van elke-dag-lewe regopstaande, sigbaar en teenwoordig trotseer.

  • Vir meer artikels oor die werkplek, effektiwiteit en jou loopbaan, volg gerus Solidariteit Jeug se Facebook-blad, of teken in by www.jeug.co.za – die skrywer kan gekontak word by [email protected]
  • Paul Maritz is die koördineerder van Solidariteit Jeug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Casper Labuschagne ·

Ek sal hierdie hele artikel opsom deur te sê, “Sorg vir Jouself.” Wat al die boemelaars, diegene wat op straat slaap, in plakkerskampe woon, bejaardes in versorging, persone met Alzheimers of dimensie asook siekes in hospitale in gemeen het, is dat hulle die vermoë om vir hulself te sorg verloor het.

Om die vermoë te verloor om vir jouself te sorg verg nie veel nie, hou bloot op om vroeg op te staan, jou bed op te maak, jou kamer aan die kant te maak, jouself te versorg, te gaan werk en ook om behoorlike etes voor te berei en ‘n progressiewe hulpeloosheid en agteruitgang sal noodwendig volg.

Maar dit gaan verder, jy moet die keuse maak of jy bloot soos al die ander 90% deur die siklus van die getye voortgesleur gaan word, of gaan jy skuins opbeur teen die gety en ‘n verskil maak? En eers as jy vir jouself gesorg het en die wilsbesluit gemaak het om ‘n verskil te maak gaan jy kan vordering kan maak. Ongelukkig kom die ander 90% nooit eens by hierdie wilsbesluit uit nie.

Dis net jy, niemand anders nie – sorg vir jouself.

JMC ·

Briljante skrywe. 1, 2 en 4 is deel van my lewe. Ongelukkig is die harde werklikheid van die korporatiewe wêreld dat dit nie saak maak hoe produktief en vindingryk jy is nie, op die ou einde hang alles af van aan watter kant van die balansstaat jy val omdat alles om belegger belange draai. So hoekom handhaaf ek hierdie eienskappe? Want wanneer ek huiswaarts keer weet ek ek het my bes gedoen want ek is dankbaar vir en vergenoeg met elke sent wat ek verdien omdat ek verlies in sy diepste vorme al ervaar het. Wat nommer 3 betref, is my enigste droom om as middeljarige witman die volgende vyf jaar in diens te wees tot verpligte aftrede.

M-otivering ·

Ek het sommer op die daad die arikel geprint, en gaan dit in my dagboek sit en saam met my neem : WANT DIT IS ONGELOOFLIKE GOEIE EIENSKAPPE van ‘n jong man wat WEET waar sy krag lê. Ek is nogal ‘n apsris mens, en baie mense wonder soms waarom ek elke dag blymoedig is, waarom ek nooit moeg word nie, altyd glimlag, positief is. EN DIT IS N KEUSE WAT ELKE MENS MOET MAAK! As JY nie die keuse maak om APSRIS te lewe nie, wel jammer om jou teleur te stel, jy ontneem jouself van so baie blessings wat jou eintlik moet toekom. Doen elke dag, vir 30 dae net 1 aspris ding, en voor jy jou kom kry, is dit deel van jou alledaagse bestaan! En jy gaan ook dan kan voel jy het purpose in die lewe! Dankie Paul, jy is n baie baie wyse jong man!

Paul Maritz ·

Dankie M-otivering, dat jy die stuk gelees en uitgedruk het! Dankie ook vir jou komplimente, ek waardeer dit.

John ·

…. dit was natuurlik ook eienskappe wat die Nazi’s aangemoedig het… en kyk hoe het die spul uitgedraai. Om in die Geloof te leef dat Iemand daar Bo vir jou sorg is die eintlike toets en nie hoe ek dit doen nie, want teenspoed tref almal die een of ander tyd en dan is ekkie in die moeilikheid.

Snowball ·

Ek glo nie dié artikel is geskryf om te weerlê dat jy God eerste moet stel en uit die geloof moet lewe nie. Die motivering om gefokus, doelgerig, toekomsgerig en gedissiplineerd te lewe kan ook op jou geloofslewe van toepassing gemaak word. Daar is baie wat lou is ook in hulle geesteslewe. God verwag nie van sy kinders om ‘n “Godswater oor Godsakker” lewenshouding te hê om te bewys Hy is in beer nie, Paulus se lewe is ‘n voorbeeld van iemand wat elke dag die bul by die horings gevat het. Uitstekende artikel, Paul Maritz.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.