Liefde deur die pos

Valentynsdag

Foto: Pixabay.com

Dit gebeur nie aldag dat twee duifies in dieselfde boom kan sit as dit kom by langafstandverhoudings nie. Maroela Media het gaan kersopsteek by verskeie paartjies vir oulike wenke oor hoe mens Valentynsdag vier in ʼn langafstandverhouding.

Skop Valentynsdag af met ʼn “ek’s lief vir jou oproep”.

Bel jou maat bloot net om te sê hoe lief jy vir hom of haar is. Dit sal die vonk in haar hart verskaf om ʼn dag vol liefde vir julle te laat ontvlam. Dit sal haar asem wegslaan en dit klop die idee van ʼn teddiebeer enige tyd.

Wanneer jy haar verras met ʼn geskenk, kies eerder ʼn persoonlike geskenk as ʼn bos blomme of sjokolade.

Kry vir jou geliefde oulike pajamas of ʼn hemp met ʼn oulike boodskap op. Die belangrikste is dat die geskenk haar ontkant moet vang. Jy kan dan ʼn opwindende oproep verwag waarin jou maat oorweldig en innerlik bly gaan wees. Paartjies sê die beste manier om te verseker jou maat ontvang die geskenk, is om te reël dat ʼn vriend of familielid, wat naby die persoon bly, dit gaan aflewer.

Slaan ʼn oulike videoclip of scrapboek aanmekaar wat jy vir jou maat kan stuur.

Vang al jul herinneringe en spesiale oomblikke hierin vas. Gebruik foto’s van julle twee saam, fliekkaartjies en enige iets wat julle aan ʼn spesifieke oomblik laat dink. Dit sal goeie herinneringe oproep en julle laat lag en voor julle weet sal julle nader aanmekaar voel as ooit tevore.

Waar daar ʼn wil is, is daar ʼn weg

Marize Ras van Pretoria-Noord sê, “ ons kom altyd bymekaar uit op spesiale geleenthede “. Die grootste geskenk is dus tyd. Daar is nie ʼn groter verrassing as jyself nie. Probeer dus jou bes om by jou maat uit te kom. Liefde wen altyd en oorwin afstand.

Laaste maar nie die minste nie , ʼn brief

‘n Brief mag dalk outyds wees, maar dit stel jou in staat om presies te verduidelik hoe jy voel en wat die ander persoon vir jou beteken. Na afloop van al die stappe hierbo, sal jou maat weet jy bedoel elke woord en dat dit nie leë woorde is nie.

Met al julle telefoon gesprekke deur die dag is dit belangrik om haar te laat lag. Dit is ook van uiterste belang dat julle net op die positiewe fokus. Vermy hartseer gesprekke wat die trane sal laat rol. Hou dus alle gesprekke vrolik.

As jy jou dag dus met liefde en geluk wil vul, volg hierdie paar eenvoudige stappe. Jy kan self jou eie kreatiewe idees byvoeg. Waar daar ʼn wil is, is daar ʼn weg en wanneer jy moeite doen, sal jy suksesvol wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.